Oom Herrie se kerrie: Die snorkende spook

Argieffoto (Foto; Wokandapix, Pixabay)

Met elke hospitalisasie het oom Herrie ’n nuwe ervaring, terwyl ’n paar oues neig om ʼn man te agtervolg. Soos ’n buurman wat so snork dat g’n mens in daai deel van die hospitaal geslaap kan kry nie.

Die keer had oom Herrie sy kamer vir ’n ruk vir homself. Maar dis ook nie lank nie, kom oom Herrie agter daar is wel iemand by hom in die kamer, en dié lê heerlik op die ander bed en balke saag.

Maar daar is niemand op daai bed nie! Dis net die snorke wat hartlik van daai bed af kom.

“So, dis wat gebeur as ’n pasiënt dit nie met sy buurman se gesnorkery kan huishou nie. Die snorker is seker met ’n kussing oor die gesig die ewigheid ingehelp, maar net om die kussingman nie heeltemal te laat wegkom nie, kom snork die snorker agterna weer.”

Een van die verpleegsters kom in, en is dadelik bewus van die gesnorkery van die leë bed af. Teen dié tyd het oom Herrie die werklike toedrag van sake uitgepluis – dis iemand wat in die bed naaste aan die deur in die kamer langsaan wat so snork. Met ’n ongelooflike akoestiek klink dit of daar in die kamer langsaan gesnork word. Sy gaan luister in die gang, en die bron van die snorkery word spoedig duideliker.

Maar van oom Herrie ’n gereelde hospitaalganger geword het, had hy darem al kampioen-snorkers as kamermaats. Dié dat die kussing-gedagte so maklik in oom Herrie se kop opgekom het. Dit help soms om voor die snorker aan die slaap te raak, maar nie altyd nie.

By geleentheid, jare gelede, was oom Herrie deel van ’n staptoer deur die Bolandse berge. Doen so ’n halwe verkoue op. Een van die mede-stappers het ’n neus-probleem wat al geopereer is. “Voor die operasie het ek vreeslik gesnork,” vertel hy. Oom Herrie wonder hoe dit voor die operasie moes gegaan het. Hy sou enige pastorie van sy fondamente af laat skuif (sy pa was ʼn predikant).

Per toeval raak oom Herrie die aand in die berghut eerste aan die slaap, maar skaars in droomland tref die stapstewel oom Herrie. “Jy snork,” kla die eintlike snorker. Nou is oom Herrie wakker, en die snorker pak yslike snorke uit.

Oom Herrie gaan kry maar lêplek buite, en tref omtrent al die ander stappers daar aan. Vir dié soort balkesaag sien hulle nie kans nie. Maar die snorkery van binne die berghut is nog te erg, en die kaboedel skuif verder aan, en verder aan … Seker so op 30 meter kry ’n mens darem geslaap.

En toe begin dit te reën…

Die afgelope hospitaalbesoek het ongewoon lank geduur. Oom Herrie moes ’n bloedoortapping kry, en dit blyk toe een van die uiterste tydperke van bloedskaarste te wees. Die internis het selfs gesê sy het dit in al haar jare nog nie so erg beleef nie.

Benewens oom Herrie was daar nog drie pasiënte wat maar so dag in, dag uit, moes wag vir bloed. Dus, vra oom Herrie mooi en beleefd, help asseblief om genoeg bloed geskenk te kry.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.