Oom Herrie se kerrie: Aardskuddend

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Die laaste keer dat oom Herrie ’n aardskudding beleef het, was toe die uitgelate honde nie hul draai om die huis se hoek kon kry nie en oom Herrie se pale gelig het. Doef!

Hoekom oom Herrie vandag weer aan aardskuddings dink, is die manier waarop oom Herrie vanoggend opgestaan het. Dit was nog donker, en gebruiklikerwys mik oom Herrie arms na vore na die ligskakelaar. Maar iemand het deur die loop van die nag die huis met omtrent 45 grade gedraai. In plaas van die tree skakelaar toe tref oom Herrie die deurkosyn ’n hele ent daarvandaan en trap ’n hond in die gang raak.

Toe voel-voel teen die muur af tot weer by die deur in, en teen die muur af tot by die skakelaar.

Die val en ruimtelike disoriëntering het natuurlik ’n oorsaak. Dit hou verband met die vreemde sensasie wat mense wat chemo gekry het, en diabete soms het. Dis ’n toestand wat die gewrigte op die periferie aantas. Oom Herrie het juis gister weer ’n kramp in die regterhand gekry toe hy ’n flessie wou oopdraai, en mev. Herrie moet maar gereeld inspring en proppe oopdraai wat oom Herrie nie eens geroer kry nie.

Maar terug by aardbewings. Oom Herrie het as’t ware daarmee grootgeword destyds met die Bolandse aardbewings wat Tulbagh en ander Bolandse dorpe so verniel het. In Stellenbosch is die skudding self kwaai gevoel, en stringe naskokke baie lank ook gevoel.

Bedags, by die skool, het dit die kinders ’n goeie rede gegee om kamer te verlaat, want ’n mens het die dreuning vooraf hoor aankom. Soms was ’n vragmotor se gedreun genoeg om die onnie binne sekondes met ’n leë klaskamer te laat.

Saans, by die huis, was dit effe anders. Oom Herrie het sy eie “ontsnaproete” gehad – by die balkon uit, oor ’n afdak, en af tot op die grasperk. Dan rieme neerlê straat toe – nie vir veiligheid nie, maar om te sien hoe ander mense uit hul huise gestorm kom. Die erwe was destyds nog byna almal oop voor. Ja, van die mense wat in die bad was, het so haastig uitgestorm, hulle het skoon vergeet om ’n handdoekie of iets saam te piekel. Oom Herrie se mooi Duitse buurvrou ook, het oom Herrie verneem, maar dit het oom Herrie gemis.

Maar nadat dit rugbaar geword het, was dit ’n openbaring om te sien hoe vinnig ander seuns “op die toneel” opgedaag het – van dié wat verder woon, het uitasem op hul fietse aangejaag gekom. “Is ek betyds?” wou die aankomelinge dan weet.

Maar dit was (sover oom Herrie weet) nie weer iemand beskore nie.

Kort nadat die Herries Bloemfontein toe verhuis het, het die aardbewing plaasgevind wat die woonstelblok Tempesthof in Welkom inmekaar laat stort het. Oom Herrie het dit duidelik in Bloemfontein gevoel. Ook al heelwat daarna, maar gelukkig is Suid-Afrika so geleë dat hy nie sommer werklike groot aardbewings sal beleef nie.

En die onkoloog is ook baie tevrede met oom Herrie se vordering. Die syfers lyk inderdaad goed. Oom Herrie is oneindig dankbaar teenoor die versorgende Vader.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.