Oom Herrie se kerrie: By die viswater

Argieffoto (Foto: LoveToTakePhotos, Pixabay)

Oom Floorsie is afgetree en vreeslik lief vir visvang. Of is dit nou hengel? Eendag kom hy by die viswaters, en sien iewers het sy aas-emmertjie se deksel afgeval, en sy aas makeer.

Hy staan nog so mismoedig, toe hy ʼn ritseling teenaan die water gewaar. Dis ʼn pofadder met ʼn padda in die bek. Hy besluit die pofadder kan hom nie pik terwyl hy die padda in die bek het nie, en hy bekruip die spulletjie. Hy gryp die slang agter die kop, en dié spook verwoed. Versigtig haal hy die padda uit die slang se bek, en gooi dit in sy aas-emmertjie.

Maar nou hoe met die slang gemaak?

Hy kry ʼn plan. Versigtig, met die een hand, haal hy sy flessie brandewyn uit sy drasak, en gooi ʼn klompie in die slang se keel af. Die slang se oë dop dadelik om, en sy lyf is binne sekondes slap. Toe sit hy die slang in die lang gras, en gaan vang ʼn ent daarvandaan vis.

Ná ʼn ruk voel oom Floorsie ʼn gestamp aan sy been, en toe hy kyk, is dit die pofadder met twee paddas in sy bek.

Oom Herrie het in sy jonger jare ʼn hele paar keer probeer visvang. ʼn Groot klipvis, ʼn paar steentjies en twee seekatte uit Hermanus se hawe, is egter die somtotaal, en nie een het dit tot die pot gemaak nie. ʼn Paar vissermanne op bote was egter bly oor die seekatte wat hulle vir aas gekry het – en oom Herrie het nie eens ʼn druppeltjie iets vir die mededeelsaamheid gekry nie.

Visvangstories het oom Herrie al dikwels aangehoor, en selfs ʼn paar boeke oor sulke stories gelees. Die vreemdste plek wat oom Herrie visvangstories aangehoor het, was in die chemokamer. Dié dag was dit net ʼn klomp manne wat chemo gekry het, en hulle het die stories van Hentiesbaai tot Sodwana gaan haal. En omtrent oral tussenin.

Die Amerikaners het onlangs ʼn geheime weermagsatelliet gelanseer, of liewer, probeer lanseer. Die tuig se naam was “Zuma”. Nou voor u dink die Yanks is hul koppe heel kwyt, dis nie na “ons” Zuma vernoem nie.

Die naam, Long Beach in Kalifornië, is waarskynlik wêreldbekend. Ietwat minder bekend is dat ’n lang strand teenaan Long Beach, Zuma Beach heet. Die reeks Bay Watch is onder meer op dié strand verfilm.

Zuma Beach het sy naam weer te danke aan ’n vallei (die Amerikaners noem dit ʼn canyon), wat op dié strand uitmond, en dit heet die Zuma Canyon. Die vallei het ’n besonder groot verskeidenheid wild en plantegroei gehad, waaronder verskeie unieke orgideë. Die vallei se naam is afgelei van ’n Indiaanse woord wat “verskeidenheid” beteken.

Die militêre satelliet se naam het dus niks met pres. Jacob Zuma te make nie.

Dit kan wel afgelei word dat die naam Zuma gekies is omdat die satelliet, sou dit suksesvol in ’n wentelbaan geplaas gewees het, ’n groot verskeidenheid funksies sou gehad het. Vir Space X is dit nou belangrik dat daar nie iets met sy Falcon 9-vuurpyle verkeerd loop nie. Die maatskappy se nuwe swaardiens-vuurpyl, die Falcon Heavy, is byna gereed om sy eerste toetslansering te ondergaan. Dit bestaan uit drie Falcon 9’s wat aan mekaar gekoppel is.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Onse Zuma het “gefail to launch.”
Hoop dit gaan beter met hulle sin.

V ·

Ten minste as die wêreld zuma google, sien hulle sommer ou zuma se kaskenades ook… Dankie tog vir die bietjie lig.

Ella ·

Dankie Herman! Soos altyd verskaf jou stories baie binnepret!

Cor ·

O gaats Herman nou gaan Mnr Zuma seker se dit is sy voorvaders se grond wat die Amerikaners weg gedra het . Hulle was seker ook eerste daar gewees en toe gemigreer na Afrika. Eish nog grond wat ontein moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.