Oom Herrie se kerrie: Die ontsnappende oorledene

Argieffoto (Foto: Bluesnap, Pixabay)

Tannie Essie, nou ook al ’n hele paar jaar saliger, vertel by geleentheid ’n verhaaltjie wat hom tydens die Groot Griep op Piketberg sou afgespeel het.

Nou eers ʼn belangeverklaring: die Toeriens is eintlik Porterville se mense, en menige portret in die stamregister toon tot vyf Toeriens, is die verskillende jare se eerste dorpspanne (natuurlik rugby) en sommer heelwat in die dorpsorkeste.

Maar by geleentheid het daar glo ’n deel weggetrek Piketberg toe, en goed aangeteel tot die Groot Griep ’n harde hou kom slaan het. Dit het naderhand so erg gegaan, daar was nie meer genoeg gesondes om die afgestorwenes te begraaf nie.

Naderhand is Piet met sy donkiekar gekontrakteer om elke dag by die huise om te gaan en dooies te gaan kollekteer. Die oorledenes is dan plegtig in ’n wit deken toegedraai, want van kiste was daar naderhand geen sprake nie.

En Piet het sy werk baie ernstig opgeneem.

Eendag het Piet sy rondes gery en is met sy treurige prosessie op pad begraafplaas toe, toe een van die “oorledenes” agterop die waentjie bykom. Hy lê ʼn ruk doodstil om te probeer uitmaak wat aangaan, en waar hy hom bevind, maar na ʼn ruk het hy die spulletjie uitgepluis.
En hy hou net mooi niks daarvan nie. Hy is ook heeltemal daarop teë om begraaf te loop word. Hy woel hom so ongemerk as moontlik los onder sy medepassasiers, en toe laat spaander hy, wit gewaad nog om hom gedrapeer.

Piet merk een van sy “kliënte” ontsnap, en vlieg self van die donkiewa af, en sit die wit gedaante agterna. Maar daar is geen manier dat die ontsnapte hom van Piet sou laat vang nie.

Piet gooi uitasem die handdoek in: “Ja! Fff, ffff, nou moet jy fff, ffff maar self sien ffff, ffff hoe jy begraaf kom!”

Iewers in die omgewing van Aberdeen en Graaff-Reinet word Geloftedag op ’n plaas gehou. Die “saal” (ʼn oop skuur) is gou vol, en die ander besoekers span hul rygoed in so ’n halwe sirkel om die skuur uit. Ná hulle hul trekdiere uitgespan het, volg hulle self die verrigtinge. Soos gebruiklik, is dit snikheet warm.

Pa Jan was altoos dik van die lag as hy dié storie vertel. Twee besonder groot tantes sit saam op die bank van ’n treppie. En soos dit warmer word, raak hulle al kriewelriger, en so verplaas die swaartepunt naderhand tot anderkant die as. Die disselboom skiet soos ʼn katapult die lug in, en die waentjie tip mooi agteroor. Dis net niekerbokkers en gille, vertel pa proesend. Die twee tantes rol deur die stowwe.

Die verrigtinge word gestaak, en ewe sedig word die tantes opgehelp, en daar word afgestof. Die waentjie word weer gemaak staan – dié keer met ’n paar behoorlike swaar goed op die disselboom gepak, en die verrigtinge hervat, steeds baie sedig.

Maar toe skree ʼn jong lat van iewers uit die gehoor: “Julle kan my nou maar skiet, maar ek gaan nou eers lag!” En toe bulder die hele lot van die lag.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.