Oom Herrie se kerkie: Laat ons sing …

Argieffoto (Foto: jh146, Pixabay)

Ons huishulp, Rebecca, nooi ons gesin eendag uit na een van hul kerkdienste. Dis ’n inisiatief van Moruti Andries Hoffman. Oom Herrie en Andries is van skooldae af bevriend, en so ook met sy broer Matie, deesdae ’n “kollega” van oom Herrie op die radioprogram, Sterre en Planete. Menige dag het oom Herrie, aanvanklik nog as kind, aan hul pa, oom Danie Hoffman, se lippe gehang wanneer hy van sy sendingdae in Zambië, Lesotho en elders vertel het.

Vroulief is dadelik pragmaties. “Moet die vroue hoede dra?”

“O ja,” beduie Rebecca, “dis baie belangrik.”

Vroulief besit nie ’n hoed nie. Die volgende dag skaf sy ’n ruim, kleurige sonhoed aan, maar haar gewete pla haar en sy gaan koop ’n effe duurder hoed.

Dié Sondag ry die uitgevatte en stemmige Herrie-gesin Botshabelo toe. Weereens verwonder oom Herrie hom oor die afstand per bus wat Rebecca na die werk aflê. Sy is eintlik afgetree, en werk net twee dae by die Herries.

By Rebecca se huisie kom sy, uitgevat, ons tegemoet. Sy kan van kop tot tone deur ’n ring getrek word.

By die kerk word daar binne reeds gesing – sonder orrel – maar onoortreflik. Ons gaan sit waar Rebecca ons plek aanwys, en kyk rond. Nie baie werkgewers het van die uitnodiging gebruik gemaak vir uitreiking nie, maar darem genoeg vir ’n begin. Die meeste is wel huishulpe se werkgewers, want daar is mos ’n baie sterk band van omgee … gewoonlik.

Moruti Hoffman kom in, en die verrigtinge begin. Hy preek in Suid-Sotho, maar ’n tolk haal alles uit. Af en toe kry vroulief, wat Suid-Sotho vlot magtig is, ’n glimlaggie vir van die vertalings.

Dit laat Oom Herrie dink aan die dae toe hy as jong ouderling ’n leespreek by die Doppers se Batho-gemeente moes lewer. Die tolk het die ding gedoen, al het oom Herrie so driftig aangegaan as waartoe hy in staat is. Na die diens het dit nie gehelp oom Herrie beduie hy is nie ’n Moruti nie – vir die kerkraad was oom Herrie presies dit.

Groot genade.

Buite die kerk het ’n klomp tsotsi’s kom kyk of hulle iets te ase uit die onverwagse klompie stadsvoertuie kon kry, maar hulle het hulle misgis met die groep Christenstryders – ’n spannetjie jong mense wat Moroti Hoffman “aangestel” het om die motors op te pas. Kort voor lank is daar harde stemme, en oom Herrie wat lank in plakkergebiede gewerk het, weet die boendoehof is in “sitting”. En toe klap die sambokke, daar is weer ’n geskree en die gepynigdes verdwyn al skreeuende. Dit weet oom Herrie, was nie deel van Moruti Hoffman se planne nie.

Maar, voel oom Herrie, sulke uitreik-aksies is mos noodsaaklik. Anderdag kan die huishulpe en ander werknemers mos weer in spesifieke aksies na ons dienste genooi word. Natuurlik sonder die boendoehowe.

Omtrent net so het oom Herrie oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede gevoel. ’n Uitreik-aksie wat dreig om onvoltooid te wees, want daar is ’n gat in die emmer. Daardie gat is die planne om eiendom te kan onteien sonder kompensasie. Oom Herrie het verwag die president sou bietjie meer uiteensetting gee, wat meer gerusstellend sou wees, maar die teenoorgestelde het gebeur.

Al wat oom Herrie weet, as hy agterkom sy grondjie (wat hy nie het nie) is in gedrang, gaan plaas hy die hele plaas onder verbande – van die bank tot die koöperasie, die Land Bank en ’n paar “loan sharks”. Elke trekker en implement is die bank s’n. Die vee, behalwe ’n paar uitskot wat oom Herrie vir die veediewe los, is lankal verkoop en die geldjie via ’n geheime kaasrekening Dubai toe oorgeplaas. Per ongeluk suip oom Herrie die verkeerde soort onkruidgif tussen die gewasse waarop daar ook produksielenings staan.

Ja nee, die regering sal duur betaal vir die “gratis” grond. En sou die regering nog taai wees oor wie om die skulde te betaal, begin die “loan sharks” se invorderaars bene en arms breek.

Nee, oom Herrie sou dit seker nie regtig gedoen het nie, maar net baie lus wees daarvoor, heel in kontras met die gedroomde uitreik-aksie wat oom Herrie so lekker laat voel het.

Gaan maak liewer daai emmer reg.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

JohanV ·

Hoop dit gaan redelik met jou gesondheid! Op ons ouderdom word mens mos nie meer gesond nie, net beter.
Die teenstelling tussen die liefde van die mense vir mekaar binne die kerk, is een werklikheid. Wat buite aangaan is ‘n ander werklikheid. Elke mens moet in sy eie lewe hierdie twee werklikhede versoen. Dit gaan uiteindelik oor hoe gaan die beste tussen die goeie en slegte gehandhaaf word.
Die tweede punt – dit is nie wensdenkery wat jy meen eienaars sou kon doen nie. Dit is reeds so weens ekonomiese toestande, minus die “loan sharks”.
Ek hanteer drie besproeiingskemas se dispute met Waterwese. Die boere kan bloot net nie die watertariewe ekonomies verdiskonteer teen gewasverbouing nie. Die boere het nie geweet herwaarts of derwaarts nie. Die volgende was dat ek hulle begin adviseer het toe ek daarom gevra was. Die uiteinde is dat, twee hofinterdikte en ses jaar later, geen boere van die skemas vir die laaste 6 jaar en sommiges al vir 9 jaar nie watertariewe betaal nie. Waterwese weet dit was my aanbeveling. Verder het ek Waterwese gewaarsku die boere sal aanhou met die aksie. Waterwese verloor miljoene rande per jaar.
Om by die punt uit te kom. Groot banke en instellings kontak my gereeld oor wat hulle te doen staan oor lenings wat boere aanvra. Uiteraard kan ek hulle die regsantwoord gee wat hulle bevredig. Banke is bekommerd oor watertariewe hoeveel des te meer oor totale onteiening.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.