Ons Franse kasteel: ‘n Toevlug en veilige hawe

Deur Sunita McDonald

Die mis het laag oor die vallei gelê en uit die dieptes daarvan het ‘n lazaretto in 1563 aan die soom van Montréjeau verrys. ‘n Lazaretto is ‘n gebou wat tydens die plaagpandemie as kwarantynbasis gedien het. Die gebou word later omskep in ‘n kasteel en in die 1700’s word dit die tuiste vir Baron de Sauvan, ‘n prominente lid van die Franse adelstand.

Die plaag van Marseilles, die grieppandemie, wêreldoorloë en honderde jare gaan verby. Hierdie jaar word Château de Capelle egter weer die stille ooggetuie van ‘n wêreldwye pandemie. Ons gesin vind toevlug binne die château se mure en dit word ‘n veilige hawe waar ons in afsondering kan woon tydens die grendeltyd. Dit is weer eens ‘n plek waar mense van ‘n pandemie probeer ontsnap en so word die geskiedenis herhaal.

Die jaar 2020 was ‘n ongewone jaar, ‘n skrikkeljaar – maar ek dink bowenal ‘n skrikwekkende jaar vir baie mense. Ons kon ons nie indink wat voorlê toe ons daardie kontrak verlede jaar geteken het nie. Dit was ‘n buitengewoon moeilike jaar om dinge gedoen te kry en tog kyk ons ook terug op die vele seëninge wat dit gebring het.

Ons Facebook-groep, The Chronicles of Château de Capelle, is een van die seëninge wat ons daagliks tel. Die raad, motivering en gebede van byna 10 000 mense wêreldwyd wat ons restourasiereis volg, is vir ons so kosbaar. Dis een jaar sedert die stigting van die groep en ons het die eerste verjaarsdag met kleurvolle macarons gevier. Dit bly ‘n eg-Franse snoepery wat my soettand bevredig!

Selfs die temperature was buitengewoon dié jaar en ons het ‘n matige herfs in die suide van Frankryk beleef. Digte mis het die kasteel in ‘n vogtige jas toegewikkel in die oggende, maar dit was nie koud nie. Ek het foto’s geneem van die kasteel wat uit die mis verrys, maar selfs deur die mis het die voordeur, met sy tydelike spaanderbord, soos ‘n seer oog uitgestaan. Die oorspronklike voordeur wag om herstel te word, maar ek wou ‘n tydelike oplossing hê om my kritiese fotograafoog tevrede te stel en het besluit om die deur te verf. Terwyl ek met die taak besig was, het ek in ‘n warm Novemberson gebak wat ongehoord is vir hierdie tyd van die jaar.

Ek was dankbaar vir daardie son nadat ‘n paniekerige gil my na een van die buitekamers laat hardloop het. Die koue straal water wat my met my aankoms getref het, het my na my asem laat snak terwyl my seuntjie verbouereerd uitroep dat hy dit nie kan toedraai nie. Ons buitekraan se gebreekte pyp het water in alle rigtings gespuit terwyl ons soos nat rotte rondgeskarrel het om die toevoerkraan te probeer toedraai. Toe die water eindelik gestop is en die ergste paniek verby is, het ‘n druipnat figuurtjie erken dat hy die gieter aan die kraan gehaak het om dit vol water te maak en die pyp nie die toenemende gewig kon dra nie.

Ons kon darem droogbak in die son en ‘n vriend het spesiale grendeltyd-toestemming verkry om ‘n nooddiens te kom lewer. Hy het die kraan kom herstel en ons het dieselfde dag weer water in ons huis gehad. Twee dae later ontdek ek ‘n gevriesde laken wat ek buite op die wasgoedlyn vergeet het. Met die koms van die koue weer hoop ek dat daar geen verdere waterkaskenades sal wees nie!

Ons was nog nie heeltemal gereed vir die winter wat byna oornag aangebreek het nie! Die hout wat ons weke gelede in die woud bymekaar gemaak het, moes na die kasteel geneem word. Ons het ‘n paar waentjievragte aangery, opgekap en soos egte Europeërs die stompe opgestapel. Die kinders was entoesiasties om te help, want die ritte op die vierwielmotorfiets en die waentjie wat die hout vervoer, is vet pret. Ons geniet nou elke aand ‘n warm kaggelvuur. Dit is ons eerste winter hier en ek wonder of die hout genoeg sal wees vir die hele seisoen, maar tyd sal wel leer.

Die sneeu kruip al nader en die bergpieke rondom ons lyk of dit met fyn strooisuiker bestrooi is. ‘n Franse vriend wat die takke van ‘n denneboom vir ons kom wegry het, voorspel dat die sneeu voor Kersfees sal kom. Hy het die takke op ‘n sleepwa, wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer, gelaai en aan die kinders verduidelik hoe die verduisteringsligte van die sleepwa werk en waarvoor dit gebruik was. My oudste seuntjie het hierdie brokkie inligting baie interessant gevind. Hierdie area is vol geskiedenis en mens kom dit om elke hoek en draai teë.

Die dag voor hierdie skrywe het ek juis saam met my kinders in Saint-Bertrand-de-Comminges gaan stap. Dis ‘n dorpie sowat agt kilometer van ons af met die eertydse naam Lugdunum Convenarum en is in 72 v.C. deur die Romeinse generaal Pompey gevind. Die katedraal toring die hemel in en is ‘n prominente baken in die landskap. ‘n Mens kan dae verloor as jy jou eers verdiep in die historiese gebeure wat hier plaasgevind het.

Die geskiedenis van ‘n Koning se geboorte is egter ons fokus die afgelope twee weke en ons het begin om Château de Capelle te versier ter voorbereiding van Kersfees. Vir die eerste keer in bykans 30 jaar is daar ‘n Kersboom, liggies en opgewonde kinders in die hart van hierdie gebou. Sy het jare gewag vir die sprankel van hierdie seisoen en op iemand om haar te kom red.

Die wêreld het ook lank gewag vir ‘n Redder. Ten spyte van die gebeure van hierdie jaar en waarmee ons 2020 vereenselwig, het iets spesiaal 2 020 jaar gelede gebeur.

‘n Gebeurtenis so groot dat mense oor die hele wêreld steeds die verloop van tyd bepaal as voor Christus (v.C.) of ná Christus (n.C.). Ons sien uit om ons eerste viering van Jesus se geboorte in ons nuwe tuiste te ervaar.

Ek hoop dat hierdie seisoen ‘n spesiale tyd vir elkeen sal wees en dat dit gevul sal wees met liefde, geluk, vrede en hoop vir die toekoms. As ons weer gesels, sal ons reeds halfpad deur die eerste maand van 2021 wees. Mag dit ‘n jaar vol wonderlike geleenthede, samesyn met geliefdes en goeie gesondheid wees.

Dankie aan Maroela Media en elke leser wat ons hierdie jaar aangemoedig het! Ons waardeer elkeen van julle.

Joyeux Noel et bonne année! (Geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar!)

Lees alle vorige rubrieke hier. 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

chateaudecapelle ·

Baie dankie en Geseënde Kerfees aan julle ook :)

chateaudecapelle ·

Baie dankie en Geseënde Kersfees aan julle ook x

Elsabe ·

Inderdaad ‘n uitsonderlike jaar. Ons het ook ‘n ‘langverwagte’ Bethlehem Ster hierdie jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.