Oom Herrie se kerrie: As mens té tuis in hospitaal raak

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Die afgelope twee jaar het oom Herrie hom gereeld in die hospitaal bevind. Soms kort, soms langer – kanker laat nie juis aan hom voorskryf nie.

Die laaste drie keer was ’n klein hospitaaltjie in die Rosestad oom Herrie se periodieke tuiste – nie veel groter as ’n huis nie en met ’n eg huislike atmosfeer, en personeel wat soos familie en vriende word (of sommer uit die staanspoor is).

Sondagoggend vroeg trek oom Herrie sy sweetpak en tekkies aan, en stryk aan na die voordeur. Van die nagpersoneel wil weet waarheen die oom so vroeg dan heen op pad is.
“Ek voel so goed, ek wil gou ’n tien kilometer gaan insit. Behoort oor so bietjie meer as ’n halfuur terug te wees.”

Oom Herrie het ’n ontsteltenis verwag, maar sonder uitsondering, ongeag ouderdom of formaat, dring die nagpersoneel aan om saam te gaan draf. “Ons moet sommer ’n twintig kilometer insit,” dring ’n paar aan.

Ja-nee, hulle ken oom Herrie al te goed. Met die chemo wat oom Herrie se voete so lomp en onhandig, ekskuus, onvoetig gemaak het, is daar nie ’n manier onder die son (wat nog nie eens amper opgekom het nie) dat oom Herrie eens ’n kilometer sal kan “insit” nie. Trouens, die kanse is beter dat oom Herrie twee treë die tuinpaadjie af sal kan vorder voor die oom met ’n groot slag tussen daai plante met die skerp punte op hul blare, sou neerstort.

Bietjie bekaf is oom Herrie terug kooi toe. ’n Ruk later daag die dagpersoneel op. Weer stryk oom Herrie aan voordeur toe, en weer is al wat hy “opdoen” vrywilligers wat “graag” ’n twintig kilometer wil gaan insit.

Oom Herrie se kamermaat se verblyf in die hospitaal is egter langer. Hy is van Vryburg en het sy Range Rover vol biltong gepak. Dis bees- gemsbok- en springbokblitong, en die droëwors ’n mengsel van daai vleisies. Elke dokter, verpleegkundige of skoonmaker kry ’n sakkie. Saans word die katte deur die venster op biltong bederf.

En o ja, oom Herrie het ook ’n sakkie gekry, en dié is met die eerste geleentheid huis toe laat kom. Anders kry die gesin niks. Sondagoggend word buurman meegedeel sy voertuig is die vorige nag gesteel. Ramp der rampe, veral oor die vrag biltong wat nog in die kar was. Buurman self is egter net bekommerd oor hoe hy nou terug op die plaas by vroulief kan kom. Maar gelukkig was dit net ʼn wolhaarstorie.

Oom Herrie is opgeneem vir ’n beenmurgbiopsie, ’n bloedoortapping en uitgebreide bloedtoetse. Dit is reeds bekend dat die hemoglobienvlak, waarvoor oom Herrie ’n bloedoortapping gekry het, opgehou het om minder te word en spontaan begin vermeerder het. Dis sommer baie goeie nuus en rede tot groot dankbaarheid. Maar nou is dit wag tot Donderdag om volledige terugvoer te kry.

En dikwels is die wag net so erg soos ’n beenmurgbiopsie wat nie onder narkose gedoen is nie. Gebede is baie, baie welkom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Sorbet ·

Dit was nou so lekker lees berig. Voel amper of ek n storieboek opgetel en begin lees het……. Net die einde kort. Lol

Gehardt O ·

Baie sterkte Herman. Jy is een van die beste rubriekskrywers. Ons bid vir jou!

Kannaland ·

Ja die heel beste van al die media in die land wat ek lees. Baie sterkte en laat weet ons asseblief wat donderdag se uitslag is.

Ouvrou ·

Beste Herman, baie sterkte met jou met jou wedloop teen die groot K. Ons bid beslis vir jou. Groete.

Eish ·

Ek haal my spreekwoordelike hoed af vir jou Herman. Net die feit dat jy oor so n spektrum van onderwerpe gesaghebbend kan skryf, dan nog die humor. Ek dink dis n n baie spesiale mens wat te midde van al die wiele in die land wat so losgekom het, elke keer met n nuwe perspektief oor dinge te kan skryf sonder om op depressante te gaan. Die humor is n hengse bonus. Dan, alles gemeng met jou persoonlike gesondheid, steeds die hoop. Daar is baie van ons wat geraak word deur jou voorbeeld. Ons dra jou op aan ons Hemelse Vader.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.