Ons Franse kasteel: Puin, verwoesting bring ook belofte van iets mooi

Deur Sunita McDonald

Bonjour ! Die son skyn, die voëls sing vrolik in die eeue-oue eike en my oë dwaal telkens na die berge om die blou skakerings van die Pireneë te bewonder – ek is terug by Château de Capelle.

My tyd in Engeland was langer as wat ek aanvanklik beplan het. Dit was goed om vriende te sien en ʼn klomp noodsaaklike administrasie af te handel, maar ek is bly om weer by die huis te wees. Oos, wes, tuis bes, soos hulle sê. Ek en Andrew werk gewoonlik as ʼn span saam, maar vir ses weke het ons albei op ons eie aan weerskante van die Engelse kanaal gewerskaf. Ek het geverf, ʼn plafon reggemaak, ʼn stortdeur herstel, gras gesny, ses meter hoë Leyland sipresheinings gesnoei en nog ʼn magdom ander take verrig met drie kinders op sleeptou.

In die verlede sou ek op bouers en tuiniers se hulp staatgemaak het, maar met die Covid-agterstand is baie van die werksmense vir maande vooruit bespreek. Wanneer die kalf in die put is, dan maak ʼn boer ʼn plan en ek skrik nie meer vir nutswerk nie. Die restourasie in Frankryk het aan my nuwe selfvertroue besorg. Ek glo dat ʼn mens enigiets kan aanpak, selfs daardie take wat jy altyd geglo het buite jou vermoë is. Die eindproduk mag dalk nie so netjies soos dié van ʼn professionele persoon sʼn wees nie, maar die tevredenheid is ongeëwenaard.

Terwyl ek in Engeland was, het ek daagliks nuus van die château gekry. Dit was uiters teleurstellend toe die langverwagte vensters uiteindelik afgelewer word en 19 uit die 26 te groot was. In ʼn moderne huis is dit dalk nie ʼn probleem om ʼn paar sentimenter se verskil hier en daar te oorkom nie. In mure wat meer as 60 cm dik is en met groot klippe gebou is, raak dit egter ʼn tydrowende en bykans onmoontlike taak om ʼn paar sentimeter weg te beitel. Aangesien ons ses weke vir hierdie aflewering gewag het, was dit ʼn groot terugslag.

Twee dae later het Andrew ʼn waterlek in een van die nuwe badkamers ontdek toe hy vieruur die oggend die hond uitgevat het. Op die video wat hy aan my gestuur het, het die massas water baie erg gelyk. Die pypkoppeling vir inkomende water na die toilet toe het onder die waterdruk meegegee. Die water het baie vinnig die hele badkamer vol gespuit en deur die houtvloer na die plafon van die onderste vertrek gedrup. Die rusbanke in daardie vertrek was sopnat en die plafon het plek-plek meegegee; genoeg om enigiemand hul gereedskapstassie te laat pak en die hasepad te laat kies.

Ons is egter van ander stoffasie aanmekaar gesit en terugslae breek ons nie. Inteendeel, dit laat ons harder werk en weer probeer. Ons is op die oomblik met groot projekte besig en Andrew bespreek van die huidige projekte en die uitdagings wat ons in die gesig staar op ons YouTube kanaal. Ons weet dinge verloop nie altyd seepglad nie, maar ons leuse in die lewe is: alles gebeur met ʼn doel.

Daar was dan ook geluk by die ongeluk. Ons het die aangepaste afmetings weer aan die venstermaatskappy gestuur en hulle het ingewillig om die vensters vir ander om te ruil, maar ons moes ʼn verdere vier weke wag. Die nuwe afmetings het ons egter op die ou end ʼn redelike bedrag geld gespaar. Met ʼn restourasieprojek soos hierdie tel elke sent en ons is dankbaar dat alles ten goede meegewerk het. Wanneer dinge skeefloop, klou ons altyd aan die belofte van Romeine 8:28 vas en weereens is daardie belofte vervul.

Die waterskade in die badkamer was minimaal. Die plek het heel moontlik net ʼn goeie stort nodig gehad! Alles het goed uitgedroog, die ou plafon was in elk geval op die lysie om herstel te word en die loodgieter het die koppeling met ʼn sterker een vervang. Dit was glad nie so ernstig soos wat dit in die vroeë oggendure gelyk het nie en ons is uiters dankbaar daarvoor (die loodgieter ook!).

Tussen Andrew en die bouers het daar in my afwesigheid ʼn hele paar veranderinge by die château plaasgevind. Een van die beste veranderinge is ʼn houtdek wat Andrew geheimgehou het. Ek het lankal geskimp om ʼn dek in ʼn deel van die tuin te bou sodat ons ʼn gesellige kuierplek met ʼn uitsig oor die berge, rivier en gholfbaan kan hê. Ek was dus heel in my skik met die aangename verrassing by my tuiskoms. Dit is nou een van my gunstelingplekke in die tuin.

Intussen het ons die sukses van kleiner projekte gevier. Die ingang na die woonstel het ʼn nuwe trap gekry in dieselfde vorm as die marmertrappe wat na die kasteel se voordeur lei. Die ingangsportaal is ook uiteindelik geteël nadat ons vir meer as ʼn jaar met ʼn rou sementvloer geleef het.

Ons is ook besig om die formele eetkamer in die château se vloer te vervang. Die ou houtplanke was weens waterskade voor 2015, toe die château se dak nog gelek het, heeltemal verrinneweer. Ons het besluit om van die oorspronklike materiaal van die kasteel vir die vloer te gebruik om karakter te behou. Dit het egter heelwat voorbereiding geneem en ons het ongeveer vyf ton melange (wat ʼn mengsel van sand en fyn klippies is) in die fondament gestort. As dinge volgens plan verloop, behoort ek teen volgende maand ʼn foto van die eindproduk te hê.

In die buitegeboue het ons ʼn eens onbegaanbare tweede verdieping se vloer vervang. Dit het verbrokkel en gevolglik was dit te gevaarlik om die boonste vlak te betree. Verlede maand het Andrew en ʼn vriend die vervalle houtvloer verwyder, ʼn paar nuwe balke en ʼn nuwe houtvloer ingesit en voila! Die vertrek kan nou met ʼn nuwe stel trappe bereik word en is uiteindelik bruikbaar.

Hulle het ook ʼn paar interessante ontdekkings tussen die stof en puin gemaak en ons word steeds met klein skatte uit die verlede geseën. Agter ʼn ou vensterraam het ons ʼn muntstuk met die Latynse woorde Sit nomen domini benedictum ontdek, wat vertaal word na “Geseënd is die Naam van God”. Die datum op die muntstuk is 1766 en ons het sedertdien verneem dat dit ʼn une monnaie Royal française, oftewel ʼn Franse koninklike muntstuk is; weereens ʼn tasbare bewys van lede van die adelstand wat eens hier gewoon het.

Ons het ook uitgevind dat die pragtige skildery teen die muur van die hoofslaapkamer ʼn afdruk is van die kunstenaar Jean-Michel Picart se Bouquet de Fleurs et Perroquet.

Picart was ʼn 17de eeuse kunstenaar aan die koninklike hof van koning Louis XIV. Lede van ons Facebook-groep het navorsing gedoen en met interessante feite oor dié kunswerk vorendag gekom. Ons weet nie presies wanneer dit geskilder is nie, maar die kleurvolle skildery is een van my gunstelingskatte van die kasteel.

Dit was ʼn moeilike paar weke. Behalwe vir die terugslae wat ons by die château ervaar het, het die Covid-gevalle in Engeland en Frankryk weer begin styg. Ons het ook met afgryse die onlangse verwoestende gebeure in Suid-Afrika gevolg en was bekommerd oor familie en geliefdes.

Soos die woorde op ons ou muntstuk, sien ons baie video’s op sosiale media van Suid-Afrikaners wat ten spyte van die verwoesting sê: “Geseënd is die Naam van God.” Daardie kunswerk in die château met sy verskillende kleure herinner my aan ʼn reënboog (ʼn teken van belofte) en dat die “reënboognasie” een van die wonderlikste skatte in ons wêreld is.

(Foto: Les Clik de Maé)

Ons is ʼn nasie wat herstel, wat hoop en wat nooit opgee nie. So, ons bou voort in ons hoekie van ons wêreld, want dit is wie ons is. Een ding wat hierdie restourasieproses my geleer het, is dat daar altyd iets mooi uit puin en verwoesting gebore kan word. Dit is die belofte wat ek elke dag om my sien en dit is die belofte waaraan ek ook vir Suid-Afrika vashou.

Jusqu’à la prochaine fois. Tot volgende keer! Met liefde uit Frankryk.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
loddertjie

Baie interessant!

FM

Dis vir my beslis een van die beste Maroela Media artikels en volg dit met daardie heerlike tone omkrul. Sien met verwagting uit na haar volgende brief

Ysgodin

Weereens baie dankie vir die pragtige artikel – die muntstuk deel was die cherry op die koek!

Phillip

Lyk baie goed en dit klink baie nice.