Ons Franse kasteel: ʼn Kosbare nalatenskap aan ons kinders

Deur Sunita McDonald

ʼn Hartlike bonjour vanuit Frankryk! Ek hoop dat 2022 goed afgeskop het. Mag hierdie jaar baie vreugde en voorspoed inhou vir ieder en elk.

Ons het die nuwe jaar in die “nuwe” eetkamer verwelkom nadat ons dit inderhaas vir die feestyd voorberei het. Met die terracottavloer afgehandel en die kaggel ook net voor Kersfees uiteindelik in plek, was dit tyd om die vertrek meer leefbaar te maak. Ons het die oggend van 24 Desember nog geverf, ʼn Kersboom opgeslaan en meubels ingedra.

Die buffet wat ons aanvanklik daar gehad het, was te klein vir die vertrek en het verlore gelyk. Ten spyte van ʼn magdom take, soos geskenke toedraai en die Kersmaal voorberei, kon ek nie tot ruste kom totdat ons die buffet vir ʼn ander verruil het nie. Gelukkig is Kersfees ʼn tyd van liefde en vrede, so my man het ingestem om my te help om ʼn groter buffet van die kombuis na die eetkamer te dra. Die afstand is al steunend en kreunend met ʼn hele paar blaaskanse afgelê. Ek is dalk nie die beste spanmaat om vreeslike swaar antieke meubelstukke rond te dra nie, maar dit was die moeite werd. Die groter een het die ruim vertrek beter gevul en ek kon Oukersaand tevrede deurbring sonder dat my hande jeuk om meubels rond te skuif.

Daar is nog heelwat om in die eetkamer te doen, maar dit was goed genoeg sodat ons Kersfees, Oujaarsaand en selfs my man se verjaarsdag verlede maand daar kon vier. Dit benodig nog verfwerk, vloerlyste en dekorinspirasie, maar dit maak reeds ʼn groot verskil om gaste in die château te kan onthaal. Daar is Oujaarsaand selfs op die terracottateëls gedans.

Ek was egter nie klaar met swaar meubels nie en kort na daardie eerste rugbreeksessie het ʼn antieke buffet op Marketplace my oog gevang. My man het gelate aanvaar dat dit ʼn “absolute winskopie” is (dit was regtig!) en die ou buffet het sy nuwe tuiste in die château gevind. Ons het nie verder as die ingangsportaal gevorder nie en dis waar die swaar meubelstuk met sy uitgekerfde fleur de lys-simbole tydelik staan en pronk.

Intussen het die oorblywende terracottateëls ook ʼn tuiste in die cave (kelder) gevind. Ons is deur verskeie Fransmanne aanbeveel om die kelder se grondvloer te behou.

Blykbaar is dit die tradisionele vloer in Franse wynkelders en ons het ʼn paadjie met terracottateëls van die deur na die venster gelê, maar beide kante grond gelos. Die kelder sal egter nie net wyn huisves nie, maar ook ander voedsel soos ingelegde groente en vrugte, blatjang en konfyte. Ons het rakke teen een van die mure aangebring om al die flesse en bottels te kan stoor.

Die werk aan vloere het voortgegaan en ons het die eerste houtvloer met hardewaksolie behandel. Dit is ʼn proses en die hele familie het weereens ingespring om te help. Die vloer moet stofvry wees voor aanwending, so daar is verwoed gevee en gestofsuig, gevolg deur ʼn finale skoonmaak met ʼn klam lap. Daarna word die olie in drie verskillende lae aangewend. Ons het ten minste 12 ure se droogtyd toegelaat tussen elke laag, so elke vloer neem ʼn paar dae om klaar te kom. Die kinders het verfkwaste gegryp en was elke dag gretig om met die taak te help. Die olie beklemtoon die grein van die eikehout en verleen ʼn sagte glans; dit beskerm die hout en lyk meer natuurlik as vernis. Ons is baie in ons skik met die eindproduk.

In die badkamers het ons egter spesiale vernis op die vloere gebruik om dit meer waterbestand te maak. Die vernis is meer glansend as die olie, maar lyk goed op die donker houtplanke.

Die badkamers het steeds hul oorspronklike vloere, omdat die houtgoggas nie veel skade aan die noordekant van die château aangerig het nie en ons die houtvloere aan dié kant van die huis kon red. Na ʼn paar uitdagings tydens die badkamerinstallasie – soos die vloer wat ongelyk is, ʼn pootjiesbad wat te laag was en die elektrisiën wat met moeite deur die dik ou mure moes boor om kabels te lê – is die familiebadkamer ook eindelik amper klaar. Ek is versot op die ou balke wat ons onthul het en sien daarna uit om verdere dekor hier aan te bring.

Na ʼn paar aande se onthaal en vriende wat in die donker vertrek het, het ons besef dat ons lig buite benodig. Die elektrisiën het ʼn buitelig by die voordeur geïnstalleer terwyl hy hier was. Die elektriese installasie vorder stadig, want dit is nie iets wat ons gemaklik voel om self aan te pak nie. In hierdie deel van Frankryk is dit moeilik om professionele ambagsmanne te vind.

Ons elektrisiën is in konstante aanvraag en hy verrig take vir ons wanneer hy beskikbaar is. Hy is egter ʼn kenner op sy gebied en verseker dat alles aan die nodige reëls en regulasies voldoen, so ons wag maar geduldig. Stadig maar seker word meer en meer dele van die kasteel verlig en ons hoop om binnekort al die buiteligte in die tuin ook gedoen te kry.

ʼn Kunstenaar wat in antieke kuns en fresko’s spesialiseer, het onlangs by ons besoek afgelê om die hoofslaapkamer se fresko’s te bestudeer. Hy reken dit is in die 1700’s geverf, maar het foto’s geneem om dit verder met een van sy kollegas te bespreek. Hy gaan probeer om meer inligting oor die dorpie en geboue in die tonele te bekom. Hy het ook vir ons advies gegee vir die toekomstige bewaring van die fresko’s.

Ons rylaan se ingang het ʼn effense verandering ondergaan toe die mairie (munisipaliteit) aan die pad gewerk het. Die onlangse reënval en vloede het die pad wat na die château en die gholfbaan lei, beskadig. Hulle het nuwe gruis neergelê en nuwe vore vir die water gegrawe om te kan dreineer. Tydens die werk het hulle ʼn ou pluvial (ʼn voor om stormwater mee weg te lei) by die ruïne langs die kasteel ontdek. Honderde jare gelede het die vakmanne van ouds reeds voorsiening gemaak vir sommige probleme wat ons vandag probeer oplos.

Aan die begin van Februarie het ons ʼn “escape from the château” gehad, net om weer vir my verjaarsdag by ʼn kasteel op te eindig. Hierdie een was ouer as Château de Capelle en dateer uit die 13de eeu; baie indrukwekkend, maar onbewoond. Ek het met nuwe oë na die vakmanskap gekyk en my verwonder aan wat mense sonder moderne tegnologie vermag het.

Met ʼn beter begrip van al die harde werk wat in die bou van hierdie majestueuse geboue moes ingaan, staan ek in absolute verwondering en salueer die manne (en natuurlik die vroue) wat hierdie ou geboue tot stand gebring het – die vaardigheid, die vernuf, die kuns, die swoeg en sweet om iets na te laat wat baie generasies ná hulle steeds gebruik, benut en geniet.

In my hart is daar ʼn diepe dankbaarheid aan die onbekende bouers, vakmanne en kunstenaars wat aan Château de Capelle gewerk het oor amper 500 jaar. Ek voel onbevoeg om ooit hul skoene te kan volstaan, maar tog voel ek geroepe om die werk wat hulle begin het voort te sit en hierdie gebou die liefde en toewyding te gee soos ander voor ons reeds gedoen het.

Daar vind nie net ’n restourasieprojek plaas nie, daar word ook daagliks emosionele bande met die château gesmee. Die gevoel van spanwerk en tevredenheid met wat ons as ʼn gesin vermag het, is ʼn kosbare nalatenskap aan ons kinders. Dit motiveer ons om aan te hou skryf aan die kronieke van ons kasteel, om aan te hou werk vir die wat ook ná ons sal kom om die vrug van ons ywer te geniet.

Met liefde van Château de Capelle, tot volgende keer.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

FM ·

Baie dankie Maroela Media.

Hierdie briewe van Sunita uit Frankryk is ‘n fees.

Dis jammer dat ons kommentaar oor die feestyd gesluit was. Ek het jou vorige brief so geniet met al die mooi foto’s.

Daardie enorme werk wat net soveel entoesiasme en liefde gedoen word is dit werd. Dis ‘n nelatenskap nie net vir jul kinders nie. Elke persoon wat jul kasteel tot in die verre toekoms besoek sal baat vind.

Geniet jul werk en al daardie produkte wat sorgvuldig ingamaak en gepreserveer in daardie kelder sal pryk.

Dankie Sunita

FM ·

Baie dankie Maroela Media

Ek geniet hierdie reeks briewe van Sunita.

Nogal jammer dat die Desember brief in die tydperk wat ons nie toegang tot kommentaar het nie, verskyn het. Al daardie mooi foto’s!!!!!!!

Sunita, julle harde werk en liefde sal uiteindelik nie net vir jul nageslagte wees nie maar elke besoeker aan julle mooi kasteel. Dit is ‘n monument van toegewyde restourasie.

Julle sal daardie kelder met inmaak flesse en heerlike, gepreserveerde produkte geniet. Ek weet en verstaan dit.

chateaudecapelle ·

Baie dankie, ek waardeer die kommentaar! Ek hoop dat ons baie Suid-Afrikaners in die toekoms sal kan verwelkom by ons. Al so uitgehonger vir Afrikaanse geselskap ;)

Ek gaan eers daardie flesse moet volmaak! Sal dalk die Franse tannies op die dorp se hulp moet inroep – haha!

Dankie vir die saamlees en liefdegroete van ons.

Frank ·

Dink daardie Fransmanne kyk met verstomming na hierdie paar eks-Suid Afrikaners se werks-etiek, waarvoor ons so wereldwyd bekend is. En die verstommende resultate. Doe zo voort!!! Dis pragtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.