Oom Herrie se kerrie: Die boerboel

Argieffoto (Foto: Living Vroom)

Mev. Herrie se matriekklas is besig om ’n klasreünie te reël en om solank die bande te smee is ’n WhatsApp-groep gestig. Heerlike stories word nou uitgeruil. Dis mos lekker om ’n slag ʼn nuwe gehoor te kry om ou grappies mee te deel.

So skryf een van die blonde dames van Bethlehem wat haar hare rooi kleur, en in die pad val om vir haar suster in Welkom te gaan kuier. Digby Hennenman beland sy tussen ʼn trop beeste waarmee getrek word, en sy moet stilhou. Sy sien die boer se bakkie, en gaan klop aan: “As ek kan raai hoeveel beeste hier is, kan ek maar die kleinste bees in my kar laai?” Die boer stem geamuseerd in, maar tot sy verbystering raai die dame reg.

Na die bees ingelaai is, vra die boer of hy, as hy die dame se natuurlike haarkleur kan raai, hy maar asseblief sy boerboel kan terugkry?

Dit blyk toe dat die storie verlede week oor ’n student wat met ʼn groot gelukslag ʼn nuwe Jaguar vir R10 gekoop gekry het, wel op ’n ander, Britse verhaal gebaseer is, wat ook nie die waarheid is nie. Die man wat daar met ’n gelukslag ’n nuwe ryding losgeslaan het, het ’n Rolls Royce aangeskaf, en ’n hele vyf pond daarvoor betaal.

Wat oom Herrie laat dink aan jare der jare gelede toe die prys van wol so hoog was. ’n Karooboer laat al sy geldsake deur sy prokureur in Port Elizabeth doen. Op ’n dag stap hy by die prokureur in, en na die groetery, wil hy weet: “Nefie, is daar genoeg geldjies in my rekening dat ek ’n nuwe rydingetjie kan aanskaf?”
“Ja, oom, meer as genoeg.”
Die oom se ogies begin blink: “Sommer ’n spoggerige ryding?”
“Ja oom, sommer vir die beste.”
Weer blink die oom se ogies: “Kan ek ’n Roisrois aanskaf, nefie?”
“Ja oom, selfs ’n Rolls Royce.”
“Nou maar laat kom dan maar vir my enetjie.”

’n Paar maande later is die oom weer sy die prokureur. “En hoe ry die nuwe ryding?” wil die man weet.
“Nee nefie, daai is nou vir jou ’n uitstekende kar hoor. Ek hou veral van daai ruit tussen die voorste en agterste sitplekke – dan kan die rammetjies nie so in my nek blaas wanneer ek hul mark toe bring nie.”

Daai klasmaat wat vertel het van die vrou wat die boer se boerboel ingelaai het, het niks gesê of haar kar dalk ook so ’n ruit in het nie.

Al wat oom Herrie weet, is dat oorlede Pa Jan spyt sou wees sy rygoed het nie so ’n ruit ingehad nie. Dis nou vir wanneer die stamoorlog onder die kinders op die agterste sitplek uitgebreek het – ’n outomatiese gebeure as die wiele begin draai. Ma Johanna sou net graag so ’n klein venstertjie in wou gehad het waardeur sy haar arm met ’n plakkie in die hand kon deursteek om sommer so in die ry te tug oor die bakleiery.

Oom Herrie kan net een keer onthou wat daar nié ʼn bakleiery op die agterste sitplek was nie – en dit was ook net vir ’n rukkie. Oom Herrie was so sewe jaar oud toe Pa Jan ’n beurs kry om in die VSA te gaan werk en navorsing te doen. Met die lang somervakansie is die Dodge gelaai en die VSA van oos na wes en met ’n ander pad terug deurkruis. Daar is lank en ver gery, en sommer bitter baie baklei.

By geleentheid onderbreek ma die bakleiery, en wys hoe die kinders in die kar voor ons die bolle rol. Op slag is die jong Herries se baklei vort, en word die oorloggie voor met groot genoegdoening gade geslaan. So elke af en toe sal die pa sommer so in die ry ’n arm oor die voorste rugleuning laat kom en dan word erg plathand ingelê. Hoewel die oorloggie dan effens bedaar, woed dit kort voor lank weer in sy volle glorie.

Pa Jan sorg dat hy ten alle koste die spulletjie nie verloor nie. Maar na ’n ruk draai die kar met die spul steeds aan die baklei af. Nie lank nie, kry oom Herrie ’n elmboog in die ribbes, en oombliklik is daar weer ’n oorlog.

Nou ja, oom Herrie het nog net een kind oor in die huis, en het nie ’n Roisrois met sy binneste glasvenster nodig nie. Maar oom Herrie het ook nie ’n vyf pond om dit mee aan te skaf nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.