Ons Franse kasteel: Tyd los sy merk

Deur Sunita McDonald

Bonjour vanaf Château de Capelle. Die eerste maand van die jaar voel of dit in ‘n oogwink verby gevlieg het. Vader Tyd staan ook nooit stil nie en ons hardloop rond om nuwe projekte te voltooi voor ‘n selfopgelegde sperdatum.

Ons is besig met verskeie take om die hoofdeel van die kasteel meer bewoonbaar te maak en hoop om teen einde Maart in die oostelike vleuel te kan intrek. Die afgelope vier weke was baie besig en ons het merendeels op elektrisiteit, waterpype, vensters en verwarming gefokus. Sodra dit alles aan die oostekant van die kasteel in werking is, sal die woonstel aan die westekant, waar ons nou bly, vir gaste ingerig word. Ons hoop van harte dat my ouers binnekort kan kom kuier en, as dit die Here se wil is, dat my pa dalk selfs sy mylpaalverjaarsdag in Frankryk kan vier.

Die kasteel het reeds twee verjaarsdagvieringe aanskou hierdie jaar. In Januarie het ons my man se verjaarsdag gevier en vroeg in Februarie het ek ook ’n nuwe kerfie op die ouderdomstok gemaak. Spesiale dag of nie, daar is steeds vloere geskuur, geverf en skoongemaak, maar met soete beloning: Château de Capelle se jong bobaaskokke het ‘n heerlike koek gebak en ons het ná al die harde werk daaraan gesmul.

Op my verjaarsdag is ek met ‘n onverwagte geskenk geseën: die son het vrolik geskyn en die temperatuur was 19 °C, wat ongehoord is vir hierdie tyd van die jaar. Dit was wonderlik dat ons in die tuin kon sit en koek eet saam met vriende in die Franse son. My man het my dié aand getrakteer op massiewe entrecôte-biefstukke. Ons koop nie dikwels rooivleis nie, dus was dit ‘n groot bederf.

In 2005 tydens ons eerste vakansie as ‘n paartjie in Frankryk, het ons entrecôtes bestel by ‘n Franse restaurant. My man het byna ‘n oorval gekry toe dit met ‘n klont knoffelbotter arriveer wat vinnig besig was om oor die warm vleis te smelt. Hy hou niks van knoffel nie en het soos ‘n ywerige hen die botter probeer afskrop, maar helaas, dit was te laat. Hy het mompelend sy misnoeë te kenne gegee oor die Franse wat “perfekte goeie vleis met knoffel vernietig”. Die herinnering aan daardie aand het my weer laat giggel. Die man woon nou in Frankryk, eet steeds nie knoffel nie en het ambisies om die Franse te oortuig dat cuisine moontlik is sonder hierdie gewilde bestanddeel.

Sy kookkuns beïndruk wel die Franse. Ons het ‘n paar chauffagiste-ingenieurs verlede week ontmoet om planne vir ‘n verwarmingstelsel te bespreek. Elke persoon wat ons drumpel betree, word koffie of tee aangebied, maar een van die ingenieurs het selfs ‘n glas wyn geniet. Dit was vroegaand teen die tyd dat hy sy inspeksie van die huis voltooi het en ek het peuselhappies saam met die wyn bedien.

Die besprekings in gebroke Frans (baie nuwe woorde wanneer jy met ’n ingenieur praat) het langer geneem as wat ons verwag het. Die kinders het honger geword en bloot ‘n ekstra plek vir die gas gedek. Die chauffagiste het toe maar vir aandete gebly en Andrew se nuutste gereg (sans knoffel) probeer. Hy kon agterna nie uitgepraat raak oor die maaltyd en gasvryheid nie en is gretig om Suid-Afrika te besoek.

Die ou houtvloere het verdere aandag gekry en ons het dit met ‘n industriële skuurmasjien geskuur om die vloere gelyk te maak. Ons moes die hoeke met die hand skuur en die kinders het entoesiasties aan hierdie taak meegedoen en later ook gehelp om die vloer te vernis.

Ons was in ons skik met die eindproduk en kon nie help om te wonder oor die baie voete wat deur die eeue hier geloop en gedans het nie. My man het my toe aan die hand gevat en ons het die gerestoureerde vloer met ‘n wals ingewy. Selfs die son het oor die vloerplanke kom dans en ek het die ligspore op ‘n foto vasgevang.

Ons maak ook goeie vordering met die vertrekke aan die anderkant van die gang. Behalwe vir ‘n slaapkamer, was daar voorheen niks nie en ons het ‘n lang, nou vertrek in ‘n badkamer en ‘n inloopkas verdeel. Ons het die stort laat bou, maar die bad en wasbak is gekoop omdat dit maklik beskikbaar was en ons op die oomblik teen tyd werk.

Ongelukkig is die badkamer se meubels nie so antiek soos wat ek sou verkies nie, maar ek hoop om dit met ‘n paar ou toebehore by die kasteel se ouderdom te laat inpas. Ek het ‘n antieke spieël, handdoekreling en kandelaar vir die badkamer by ‘n brocante (vlooimark) gevind. Ek sal meer tyd hê om later rond te snuffel vir oudtydse baddens en wasbakke vir die kasteel se sewe ander badkamers.

Ons is almal opgewonde om binnekort lopende water in hierdie deel van die kasteel te kan hê. Die hoofwaterpyp kom op die oomblik by die kombuis in en ons wil nie die pragtige mure met pype bederf nie. Ons beplan dus om dit te herlei na die toring, sodat pype aan die binnekant van die toring kan opgaan na die badkamers op verskillende vloere. Ons moes ‘n sloot grawe vir die nuwe pyp en my man en die seuns het ywerig aan die werk gespring. Belle (ons babahondjie) het ook haar neus in die sloot kom druk en hulp aangebied. Sy was egter teleurgesteld dat hulle nie ‘n enkele been opgegrawe het nie en was vas oortuig dat haar tweebeen-familielede op die verkeerde plek grawe.

Dele van die ou mure is gepleister met die plan om dit te verf, maar soos ons besig was, het ek al hoe meer verlief geraak op die verweerde patina-effek op die mure. Ek wil graag sommige van die oorspronklike mure behou soos dit is, want ek voel dit vang die karakter van die huis vas. Ek weet party mense betaal duisende rande om hierdie effek na te boots en hier het ons die ware Jakob. Ons huis het honderde jare geneem om die ongewone prag op te bou en dit laat my aan die kraaispore langs ‘n ou mens se oë dink – die bewysstuk van baie lewenservaringe.

Dis soms moeilik om prakties te wees en terselfdertyd die karakter te behou, tog dink ek ons vind ‘n goeie balans. Ons streef nie na perfeksie nie. Die duike, merke, gate en ander onvolmaakthede toon die siel van hierdie gebou en ons het ons harte op ons kasteel verloor net soos sy was.

Tyd los sy merk, maar dikwels vertel dit die mooiste storie. In hierdie geval, die storie van ‘n kasteel en die mense wat haar deur die eeue liefgehad het. Die storie duur voort…

Met liefde uit Frankryk tot volgende keer.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantel

Oee, dit lyk asemrowend daar, sterkte met die herbou en opknapping. Wees as so gaaf MM en hou ons op hoogte van hulle vordering.

Ysgodin

Ek sien altyd so uit na julle plasings – baie dankie, dis ‘n bietjie soos ‘n regte sprokie!

Spekkies

Ongelooflik. Dankie vir die deel.