Ons Franse kasteel: Oomblikke van heimwee  

Deur Sunita McDonald

“Bonjour à tous” is ʼn groet uit ʼn verre land. Soveel mense droom van die onbekende, om te reis en ander lande te ervaar, maar soms hunker ʼn mens ook na iets wat bekend en geliefd is.

Een middag, tydens ʼn rit na die plaaslike herwinningsmaatskappy, het die groen mielielande en blou berge my aan my vaderland herinner. In ʼn oomblik van heimwee daardie aand het ek die kasteel se vensters wyd oopgegooi. Die klanke van Suid-Afrika se talentvolle Afrikaanse sangers het oor Lac de Montrejeau gerol tot daar waar die kranse antwoord gegee het. Hierdie keer was dit egter nie die Soutpans-, Water-, Magalies- of Tafelberg nie. Hierdie keer was dit die blou kranse van die Pireneë wat terug geëggo het na my hart.

Aan die voet van hierdie majestueuse berge in die suide van Frankryk nestel die ou kasteel wat baie van ons tyd en aandag in beslag neem. Daar is dus nie dikwels kans om nostalgies te raak nie. Château de Capelle is byna elke dag ʼn miernes van bedrywighede met tuisskoolaktiwiteite, restourasieprosesse, skryfwerk, wasgoed en al die ander take wat ʼn gesin gewoonlik besig hou. Iemand het my onlangs gevra hoe ʼn tipiese dag hier verloop. Die antwoord is dat elke dag anders is en sy eie uitdagings en verrassings inhou.

Dit was juis ʼn verrassing in ons posbus die volgende oggend wat my verlange gestil het. ʼn Mede-Suid-Afrikaner het vir my ʼn boek gestuur oor Franse dekor, met ʼn kaartjie in my eie soet taal. Dit was perfekte tydsberekening, ʼn pragtige gebaar en het opnuut my geesdrif vir ons uitdaging in ʼn vreemde land aangevuur. Dis hartsverblydend om te weet iemand ondersteun jou en bid vir jou van ver af.

Die verrassings vir die week was egter nie verby nie. Die kasteel het verdere skatte onthul – ons het twee sleutels, ʼn ou glasbottel en ʼn muntstuk ontdek.

My seuns sal gou wees om te vra hoeveel onse in my pond is, want dit is eintlik die kinders wat die skattejagters is. My agtjarige wil nou kwansuis ʼn metaalverklikker vir Kersfees hê! Ek wag met ingehoue asem dat hulle die skatkis vind wat een van daardie sleutels veronderstel is om oop te sluit. Ek bou lekker lugkastele terwyl ons werk en bou aan die ware Jakob.

Die klein sleuteltjie was in ʼn holte van die keldermuur weggesteek. ʼn Besoeker aan die kasteel het voorgestel dat ons ʼn metaalverklikker oor die keldervloer swiep, in geval daar wel iets onder die grond skuil. Ons sal daaroor nadink – op die oomblik is daar beslis genoeg om ons besig te hou.

Die tweede sleutel het ons in die tuin gevind en dit is massief! Dit is duidelik dat metaalverklikkers nie nodig sou wees om verlore sleutels in daardie jare te vind nie. Dis soos om die olifant in die kamer te vind!

ʼn Bottelversamelaar skat dat die nuutgevonde bottel (dit was leeg hierdie keer) ongeveer 150 jaar oud is. Die interessantste ontdekking vir my is egter die Napoleon-muntstuk wat van 1855 dateer. My sesjarige het dit tussen twee vloerplanke ontdek en was hoogs in sy skik met sy vonds. Dit gaan ʼn spesiale plekkie in die ingangsportaal kry. Die versameling vir die “skatte-galery” wat ons beplan groei aan en gaan verseker tot vele interessante staaltjies lei.

Die werk aan die ingangsportaal duur voort. Ons het die klipwerk herstel en ingevul rondom ʼn deurraam.

Tydens ons soektog vir geskikte klip het ons ʼn vierkantige klip in die tuin gevind en besluit om dit as ʼn fokuspunt in die muur te gebruik. Die klip was verskriklik swaar en ons het dit met moeite in posisie gekry. Groot was ons verbasing nadat ons dit skoongemaak het en besef het dat dit eintlik ʼn groot blok marmer is.

Die aangrensende gholfbaan was ʼn hawe in die 17de eeu. Marmer is hier op skuite gelaai en na Parys en Versailles vervoer op die Garonne-rivier. Met hierdie interessante geskiedenis op ons drumpel, wie weet wat ons nog uit die tuin sal opdiep?

Die 14de Julie was ʼn openbare vakansiedag, “Fête nationale”, algemeen bekend as Bastilledag, en ek en die kinders het in ons dorpie gaan rondloop. Frankryk onthou die dag in 1789 toe die Bastille (ʼn gevangenis in Parys) deur die werkersklas bestorm is en dus die Franse Revolusie begin het. Die patriotiese fees is vir die eerste keer op 14 Julie 1790 gevier om die eenheid van Frankryk te benadruk.

Hierdie jaar was dit spesiaal om rond te loop in ons dorpie waar een van die laaste gevegte van die Revolusie plaasgevind het. Met navorsing oor Château de Capelle het ons uitgevind dat ons kasteel blykbaar aan Pierre-Phillipe-August-Antoine de Sauvan D’Aramon behoort het. Hy was ʼn persoonlike lyfwag van koning Louis XVI (die laaste koning van Frankryk). Baie van die ou briewe wat in die huis ontdek is, is kort voor die Franse Revolusie deur baron Sauvan geskryf. Ons is steeds besig met die vertaling van al die briewe en verdere navorsing, maar die huis en tuin is tans hoër op die prioriteitslys.

Die tuin het ook weer verlede week aandag geniet en die groot denneboom naby die buitegeboue kan weer asemhaal! Ons het hope braambosse, brandnetels en onkruid verwyder. ʼn Poskaart van 1903 wys die kasteel met die einste ou den as ʼn jong boom, so ons vermoed dat die boom al vir 150 tot 200 jaar die gebeure by die kasteel gade slaan. Dis ʼn prominente baken in die tuin en ek wens so dat die ou reus stories kon vertel!

Ons sê in Afrikaans dat as ʼn mens hard werk, jy die vrugte daarvan sal pluk. In hierdie stadium werk ons elke dag hard en het letterlik vrugte gepluk!

Tussen die groot eike aan weerskante van die rylaan is kleiner bome wat nou swaar dra aan honderde “mirabelles” of pruime! Ek en die kinders het vroeër die week die bome ingevaar, gewapen met ʼn leer en ʼn paar mandjies. Teen die tyd van hierdie publikasie eet ons hopelik al lekker aan die soet konfyt wat ons beplan om te kook!

Ek hoop dat ons die vrug van ons ywer aan die einde van hierdie restourasiereis sal pluk en dat dit ook ʼn suikersoet nasmaak sal laat. Intussen geniet ons die vrede van die Franse platteland, ervaar vreugde in ons werk en wandel, beoefen geduld met die proses en groei in liefde vir die ou château en al die nuwe mense wat ons pad kruis.

Mag die vrug van die Gees jou ook daagliks voed in jou doen en late. Mag dit sielskos wees wanneer jou hart honger na die omhelsing van ʼn vriend of familielid in hierdie tyd wat so baie van ons nie by geliefdes kan uitkom nie.

Met liefde uit ʼn verre land tot volgende keer.

  • Die rubriek het oorspronklik in die tydskrif rooirose en op hul webwerf verskyn en word nou op Maroela Media voortgesit. – RED

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae