Oom Herrie se kerrie: Die geroep om bloed – vir oortappings

Argieffoto

Die afgelope paar dae het oom Herrie ’n hele paar vergesigte beleef, soos manne wat dieretuine opsoek en bloed trek by al wat gorilla, sjimpansee, bonopo of orangoetang is. Selfs die bobbejane kry sulke kyke.

Oom Herrie was in die hospitaal vir ’n bloedoortapping. Dit het ’n benoude affêre afgegee – nie oor al die naalde nie, maar oor ’n bloedtekort. ’n Ernstige bloedtekort.

Oom Herrie het nooit besef dat die kritieke tekorte so lank voor Kersfees kom nie, maar dit was dag vir dag ’n saak vir gebed en duimvashouery dat die bloedbank ’n eenheid of twee geskikte bloed sal kry om in te tap. Uiteindelik het vyf eenhede net mooi presies die ding gedoen. Hoekom oom Herrie se bloed so vinnig begin val het, weet oom Herrie nie. Oor twee weke moet nou weer gekyk word, en as dit dan kort, is dit al amper Kersfees.

En dit terwyl oom Herrie eintlik baie goed gevoel het, en al goeie oefeninge kon begin doen. Volgende jaar wag ’n nuwe soort chemo…

Maar dis toe daar geen gepaste bloed is nie, en oom Herrie moet kry, dat die vergesigte opduik van bloed by allerlei primate te gaan oes. As dit moet, en dit sal werk, sal oom Herrie daarvan vat, maar uiters teensinnig van ’n orangoetang. Dis darem ’n lelike ding.

’n Ruk ná Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het (en volgens Zuma met al die moeilikheid begin het), was daar ’n soort hongersnood in die Kaap. Van Riebeeck lei toe ’n jaggeselskap teen Tafelberg uit, en hulle kry ’n ding geskiet, wat volgens Van Riebeeck se joernaal … “als dit in Java was, dat voor een orangoetang aangesien sou geweest hebbe”. (Oom Herrie kan nie die joernaal in sy boekrakke opspoor nie – en die Hooghollands soos hier opgeteken is hoogs verdag).

Nietemin, oom Herrie het sonder ’n splinternuwe sekelstert by die huis gekom, maar in plaas van laf van blydskap te wees, het Nala en Leila my maar erg wantrouig besnuffel.

Wat oom Herrie eintlik wil sê, is dat mense wat mag en kan skenk asseblief so moet maak. Dink maar aan almal wat kritiek bloed nodig het, maar daardie bloed is net nie beskikbaar nie. Julle is helde wat lewens red of wat kan maak dat iemand met Kersfees tuis by sy gesin kan wees.

Dié jaar was die bloed wat oom Herrie gekry het sy grootste Kersgeskenk ooit. Of was die band wat oom Herrie dertig jaar gelede met vroulief Joan gesluit het, die grootste? Oom Herrie was net betyds uit die hospitaal vir die viering van die herdenking.

Ja nee, as oom Herrie sien hoe siek van die pasiënte is, en heel blymoedig bly, dan begin oom Herrie sy eie seëninge tel, en dis te veel om op te noem. Omtrent iets soos as oom Herrie in die hospitaal met die fisiorek oefen, en seker so 25 optrekke gedoen het, die matrone in die kamer sien instap en dadelik oorslaan na 678, 679, 680… (en dan uitgeput die rek laat sak). Daar is ’n oomblik skok en ongeloof op die matrone se gesig te lees, voor sy begin lag.

Maar die seëninge is werklik, net oom Herrie se telwerk bly hopeloos ontoereikend om aan alles te dink.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CG ·

Jou skrywes is aangrypend, Herman! Dankie vir jou humor en dankbaarheid! Jy is ‘n ware rolmodel. Oom Herrie se stukke moet asseblief in boekvorm kom. Sterkte!

Ella ·

CG slaan die spyker op die kop! Dankie vir jou positiewe ingesteldheid, en geluk met die 30 jaar herdenking! Mag elkeen wat in staat is om bloed te skenk, dit nog voor Kersfees doen!

André Badenhorst ·

Herman is ‘n ware rolmodel vir positiewe ingesteldheid en deursetingsermoë. Ons gewone siele kyk op na sulke engele.

DewaldS ·

Soos ek die dinge hoor het sommige skenkers ophou bloed gee oorlat hulle bloed goed genoeg is om die wiele aan die rol te hou, maar hulle velkleur sal hulle (of hulle mense) verhoed om bevordering binne die bloeddiwns te kry….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.