Oom Herrie se kerrie: Die donkie is ʼn wonderlike ding – amper soos ʼn boerbok

Eendag gaan iemand seker deur die land toer en al wat storie oor donkies is, vir ’n lekker lywige lekkerleesboek opteken.

Wat oom Herrie sommer laat dink aan die spoorwegwerker wat elke dag ’n hele ent langs sy spoorweghuisie moes ry na ʼn spoorkruising, om omtrent al die pad weer terug te moet ry na die halte waar hy anderkant die spoor werk.

Ou Jim begin naderhand baie belangstel in die stormwaterbruggie, wat, sou die donkies en sy wa daar kon deurgaan, hy darem ’n hele ent korter sal kan ry. En op ’n dag kyk hy of die spulletjie kan deurgaan. Maar toe die donkies se ore die bruggie bo raak, steek hulle vas en wys waffer nukkerige ding ’n steeks donkie nou eintlik kan wees.

Ou Jim is egter nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie, en gaan merk die plekke waar die ore en beton mekaar ontmoet. Van die volgende dag af is Jim elke aand na werk doenig soos hy vier rye spore in die beton beitel. Hy is naderhand klaar, en die donkies gaan seepglad deur.

Maar toe word Jim vir die beskadiging van staatseiendom geskraap. Die landdros wil naderhand weet hoekom hy nie net sand onder die bruggie weggewerk het nie; dit sou immers veel minder werk behels en niks beskadig nie.

“Maar your honour verstaan die hele ding verkeerd,” maak Jim beswaar. “Dis nie die donkies se pote wat te lank is nie, dis hulle se ore.”

Van oom Herrie se eie eerste “ervaring” met donkies moes hy by ’n jonger buurseun verneem, want oom Herrie self kan dit nie onthou nie. Pa Jan had ’n labrador. Die hond het kleintyd hondesiekte gehad, en dit oorleef. Van toe af het die hond net iewers om die huis gelê, en so onthou oom Herrie ook die hond. Niks het hom sy kop laat optel nie. Maar, vertel die buurseun, ’n paar jaar tevore is Dalsig in Stellenbosch se vullis nog deur ’n donkiekar verwyder. Nog grondpaaie ook (dit onthou oom Herrie). En dit, die donkies, was al wat die hond kon ontstel, want het die donkiekar verbygekom het die hond ’n vreeslike kabaal opgeskop.

By De Bakke, waar die Herries jongtyd somervakansies deurgebring het, was dit ook donkiekarre wat die werk gedoen het, en later, by Kleinbrak, ook so. En oom Herrie dink so met ʼn halwe smaail hoe goed dit nou sou afgaan, as Dalsig en Kleinbrak se vullis weer met donkiekarre verwyder moes word. Veral met dié dat ’n mens dan ook nog heelpad moet kyk waar ’n mens trap.

Wat Bloemfontein betref, sal donkiekarre dalk nie so ’n slegte idee wees nie. Want die munisipaal het mos peperduur lorries loop invoer, wat nie gebruik kan word nie want dit is nie ontwerp om onder Suid-Afrikaanse toestande te werk nie. Kontrakteurs word so te sê deurlopend gehuur, en dié span enigiets van lendelam lorries tot effens minder lendelam lorries in. Dis regtig ’n geval van wonder of die vullissakke verwyder gaan word.

En gedink ’n donkie is ’n dooilike ding? Gaan probeer nou net een ry. Heel dikwels word die donkie ook eers mooi wakker wanneer die ruiter klaar bo sit, maar dan word daai donkie ’n heel ander dierasie. Eers skop die agterpote op, en nege uit die tien keer trek die ruiter soos ’n rugbybal oor die mikke (die ore). Maar soms kry ’n vaardige ruiter vasgeklou, en moet die donkie harder werk. Dit klink kompleet soos die July soos die hoewe klap, en so op vol spoed steek daai ding skielik kop tussen die voorpote vas. Nog ’n paar ruiters bly in die slag.

Maar ’n paar sal steeds bly sit. En dis wanneer donkie se kind na die naaste doringdraad afstorm, en al langs die draad afhardloop en die “ruiter” letterlik probeer afskuur. So ’n ruiter makeer op slag!

Want ’n donkie is ’n wônnerlike ding.

Maar kyk, ’n hans boerbok kan hom dit nadoen. ’n Vriend vertel hulle het kleintyd so ’n mak bokram, Adriaan, op die werf gehad. Kom daar gaste, moet die gaste eers formeel aan Adriaan voorgestel word, bladskud inkluis. Want as dit nié gedoen is nie, is daai gaste vrybuit, waar hulle ’n neus by die huis uitsteek om ’n lafenissie onder die mophead te gaan drink, storm Adriaan, en die gaste bly een vir een in die stof beland.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grassie ·

In my kinderdae het ons op ‘n klein dorpie, Lady Grey gewoon wat iewers tussen die berge weggesteek lê. By die slagpale het ‘n paar donkies geloop wat aan die slagter behoort het, wat elke dag ‘n donkiekarretjie met die dag se vleis na die slaghuis moes trek. Dit is te verstane dat ons jongelinge nie daardie donkies kon uitlos nie en as ons hulle die dag goed gery het, het hulle net halfpad gevorder met die karretjie en dan in die middel van die pad bly staan, pootuit. Dit het die slagter boos gemaak en hy het gaan kla, by die polisie en die landdros (my pa!). Ons is die dood voor oë gesweer, maar as ons ‘n kansie kry…….
Een van daardie donkies was ons moses – hy het korter bene as die ander gehad en as jy hom ry het hy sy agterbene gebuig en met sy voorpote op die grond gestamp. Jy kon klou soos jy wil maar jy het aanmekaar agtertoe geskuif tot jy agter afval. Sordra jy by sy uitlaatpyp verby val het hy met altwee agterpote gelyk geskop. As hy jou in die ribbes tref het jy dae lank skeef geloop van die pyn, en dan moes jy nog boonop vir Pa lieg en sê jy het van jou fiets afgeval anders gaan ‘n kweperlat jou blaker nog seerder as jou ribbes maak.

Butties ·

Te kosbaar… die bietjie nostalgie het sommer my besige dag opgekikker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.