Onwrikbare geloof en Giovanni se Bybelvers

Lindie Strydom van GrootFM het Giovanni se ouers in Pretoria besoek. (Foto: Christine Henrico)

In my vyf jaar as deel van die GROOTfm 90.5‑span, het ek al meer as 500 inspirerende gedagtes en oordenkings gedeel.  Dis eintlik doodgewone staaltjies en stories van God-geïnspireerde oomblikke en ontmoetings waaruit ek self iets kon leer of inspirasie geput het, hetsy in die ry in die poskantoor, langs ʼn vreemdeling op die vliegtuig of in ʼn gesprek met ʼn karwag of ʼn ouer langs die sportveld.

Ek is dankbaar as hierdie gedagtes vir iemand anders iets beteken op pad huis toe in die verkeer of terwyl jy toevallig met ʼn spesifieke vraag in jou kop of hart loop, maar eerlikwaar is hierdie afsprake op lug ʼn geskenk vir my eie lewe, want dit het my geleer om ʼn beter waarnemer te wees.

Ek glo God inspireer en Hy inspireer op so ʼn manier dat dit jou lewe besiel, verdiep en verryk, in beweging bring of momentum gee.  Ons werk is om te kyk waar God aan die werk is en inspirasie te put uit God se werk in mense se lewens.

(Foto: Christine Henrico)

Soos toe ons span hierdie week by Giovanni Hendriks, die matriekleerling van Hoërskool Tuine, se ouerhuis in Danville gaan kuier het.  Giovanni het op die 25 Februarie gekla van ʼn krapperigheid in sy keel en teen die volgende oggend was hy heeltemal verlam.  Op dag 23 in die hoësorgeenheid van Kalafong‑hospitaal in Pretoria-Wes, het hulle hom vir die tweede keer in sy lewe met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer.

In Giovanni se kamer lê sy Bybel oop by Psalm 91.  “U is my toevlug en my veilige vesting, My God op wie ek vertrou.”  

Toe ons die gebedskussing met Filippense 4:13 vir sy ouers gee, sê hulle so gelyk: “Dis Giovanni se vers daai” en wys vir ons sy rugbybroek met dieselfde skrifgedeelte daarop.  Ons bedoeling was om sy pa, Giani, en ma, Elize, te gaan bemoedig, maar die uurlange kuier word een lang inspirerende getuienis van hoe die Here nog altyd vir hulle gesin gesorg het en hoe Hy hierdie intens moeilike tyd ook reeds ten goede gebruik in soveel mense se lewens.

Die gebedskussing wat aan Giovanni se ouers gegee is. (Foto: Christine Henrico)

Ons ry daar weg, self so geïnspireerd deur hierdie gesin se geloof in God en ek voel of ek nie anders kan as om daardie inspirasie weer vir ander aan te gee op watter manier ook al nie.

My hoop is egter dat hierdie “aangee” meer sal wees en word as net ʼn vinnige sugar rush wat iemand gou vir ʼn oomblik optel voor of ná ʼn moeilik dag op kantoor.  Dat dit mense sal inspireer om self God se inspirasie in te asem uit die ervaringe en mense op hulle eie lewenspad, maar dan moet ons so bietjie stadiger loop en leef sodat ons dit nie mis nie.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AW ·

Besef weereens, Dat ek soveel het waarvoor ekke dankbaar voor is. !!!

Ek is werklik Geseënd.

Louise E. ·

Lindie,

Jy is darem maar een ‘celeb’ wat so mooi voorbeeld van vrou-wees is. Dankie dat ons jong vroue mentors soos jy kan hê.

PieterJohannes ·

Ons bid vir julle seun se spoedige herstel en vir julle as gesin. Ons as gesin het ook deur groot krisisse gegaan wat ek nie alles hier kan vertel nie. Een was ons jongste seun, wat met geboorte 21 dae in die neonatale hoësorg eenheid spandeer het as gevolg van te vroeg gebore. Op twee en ‘n half jarige ouderdom het hy sy oupa se 38 special in die hande gekry en homself in die kop geskiet met die helfte van sy regter brein vernietig. Gister was hy 28 jaar oud en ons is dankbaar vir die genade wat ons ontvang het. Hy leef ‘n normale lewe maar kry soms epilepsie aanvalle.

? leser ·

@lorna
Amen, stem 100% saam
jongman, ek bid nogsteeds vir jou en jou ouers, sterke ?

Alta ·

Ons God is so groot, so sterk en Almagtig daar is niks wat ons God nie kan doen. Giovanni jy sal weereens regkom hou vas aan jou Rots. My seun DJ het dit einde 2016 gehad. Bid vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.