Oom Herrie se kerrie: Die katte

Argieffoto (Foto: giallopudding, Pixabay)

So elke nou en dan is dit sulke tyd – dan breek daar ’n onaardse geskree in die nag by ta’ Hess se hoenderhok uit. Gebruiklikerwys strompel oom Frans uit die bed, gryp die flits, sluip huis uit en gaan verwilder die muskeljaatkatte by die hok.

Skiet sal oom Frans nie skiet nie, want hy het ’n sagte plekkie vir omtrent al wat wilde dier is, of dit nou ’n muskeljaatkat of ʼn meerkat is.

Vir Ta’ Hes sê hy net dis te gevaarlik om so deur die slaap en in die harwar met ’n skietyster rond te karring. Hy weet van twee manne wat hulself so in die voet geskiet het. Koos van Boklip het ’n gat in sy eie melktenk geskiet en Stefaans Verbyry het sy eie dieseltenk raakgeskiet. Beide tenks was die volgende dag dolleeg.

Kort voor oom Frans se dood het ’n afstert meerkat self kom aanmeld, en was daarna sy stertjie. Soggens het die meerkat en Toffie die hond elkeen ’n eetdingetjie gekry, en saans met uitskeityd, weer. Ná oom Frans se dood was dit ’n aardigheid hoe daai meerkat hom gesoek het. Eintlik was die huismense nooit seker of die diertjie wel ’n meerkat was nie, want niemand kon hom by soort plaas nie, en daar is hierna vermoed dis een van die skaars soort eekhorings wat ook in die Oos-Vrystaat voorkom.

Maar dié nag se gebeure was voor die meerkat deel van die opset geword het.

Dis toe mooi g’n muskeljaatkatte in die hoenderhok nie, maar ’n rooikat wat briesend is oor hy in ’n hoenderhok vasgevang is. Maar juis toe kry hy die gat waarmee hy ingekom het, en maak om in die nag in te verdwyn. Oom Frans het nie ’n sagte plek vir ’n rooikat nie, en instinktief gooi hy die swaar flits agter die rooikat aan.

Kolskoot!

Hy gaan haal ta’ en besluit die dier is morsdood. Hy word op die stoep gegooi, en dis hier waar Marlene, die kleindogter wat ʼn paar dae op die plaas kom kuier het, hom die volgende oggend aantref. Sy gaan haal een van haar tassies, ’n afgetrede skooltas, en vind dis ’n nommerpas doodskis. Jim sal aanstons die kat gaan begraaf.

En dis hier waar die rooikat en tas voete kry.

Later die dag verneem die huismense van ’n vreeslike ding. ’n Taxipassasier het in die ry ’n tas oopgemaak wat hy glo iewers verlate opgetel het, en ’n woedende rooikat het daaruit gespring. Die taxi is opsluit, sommer so in die ry, ontruim. Die passasiers sit nou daar onder ’n boom en wag vir geleenthede hospitaal toe. Die taxi het weggejaag.

Oom Frans gaan haal ta’ Hes se noodhulptas, vat die bakkie en ry na die toneel toe. Onderweg laai hy die ou skooltas op. By die boom tref het ’n erg treurige spulletjie aan.

Hy hou die tas na hulle uit: “Julle moet daai kat gaan vang en terugsit. Hy raak vreeslik die hoenders in as hy uitgelaat word terwyl hy slaap.”

Hy sien die oë staar in ongeloof na hom, en ’n groot jammerte oorval hom.

“Toe klim, ek vat julle hospitaal toe.”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Herman Fourie ·

Ai, nou het ons gelag dat die trane loop! Baie dankie, wat ‘n kosbare storie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.