Onthou Ouma hierdie Kersfees

kinders_kersboom_geskenke_kersfees.jpg

Ter illustrasie. Argieffoto.

Kersfees laat my altyd aan my ouma dink. Waarom weet ek nie.

Sy is nou al ’n rukkie oorlede, maar steeds ruik ek die koekies wat sy jaarliks gebak het en elke keer as ek ’n groot wit emmer sien, dink ek aan die gemmerbier wat sy aanmekaargeslaan het.

Toegegee, die gemmerbier was nie ’n universele treffer nie en is dikwels met die weduwee se kruik vergelyk: Dit wou net nie opraak nie, maak nie saak hoeveel glase se inhoud jy skelm in die blompot langs jou stoel probeer versteek nie. Ek onthou hoe die oorblywende – en gissende gemmerbier – soms vir baie vrolike Nuwejaarsaande gesorg het!

Elke Desember wanneer haar R900-staatspensioen inbetaal is, moes ek haar Shoprite toe neem om vir die magdom bedorwe kleinkinders (die uwe ingesluit) “iets kleins” te koop.

Dit het soms ure geneem.

Ek het die gevolg gelei met my winkelwaentjie vol goedkoop plastiekkarretjies en inkleurboeke, terwyl Ouma al waggelend met haar eie Shoprite-waentjie agterna gestap het.

Sy’t egter haar waentjie as stut gebruik om regop te bly en moes gereeld stop om ’n aantekening langs ’n familielid se naam in haar klein swart notaboekie te maak.

Ek het talle bewonderende glimlagte hier van Pretoria-meisies gekry. Ouma was destyds die perfekte wing woman, al het sy dit nie geweet nie.

En – al was ek groot en uit die huis – het ek steeds na elke besoek aan die winkels ’n TV Bar en Coke gekry om dankie te sê dat ek haar geneem het.

Die week of wat voor Kersfees is daar altyd rondgeskarrel om nog R30 se fyn biltong en soutkoekies te koop “sodat die mense darem iets het om aan te peusel”.

Maar tog waardeer jong mense en kinders nie altyd alles nie. Ek onthou hoe haar klein en opregte geskenke dikwels geïgnoreer is, terwyl daar met blink oë en opgewonde hande na die Playstation of radiobeheerde kar gegryp word.

Ek het self meer as een keer met totale afgryse na van Ouma se geskenke gekyk – die gevreesde onderbroekgeskenk. Enige tiener se grootste nagmerrie. En gewoonlik was dit ’n bietjie te klein.

Ek onthou hoe Pa altyd omtrent van sy stoel afgeval het van die lag en terwyl hy die trane uit sy oë vee, hy my met die volgende woorde bemoedig het: “Moenie worry nie, dit sal seker in die wintermaande pas!”

Maar Ouma het elke Kersfees spesiaal probeer maak. En dit is ’n baie spesiale tyd.

As daar een ding is wat sy my oor Kersfees geleer het, is dat nie die grootte van die geskenk is wat saak maak nie, maar die grootte van die hart wat die geskenk gee. Ons het immers reeds die grootste Geskenk gekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hanlie

Wat ‘n pragtige storie!!!

Ouma se gunsteling

Sy moes ‘n spesiale ouma gewees het, daarom dat jy haar so mooi onthou. ‘n Ouma se liefde is opsigself ‘n geskenk van die Vader, en dis so hartseer dat mens eers as hulle weg is onthou hoe spesiaal hulle jou lewe maak.

Lee

Dis nou ‘n mooi storie. Ek stem saam, dit gaan nie oor die grootte van die geskenk nie maar wel eerder oor familie wat tyd saam deurbring.

daleen

Dis so n mooi storie, hoe sit ek nie nou en huil nie sou wat wou gegee het om n ouma te kon he toe ek n kind was

Z

Kosbaar!