Oom Herrie se kerrie: Agterstevoor bid

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

By die meeste Afrikaanse huishoudings (so hoop oom Herrie) word ons van kleins af geleer om te bid. Daar is selfs ’n paar aangrypende mooi kindergebedjies opgeteken wat uit die hoof geleer kan word.

Maar as ons ouer word, word die verwagtinge om reg te kan bid, ook al hoe groter. Sommiges leer om korter te kan “reg” bid, en ander om langer te kan “reg” bid.

Ouma had ’n broer wat ’n predikant was. Wanneer die familie saamgetrek is, word oom Kobus, intussen sag heengegaan, gevra om die tafelgebed te doen. Maar almal het geweet, hulle gaan nou lank vir die “amen” wag. Naderhand kry die jonge Herrie ’n spesmaas, en met so ʼn “tafelgebed” let hy spesifiek op – oom Kobus se gebed maak geen verwysing hoegenaamd na die spyse of ete nie. Maar almal val weg aan die maaltyd al is dit nie geseën nie.

Oom Herrie weet van ’n ander lang gebed. Met ’n erge droogte hou ’n groep boere ʼn spontane biduur vir reën onder ’n afdak. Hulle vra oom Dowejan om die afsluitingsgebed te hou. Terwyl oom Dowejan bid, steek ’n vreeslike weer op, en die manne raak al kriewelriger. Maar oom Dowejan hoor g‘n niks van die storm nie – hy bid. Naderhand hael dit en die manne sluip weg om hul voertuie onder bome ingetrek te kry. Nog later begin die water onderdeur die afdak loop, en die manne verkas huis toe. Oom Dowejan voel die nattigheid by sy werkstewels inloop, en hy loer. Vlugtig wonder hy of die wegraping nie dalk gekom het nie, maar dan besef hy hy moet self gou maak om sy ryding by die huis te kan kry.

Maar dis nie eintlik waaroor oom Herrie wonder nie. Vandag se eise stel ook eise aan gebede.

Neem nou maar juis hierdie droogte. Ons, in Bloemfontein, mag nie ons grasperke natgooi nie. Glad nie, nie eens met ’n gieter badwater nie. ’n Tuinslang is taboe. Maar as jy soggens jou badwater met ’n gieter op dorstige plantjies gaan uitgooi, staan buurman op sy gras wat soos ’n tapyt lyk, en spuit lustig nat. ’n Mens se binneste voel op die plek nie te lekker nie, maar dan begin buurman vir oom Herrie koggel. Is dit dan sonde om ’n skietgebed op te stuur vir die wilskrag om nie oor die heining te klim en buurman met sy tuinslang te gaan wurg nie?

Ai, en as ’n mens deur die verkeer ry, hoe groot word die versoeking nie om die ander motoriste met vingertaal aan te spreek nie. Nee, nie die erkende vingertaal vir dowes nie.

’n Mens dink mos hy is onaantasbaar as hy agter sy motor se stuur inskuif. Maar nie altyd nie.

Jare gelede, in Pretoria, het twee van oom Herrie se kollegas ’n saamryklub na die oostelike voorstede gehad. Eendag moet die een laat werk, en sy maat gaan verwyl sy tyd in ’n kroeg. Dis al vreeslike spitstyd toe die twee die pad vat, en kort voor lank sit hulle in ’n oupa van ’n verkeersknoop. ’n Ent vorentoe slaan ’n verkeerslig tot vervelens oor van groen na oranje na rooi en weer na groen, sonder dat die motors ’n aks geroer kry. Dis toe dat die passasier van die saamryklub, heerlik gesuip, oorhang en die toeter druk. Die man in die kar voor is nie beïndruk nie – hy vlieg om en wys vuis op só ’n manier dat ’n mens kan sien hy bedoel besigheid. Die arme bestuurder probeer sy onskuld beduie, maar die nie-amptelike vingertaal deug nie hiervoor nie.

Weer leun die passasier oor en druk die toeter. Die bestuurder wil nog beduie deur die venster wat hy afgedraai het, maar die vuis vlieg daardeur en slaat die bestuurder so uit soos ʼn kers. Skaars tyd vir ’n skiet-aandgebed.

Die verkeersknoop ontrafel, maar die saamryklub se motor bly staan – bestuurder bewusteloos, en passasier steeds heerlik aan die lag.

Maar dit was die einde van daai saamryklub.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

bloues ·

Dagse Oom Herrie.
Lekker gelees en lekker gelag nou maar Bloemfontein en verkeers probleme? Sjoe die plattelandse stad sukkel mos nie daarmee nie, almal, so voel dit vir my wanneer ek daar ry, is op n Sondag middag uistappie.
Bloem bly egter mooi.
Groete

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.