Oom Ches oor ongerief en dergelike avonture

Deur prof. Alwyn Swanepoel

In die vorige aflewering is die bekende GK Chesterton, oom Ches soos ons hom maar in die volksmond kan noem, aan die orde gestel. Hy verteenwoordig die heerlike alternatief oor die visie van agterdog wat soveel ongeloof by ons in stand hou. In hierdie aflewering gaan ons, soos voorgeneem, op ʼn bekende artikel van hom fokus: On running after One’s Hat.[i] Hierdie ryk en humorgegeurde artikel illustreer op treffende wyse oom Ches se gawe om die wonder in alles raak te sien.

Ons weet in teorie dat ons almal veronderstel is om die lewe tot ʼn groter mate as ʼn avontuur te sien. Maar ons het ook iemand nodig wat aan ons die nodige middele gee om ons te help om so te wees.

Wel, ons vind in oom Ches iemand wat ons hiermee kan help. Soos vroeër genoem, is Londen vroeg in die 1900’s deur vloedwater oorstroom. ʼn Mens kan jou die ongerief en frustrasie voorstel. Ook die waarde van koerante in ʼn tyd sonder hedendaagse media. By daardie geleentheid skryf oom Ches toe sy beroemde stuk. En let op die eerste treffende saak wat dalk of dalk nié Oom Ches se idee was nie, maar moontlik die wyse redakteur s’n. Die vloed is op almal se lippe, maar die opskrif sluit by die tegniek van vervreemding aan om jou te help om met ʼn verbeeldingryke draai by jou ongerief terug te kom.

Oom Ches se inleiding het wel met die deur in die huis geval. Hy is spyt hy was nie daar toe die ongemaklike vloed plaasgevind het nie, want hy sien meer as ongerief. Hy beleef selfs dat “woeste afguns” in hom opwel omdat hy nie daar kan wees nie. Hy wys daarop dat jy nie jou romantieke oog hoef te verloor in sulke omstandighede nie en dat dit die grootste verskil aan jou uitkyk en praktyk kan maak. Hoe dan so? Oom Ches verduidelik dat hy sy geliefde distrik aan die suidekant van Londen, Battersea, nou naas ander verruklikhede in verband met ʼn skielike see van eilande kan bring.

Daar is niks so poëties-perfek soos ʼn eiland nie, sê oom Ches, en wanneer ʼn distrik oorstroom word, het jy skielik ʼn argipel, ʼn see van eilande, op jou voorstoep.

Jy het dan ook waterkanale en bootritte op ʼn gondel met ʼn visie van Venesië. Daarmee saam ʼn kruidenier wat soos ʼn wafferse gondelier pakkies by plekke moet aflewer. Hy brei later hierop uit deur voorbeelde van ander lastige nietighede of dan nietige lastighede wat met die geordende oog, geoefen in verbeeldingryke herkonfigurasie, benader moet word.

Chesterton lei in deur die aardse voorbeeld van ʼn hoed wat in die wind afwaai en waar die meeste van ons dan potsierlik moet nael om dit weer in die hande te kry (eie byvoeging: met ons boepe en ons “bunions” of toonknobbels). Oom Ches merk terloops op dat sulke dinge wat ons maklik as vernederend beskryf eintlik maar net komieklik is. Hy sê (eie vertaling): “Daar is ʼn idee dat dit vernederend is om agter ʼn mens se hoed aan te hardloop; en wanneer mense sê dit is vernederend, bedoel hulle eintlik dat dit komies is. Dit is beslis komies, maar die mens is ʼn baie komiese skepsel, en die meeste van die dinge wat hy doen is komies – byvoorbeeld om te eet. En die mees komiese sake is presies die dinge wat die moeite werd is om te doen – soos die liefdespel. ʼn Man wat agter ʼn hoed aanhardloop is nie halfpad so lagwekkend soos ʼn man wat agter ʼn vrou aanhardloop nie.”

Terug na die hoed wat afwaai. Jy het twee keuses in jou belewenisse van hierdie soort ongerief, merk oom Ches op. Jy kan bloot gefrustreerd op die ergernis fokus, of jy kan die jaagtog as ʼn dinamiese jagtog van ʼn wilde dier benader, met al die “opwinding, die manlike ywer en die heilige vreugde” daaraan verbonde. Oom Ches borduur nog verder hierop voort deur jou behoorlik in die ruimte daarvan te plaas. Hy brei ook uit met ander bekende voorbeelde. Hierdie ander gesindheid met die regte verbeelding sou ook kon geld vir die vlieg in jou melk, die kurk in jou wynglas, en die laai wat haak as jy dit oopmaak, sê oom Ches. Gaan lees gerus sy avontuurlustige voorstelle. Die laai kan ongelowige moderniste, soos oom Ches hulle beskryf, baie komieklik en selfs vreemd gelowig laat klink: “…ek het al sommige mense met heelwat moderne sienings geken wat, aangedryf deur hul nood, teologiese terme gebruik waaraan hulle geen leerstellige betekenis heg nie, bloot omdat ʼn laai styf vasgesteek het en hulle dit nie kon uittrek nie.”

Maar oom Ches meen dat so ʼn hantering van ʼn laai nou regtig net ʼn opinie (“subjektief en relatief” – waarskynlik ironies in die land van opinies) is. Oom Ches gee vele beter alternatiewe. Jy kan dit byvoorbeeld mos eerder visualiseer as gelykstaande aan ʼn voortsetting van jou energieke en sinvolle poging om ʼn mede-sterfling uit ʼn afgrond in die Alpe op te trek. Trou aan oom Ches se positiewe uitkyk het hy ook geen twyfel dat sy vriend wat met hierdie gesindheid met laaie sukkel – en per implikasie ook sy lesers in Londen by die vloede en ek en jy met ons eie lastige laaie of vloede – gehoor sal gee aan sy oproep om anders te kyk, vindingryk te kyk, na ons sones van ongemak nie. Want ongerief, sê oom Ches, is slegs een aspek, en nogal “die mees verbeeldinglose en toevallige aspek van ʼn werklik romantiese situasie.” En dan dien oom Ches sy bekende valhou toe:

“ʼn Avontuur is slegs ʼn ongerief wat reg benader word. ʼn Ongerief is slegs ʼn avontuur wat verkeerd benader word.”

Hier moet ons dit dalk ook in die oorspronklike Grieks hoor: “An adventure is only an inconvenience rightly considered. An inconvenience is only an adventure wrongly considered.” Dieselfde ervaring dus, ingemeng met ʼn heel ander uitgangspunt, kan ʼn heel ander gesindheid, houding en energie tot gevolg hê. Wanneer ons nie hieraan gehoor gee nie, eindig ons een of ander tyd by allerhande soorte beraders. En hulle herinner ons dan net op hul eie wyse aan dit wat oom Ches reeds lankal op die rug van ʼn goudglansende tradisie gesê het. Een van die voordele met oom Ches is dat hy ons met sy talle geskrifte nou reeds, en weer en nog ʼn keer, kan help met herverbeelding van die werklikheid, voordat ons geestesgesondheid dalk erg skade gely het. En die wonderlike is dat sy nimmereindige ryk en kleurvolle verbeelding nie op blote interessante opinie gegrond is nie. Dit word baie spesifiek ontplooi vanuit geloofsverwondering oor die Godgegewe en permanente werklikheid wat ons in ontvangs mag neem en wat hemel en aarde met mekaar in verband bring. Daaraan kan ons saam met oom Ches onsself telkens weer in die geloof oorgee. Wie dit doen, vind rymende variasie en nuwe stof tot lof om God en sy wêreld te geniet.

Ons het stewige dosisse hiervan nodig om uit die gate van murmurering, sinloosheid en agterdog te kom. Ons het oral meer mense nodig wat ons bedien met so ʼn visie waar jy, soos wat dominees met voornemende egpare skerts, die tydelike met die heerlike verwissel. Dan doen ons dieselfde dinge met nuwe gesindhede en word selfs die ou dinge ook nuut. Dan ontdek ons die avontuurlike selfs in huidige ongerief. Daar is baie skrywers wat sekerlik hiermee kan help. Maar oom Ches het sy posisie ingeneem waar hy, trou aan sy destydse grootte, twee plekke volsit. Ek sou aan my lesers wat ʼn bietjie meer wou weet wel verder van oom Ches kon vertel – as iemand wat ook maar net by perron nommer twee staan. Maar daarvoor is aanmoediging nodig.

  • Prof Alwyn Swanepoel is as professor verbonde aan die Fakulteit Teologie van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Hy dien tans ook as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan dieselfde instelling. 

[i] In All things Considered, beskikbaar by https://en.wikisource.org/wiki/All_Things_Considered/On_Running_after_One%27s_Hat

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.