Oom Herrie se kerrie: Die lazybuoy de luxe

Argieffoto (Foto: Semevent, Pixabay)

Na seker omtrent twee jaar was oom Herrie darem so lus om weer ’n slag te bad. Nee, nie omdat Bloemfontein se water al opgeraak het nie, maar oom Herrie is in sy derde jaar van chemo ontvang. En die bene wou oom Herrie al lankal nie meer uit die bad lig nie.

Dis toe dat oom Herrie met die gedagte kom van ’n stoeltjie in die bad, en vroulief Joan gaan skaf een aan. Dis nou na ’n omgekeerde wasgoedmandjie eers probeer is. Buite die bad het dit gelyk of dit gaan werk, maar toe oom Herrie in die bad sy sitte kry, laat hoor vroulief net ’n “Pas op!” Maar oom Herrie het klaar gevoel iets gee mee en was klaar regop. Sonder ’n gesukkel.

Die stoeltjie is versigtig aangedurf, maar hy hou en oom Herrie kan ná die heerlike bad regop kom, so met arms druk en trek waar vashouplek is, en bene wat liggies bewe. Maar die bad was loshande die moeite werd. Dis seker die naaste wat oom Herrie ooit aan ’n regte lazyboy sal kom – oom Herrie noem die stoeltjie ʼn lazybuoy, want dis soos ’n reddingsboei vir oom Herrie.

Intussen doen oom Herrie pligsgetrou elke dag oefeninge met ’n fisio-rek. ’n Armgewiggie het intussen bygekom. Maar dis veral die bene wat oom Herrie probeer sterk kry. Die een of ander tyd, na ’n drie maande chemovakansie (met parool) word die chemo voortgesit en dan wil oom Herrie darem ’n bietjie van ’n voorsprong hê. April wil oom Herrie sterk genoeg wees om oudste Nic, wat in die Paarl met sy lieflike Leandri afhaak, se troue bywoon.

Ja, ons ou volkie is vol planne vir kontrepsies. Party werk, ander is hospitaalsake.

As jong kind het die jonge Herrie en sy bende ’n boomhuis in ’n groot boom op ’n oop stuk grond, naby ’n straat, gebou. Hiervandaan was dit groot pret om die groter kinders met ketties en seringbessies te skiet. In ’n ommesientjie bestorm die groter kinders die boom en begin dit uitklim. Maar die boom had ’n tak wat skuins na onder gegroei het, en een bendelid kon gou daarlangs ontsnap. Op die vloer van die boomhuis was ’n valluik, en daar is ’n kettingleer uitgerol. Dit was heeltemal te kort, maar een van die bendelede wou eendag ’n parabat word, en hy het solank oefenkans gekry. Die derde is met die foefie slide af – daar was nie ’n ander boom naby nie, dus is die ander punt met ’n pen in die grond geslaan. Halfpad moes ’n mens al begin hardloop om genoeg spoed te hê as jy grondvat. Genoeg het egter in ’n stofwolk “ondergegaan” wanneer die grondvat skeefgeloop het.

Die hysbak waarin jy jouself moes kon ophys het egter nie gewerk nie. So met die tweede trek (terwyl jy self opspring om die gewig wat jy optrek minder te maak) trek die emmer waarin jy gestaan het, met ’n spoed verby, en land jy winduit op jou blaker op die grond.

Sondag het ons jongste twee Kersboompies opgeslaan en versier. Ons het eers net die klein boompie gehad, maar die versiersels (waarvan hy baie self van keramiek gemaak het) het te veel geword, en hy het ’n groter boom gevra. Verlede jaar is die groter boom aangeskaf, maar hy versier beide. Ongelukkig is daar nie genoeg geskenke vir twee boompies nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Bai sterkte met die gesondheid so in die laaste skok van 2018 en vir die nuwe jaar. Baie dankie vir die puik artikels vir 2017.
Moenie te veel stress kap oor die kersbome nie. Hoeka Jeremia 10:2 -5 gelees oor die gebruik.

Mien ·

Van my kant af ook baie dankie vir moeite werd artikels die afgelope jaar. Sterkte.

CJ ·

Herman. Jammer om te hoor van nog chemo. Sterkte! Dankie dat jy dit met ons deel. Sien uit na April!
Groete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.