Foto’s: Ons lewe in ʼn Franse kasteel

Deur Sunita McDonald

Andrew, Sunita en hul drie kinders (drie, ses en agt jaar oud).

Château de Capelle… ʼn versteekte juweel wat tussen 20 en 30 jaar onbewoond in die suide van Frankryk gesluimer het. In ons soektog na ʼn nuwe woning het ons haar egter ontdek en nou het die ou gebou weer begin ontwaak. Ons wens om die kasteel weer tot haar volle glorie te herstel en dit gaan gepaard met harde werk, deursettingsvermoë en morele ondersteuning van die lesers wat ons aanmoedig en advies gee.

Ons het oor ‘n tydperk van 18 maande 41 eiendomme in Frankryk besigtig. Met ʼn tweede besoek gedurende Mei 2019 het die eerste eiendom wat ons gesien het, ons harte gesteel. Dit was ʼn kasteel uit die 16de eeu met groot vertrekke, hoë plafonne, baie karakter en met die perfekte ligging.

Daar was egter geen dreinering of hittestelsel nie, geen elektrisiteit of water nie en in my opinie was dit te veel van ’n wrak, dus het ons aanhou soek. Ná 25 ander eiendomme was dit egter steeds die “wrak” wat in ons gedagtes vasgesteek het. Ses weke later het my man teruggevlieg vir ’n tweede besigtiging. ’n Argitek en ander boukundiges het die kasteel besoek en bevestig dat die struktuur en dak in ’n goeie toestand is. Vir my man was dit musiek in sy ore!

Ten spyte van die positiewe terugvoer, kon ek nie dadelik in my man se geesdrif deel nie. Daar was waterskade aan plafonne, gate in die houtvloere, nie een werkende toilet nie en genoeg spinnerakke om die groot planeet Jupiter in toe te wikkel.

Ons taalvermoë was boonop beperk tot “Bonjour” en hoe om ʼn omelet en koffie in Frans te bestel. Dit sou eenvoudig nie genoeg wees om so ’n enorme restourasieproses in ʼn vreemde land aan te pak nie. Duidelik was dit ʼn projek wat Job se geduld en Noag se bouvaardigheid sou verg…

My man hou egter van ’n uitdaging en sy entoesiasme was aansteeklik. Ná baie beplanning, begrotings, afmetings en skietgebedjies vir leiding en wysheid, maak ons toe ’n aanbod en dit word aanvaar. In Oktober 2019 word ons toe die amptelike eienaars van Château de Capelle.

Sedert die koop ses maande gelede het baie dinge reeds verander: die kasteel het nou elektrisiteit, ons het ʼn fosse septique (septiese tenk) geïnstalleer, daar is water en daar is ook ʼn gerieflike eenslaapkamerwoonstel ingerig in een van die buitegeboue. Dit is hier waar ons gesin tans woon terwyl die werk aan die hoofhuis voortduur. Ons beplan om soveel as moontlik van die oorspronklike uitleg en karakter te behou en selfs in die buitegebouwoonstel het ons die ou klipmure onthul en die dakbalke sigbaar gelaat.

Aanvanklik het ons met ʼn leer by die woonstel ingeklim (die ou trappe was vervalle), maar daar is nou ʼn nuwe stel houttrappe en die verbrokkelde vloer is ook herstel. Selfs die wasbak hang nie meer tussen hemel en aarde nie, maar het ʼn eikehoutraam en ou vloerplank (uit die kasteel se solder) as blad gevind om op te rus.

Die kasteel se geskiedenis strek oor 484 jaar. Ons het navorsing begin doen oor die eienaars deur die eeue en die mees prominente figuur tot dusver was Baron de Sauvan wat blykbaar ʼn persoonlike lyfwag was vir koning Louis XVI tydens die Franse Rewolusie. Die eiendomsagent het vir my ʼn groot kartondoos vol briewe, boeke en ʼn handgeskrewe dagboek uit die 1700’s gegee die dag nadat ons die sleutels ontvang het. Wat ʼn kosbare vonds wat so ’n ou, vervalle gebou opgelewer het! Ons sien uit om meer te onthul oor die pragtige huis se verlede soos wat meer inligting vorendag kom.

Met al ons seëninge, bring elke dag ook sy eie uitdagings en ons het nie in Oktober besef hoe groot die uitdaging sou word met Covid-19, grendeltyd oor die wêreld en geslote winkels nie. Ons het vir weke stootskrapers in ons tuin gehad wat geduldig gewag het om tot lewe te brul en die take te verrig wat gedoen moes word. Ons het uiteindelik nou ʼn behoorlike rylaan met gruisklippies en die dae van 4×4 avonture op modderige kleigrond is vir eers verby.

Daar lê nog baie werk voor en grendeltyd het ʼn paar weke se vordering by ons gesteel, maar ons is weer volstoom aan die gang.

Die toekoms hou nog baie planne in: ou vensters wat reggemaak moet word, mure om te pleister, ou muurpapier om te verwyder, vloerplanke wat herstel moet word, plafonne wat vervang moet word… dis ’n lang lys!

Tussendeur maak ons ook byna weekliks nuwe ontdekkings in die kasteel: geheime kaste, ’n vals muur, ou muntstukke agter vloerpanele, oorspronklike frescoes agter muurpapier, ’n vaas in die tuin, en onlangs: ’n kat met twee kleintjies onder die vloer in een van die soldervertrekke!

Die chateau-kat en haar kleintjies word sedert hul ontdekking goed versorg (ons bedien selfs hul kos op ’n silwer skinkbord!) en sodra ons hulle gevang kry, is dit veearts toe vir ’n klein operasie. Daar is ook ’n uil en ’n groot Couleuvre-slang wat ons een Sondagmiddag kom groet het terwyl ons gesit en baguettes eet het in die tuin – ’n vriendelike verwelkoming van die diereryk!

Met Frankryk se grense nog gesluit en die vooruitsig van internasionale bestemmings skraal vir die volgende paar maande… kom kuier gerus saam met ons hier en deel in die avontuur wat ons aangepak het. Ons deel graag die lief en leed, die bou en breek en elke stukkie van hierdie wrak se pad terug na haar eertydse glorie!

C’est la vie! Dis die lewe in ’n Franse kasteel… geniet dit saam met ons!

  • Die rubriek het oorspronklik in die tydskrif Rooi Rose en op hul webwerf verskyn en word nou op Maroela Media voortgesit. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Sterkte en voorspoed. Amper soos ‘n liefdestaak wat voor julle lê

Amelia ·

Wat ‘n wonderlike en groot projek het julle aangepak. Kan nie wag om die eindproduk te sien nie, baie sterke !

JohanR ·

Na 484 jaar is ek seker daar loop ‘n paar spoke daar? Se groetnis uit Suid Afrika……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.