Ons Franse kasteel: Versteekte skatte, goedheid en guns

Deur Sunita McDonald

Die somer het in volle glorie aangebreek in Frankryk en ons geniet hierdie week temperature van tussen 28 ˚C en 33 ˚C. Ons aandag word op die oomblik effens afgelei deur die lekker weer, ’n kleurvolle buitelugmark elke Maandagoggend en die helder bergwater in die meer.

Daar is egter steeds daaglikse vordering met die restourasie en Château de Capelle onthul ook meer van haar versteekte skatte aan ons. Ons het reeds ou briewe, ’n dagboek en ’n paar muntstukke van 1939 ontdek met ons gewoel en gewerskaf in die huis. Verlede week het ons ’n pragtige stuk materiaal (ons vermoed dit was ’n tafeldoek) in die bodem van ’n geheime kas gevind. Dit wag nou om skoongemaak te word saam met die verslete, leeumotief-muurbehangsel wat ons verlede week van een van die mure verwyder het. Ek wil uiteindelik al die skatte wat die huis oplewer, in die voorportaal ten toon stel en elkeen se storie neerskryf en raam.

Die nuutste vonds is egter uit die grond opgegrawe. Met die span van die draadheining het iets tussen die grond, klippe en bosse ons oog gevang. By nadere inspeksie en bietjie meer grawe is ’n vuil, ou verseëlde bottel likeur in die grond onthul. My man was ewe entoesiasties om ’n tongtippietoets te doen, maar ek het my bedenkinge gehad en ’n stokkie daarvoor gesteek. Wie weet hoe lank daardie bottel al daar begrawe lê en hoe sterk daardie likeur kan skop? Daar is nog maande se werk aan die huis wat voorlê en ek heg heeltemal te veel waarde aan my man se lewe om enige kanse te waag!

’n Vinnige soektog op Google van die naam wat in die glas gegraveer is, het bevestig dat die maatskappy steeds likeur vervaardig. Die foto’s van die moderne bottels het ietwat anders gelyk as die een wat ons ontdek het en ek het ’n e-pos met ’n paar foto’s van ons vonds aan die maatskappy gestuur. ’n Paar dae later het ek ’n antwoord ontvang waarin hulle sê hoe gelukkig ons is om die “stuk geskiedenis” te kon opgrawe. Blykbaar sou die etiket vir hulle die meeste inligting kon verskaf oor wanneer die bottel vervaardig is, maar dit het ongelukkig oor die jare afgewas. Hulle kon dus nie die presiese datum vasstel nie, maar het my ligtelik verseker dat dit nie vroeër as 1841 gemaak is nie! Daar is dus ’n goeie kans dat dit die oudste bottel is wat ek al ooit besit het. My man sal maar ’n bottel van die nuwe likeur moet kry om sy proeseltjie te maak – hierdie een bly geseël!

Die nuwe heining was nie die enigste werk aan die tuin verlede week nie. Ons het onverwagte hulp ontvang in die vorm van die twee bejaarde egpare wat ons vroeër die jaar tydens grendeltyd ontmoet het. Hulle het oudergewoonte kom hallo sê verlede Saterdag en was baie simpatiek toe hulle hoor van ons gesteelde grassnoeier.

’n Paar dae later daag die twee omies vroeg een oggend met hul eie gereedskap op en begin ons gras sny. My protes het op dowe ore (dalk letterlik) geval en hulle het doodluiters aangegaan met die groot taak. Ek was so geraak deur hul behulpsaamheid en goedheid teenoor hul medemens… Hulle was vier uur lank besig en later daardie middag het die een tannie ’n draai kom maak om seker te maak dat “die mans ’n ordentlike werk gedoen het”, soos sy dit in Frans verwoord het. Hulle het vir seker – die oerwoud was weer ’n tuin!

Met die klipmure in die huis as my inspirasie het ek besluit om die netjiese gras te komplementeer deur die draaisirkel voor die kasteel met klippe te omraam. Daar is genoeg klippe in die tuin om ’n groot trop volstruise te help met hul spysvertering! Ek het klippe uit die verste hoeke van die tuin gaan haal en aangedra na die rylaan om my steensirkel te bou. My armspiere en rug het daardie aand gemor, maar ek was heel tevrede met die eindproduk van my handewerk.

Die volgende dag se werk het weer verskuif na binnenshuis met muurpapier wat verwyder moes word. Ek het aangeneem dit gaan ’n maklike en vinnige taak wees om die mure in die woonkamer van die verslete muurpapier te bevry, maar het my deeglik misgis. Plek-plek het die muurpapier erg teëgestribbel oor die egskeiding tussen muur en papier ná bykans dertig jaar se “een-wees” en die gom het geklou! Dit het herhaaldelike deurweek- en skraapsessies geneem om alles skoon te kry.

Agter die muurpapier en pleister is ’n gedeelte waar die klippe swart is, asof dit gebrand het. Ek het hierdie klippe met growwe skuurpapier bygedam om soveel as moontlik van die swart af te skuur. Ek het soos Dick van Dyke in Mary Poppins gelyk teen die tyd wat ek klaar was. Tussen die klippe is toe lymkalk gesmeer en moes steeds met verseëlaar afgerond word om die mure te beskerm.

Die leerklimoefeninge was goed vir my pain au chocolat– en baguette-gepantserde agterstewe! Ek en die lekker Franse gebak het ’n hegte vriendskap ontwikkel die afgelope ruk en ek hoop maar my heupe verdra dit net so goed soos ’n vietse Franse vrou s’n! Die skraap en skuur aktiwiteite was ’n tydsame proses, maar die vertrek is goed op pad om die eerste een in die hoofhuis te word wat by die kasteel pas – van as na adel!

AG Visser het ’n gedig geskryf wat die proses van harde werk beskryf en in die tweede strofe sê hy: “Sy brose hande mag vergaan: sy handewerk sal voortbestaan”. Die titel van hierdie gedig is “Geluk”.

Ons kyk terug op die eerste ses maande van hierdie jaar en voel gelukkig: met ons handewerk, met al die seëninge en goeie oomblikke. Die voortbestaan van die werk aan Château de Capelle oor die eeue dien as daaglikse motivering en ons besef ons bou ook aan die nalatenskap van hierdie historiese gebou.

Ons is reeds halfpad met 2020 en dit was sover ’n moeilike jaar vir baie mense. Ek hoop jou hand vind ook iets om te doen en dat geluk, goedheid en guns jou volg die res van die jaar en al die dae van jou lewe.

Met liefde uit Frankryk, tot volgende keer!

  • Die rubriek het oorspronklik in die tydskrif Rooi Rose en op hul webwerf verskyn en word nou op Maroela Media voortgesit. – RED

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae