Oom Ches vir ons tyd 

Deur prof. Alwyn Swanepoel

Sommige studente begin al meewarig glimlag as ek “oom Ches” vir die soveelste keer aanhaal.

Ek praat nou van GK Chesterton, veelsydige Britse joernalis (1874-1936). “Maar hy is dan Ingels,” hoor ek iemand sê, “en hy was Rooms-Katoliek,” voeg iemand anders ingelig by. My eerste antwoord is eenvoudig dat ons Heer se genade groter is as wat ons dink. En my verdere antwoord is dalk oorbekend: God het daarvoor gesorg dat mense hom nie verafgod nie, en hom daarom maar Engelsman én Rooms-Katoliek gemaak. Maar hier is my troefkaart in Afrikaner-land: Chesterton was pro-Boer tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy was die tipe man wat Boere nie sal omgee om oom Ches te noem nie, want sy hart was op die regte plek. En oom Ches had ’n baie besondere gawe: Hy kon en kan vistas vir jou oopbreek wat jy eenvoudig nie sien kom het nie. En hierdie gawe is so belangrik vir elkeen van ons wat hartlik stry om minder soos murmurerende Israeliete en meer soos positiewe Kalebs te leef. Dit is ook uiters belangrik vir ’n geslag wat blykbaar dink dat die huidige opvolge van 50 skakerings van grys na die donkerder en dierliker kant toe, die enigste fassinering is wat daar is, al roep die donker ook al hoe dieper in.

Waarom kan Chesterton die meeste mense vandag nog deur sy dink- en skryfwerk verfris? Sterker gestel: Waarom kan hy selfs Calviniste (wat hy soms verteken het) saam met kunstenaars en literati (wat hy beter opgesom het) sonniger en geuriger laat vertoon? Hier is ’n verdere antwoord wat Woordverkondigers en woordkunstenaars op verhoë en op skerms gerus maar ter harte kan neem: Want oom Ches het geweet hoe om tydlose verwondering en huislikheid, romantiek en lagkrag te saai. As ons die deftige woorde van ons dag moet gebruik, sou ons kon sê dat hy jou help om jou werklikheid te herdefinieer en na nuwe verwagtingshorisonne toe deur te breek. Maar, en dit is baie belangrik: Oom Ches doen dit nie soos heelparty moderne modelle vandag nie. Hy doen dit baie bewus aan die hand van ’n filosofie wat juis die tye se grille uitdaag met ’n verrassende, tydlose ou-nuwe dans. Hy noem dit metafisiese realisme, maar dit sluit eenvoudig aan by die lewende en beproefde wysheid van die eeue; daardie bron waaruit boer-maak-’n-plan-mense ook graag drink. En dikwels doen oom Ches dit deur gebruik te maak van die paradoksale, daardie spesifieke manier van kyk waar jy jou met die skynbare teenstrydighede van die lewe laat terg. Hiervoor het oom Ches ’n besondere oog gehad en het hy dan ook die naam verwerf dat hy die prins van paradoks is. Maar paradoks, het oom Ches roemryk by geleentheid verdedig, is maar net waarheid wat op sy kop staan om jou aandag te trek.

Kyk, iemand wat reeds in 1907 ’n metafisiese riller kan skryf op die ouderdom van 33 jaar (The man who was Thursday), dieselfde tydperk waarin sy tydlose werke soos Heretics en Orthodoxy ook geskryf is, moes lankal meer lugtyd in onse land ontvang het. Hierdie wyle oom van sesvoet-vier en oor die driehonderd pond sou ons reeds baie kon help in die tyd toe die sestigers voor die fanfare van die moderne geswig het. Om die waarheid te sê, hy het die laat-erkende Nietzschiaan, George Bernard Shaw, reeds vroeër as dwaalleraar uitgeken en ferm en goedig vermaan. Om die waarheid te sê, hy het belangrike antwoorde ontwikkel op dieper bronne soos Nietzsche, maar ook tydgerigte antwoorde op genoemde Shaw, Rudyard Kipling, HG Wells en ander gerekendes van sy tyd. Het ons dit tog duideliker hier by ons in die sestigs reeds gehad! Dalk het ek bloot vanweë doekstatus diegene soos Marthinus Versfeld en HG Stoker gemis wat tóg in ons land langs hierdie lyne betoë gevoer het.

Hoe ook al, die tyd is ryper as ooit vir ’n herwaardering van ’n verbeeldingryke eeue oue tradisie via oom Ches. Daar is bemoedigende tekens by die voetvolk dat hulle weier om deur ’n kanselleerkultuur gekaap te word. Maar ons kan nie net veg nie. Ons moet ons mense ook voed. Ons het iets nodig wat kan help om die stemming wat in ons wêreld, en veral die Weste woed, met iets te voed wat die donker luim kan verander. En hoe dan nou anders as om dit te doen met ’n gereg van liefde vir die ware, die goeie en die skone. Daarmee kan oom Ches baie help. Reeds in sy tyd was ’n stemming van agterdog en pessimisme in die lug oor dit wat voorheen as goed en gaaf beskou is. Dit was alles net magspel en magsitplekke, hoor ons vandag. Oom Ches het toe reeds opgemerk dat dit opvallend is dat mense wat so pessimisties-uitgesorteer oor skynbaar alles is, baie duidelik oor een saak glad nie pessimisties is nie: hulleself. Daarmee het hy ons reeds bewus gemaak wat die basiese probleem met sogenaamde post-mense, kultuurkanselleerders en dekonstruksioniste is. Hulle wil graag aan ander doen wat hulle nie aan hulself gedoen wil hê nie. Waag dit om kanselleerders te kanselleer, ’n dekonstruksionis te dekonstrueer, en sogenaamde post-sterflinge te troef met ’n post-post-waarheid, en die bedekte fundamentalisme kom op soos as wat uit ’n valse feniks verrys.

GK Chesterton het op besondere wyse die alternatief kom bied op ’n manier van kyk wat nie in ongeloof gegrond is nie. Oom Ches se alternatief is soveel heerliker as die meesters van agterdog, soos Marx, Nietzsche en Freud wat steeds te min agterdog by te veel universiteite ontvang. Oom Ches se heerlike alternatief gaan daaroor dat ons bewustelik nie ontplooi vanaf ’n basis van agterdog en ongeloof oor die lewe nie, maar eerder vanuit verwondering en geloof. Dit beteken nie dat hy naïef is oor die Bose in die wêreld nie. Inteendeel. Oom Ches het graag daarop gewys dat die bekende feëverhale juis van kindsbeen af leer dat daar wel reuse en drake is wat doodsdreigend is, maar dat hulle oorwin kan word vanuit ’n liefde vir die erfenis wat vir jou mooi is. Ons lewe in ’n Godgegewe werklikheid wat gelade is met fassinering en avontuur, sê oom Ches op ’n duisend en een maniere. Hierin het ek en jy egter nodig om weer kinderlik te word. Ons verloor dit so maklik en Christus het ons hierin nie eintlik ’n keuse gegee nie. Kinderagtigheid moet weg, maar kinderlikheid is eg en reg. Vir ’n sewejarige, sê Chesterton, moet jy alreeds die verhaal plooi deur te vertel van Jannie wat die deur oopmaak en toe ’n draak sien. Maar vir ’n driejarige hoef jy nog net te vertel dat Jannie die deur oopmaak.[i]

Om die voor die hand liggende uit te spel: Die gloed van verwondering en ontdekking is nog só groot by die grootoogkind dat die blote deur na die werklikheid ’n geleentheid is om elke uitstappie as ’n avontuurtog te sien. Dit is ook presies waarby oom Ches aangehaak het toe Londen by geleentheid deur vloedwater oorstroom is. ’n Mens kan jou die ongerief voorstel. Ook die waarde van koerante in ’n tyd sonder digitale spoed. By daardie geleentheid skryf oom Ches toe ’n artikel wat vandag nog gelees word: On running after One’s Hat.[ii] In beplande opvolge beoog ek om iets van die rykdom daarvan te deel deur daaruit aan te haal, die strekking aan te toon, en by ander uitsprake van hom aan te haak. En natuurlik sal dit nie anders kan as om ook allerhande snellers vir ons tyd af te trek nie. Waarom ook dan nou nie? Veral as die snellers daarop gerig is om ons wel versigtig soos slange te hou, maar ook saam met oom Ches, en dit moet onderstreep word, so opreg soos duiwe.

  • Prof Alwyn Swanepoel is as professor verbonde aan die Fakulteit Teologie van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Hy dien tans ook as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan dieselfde instelling. 

[i] Orthodoxy, Hoofstuk 4

[ii] In All things Considered, beskikbaar by https://en.wikisource.org/wiki/All_Things_Considered/On_Running_after_One%27s_Hat

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Hmm… ‘n profeet word nie geëer in sy eie land nie? En ons moet tog só dankbaar wees as ‘n buitelander van ons wil hou. Nee wat professor, die queen kan eerder jammer kom sê oor Brittanje se skandes en skade… En dit sal geen verskil meer kan maak nie. Die oubaas is ‘n bietjie too much…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.