Oom Herrie se kerrie: Die wegspring in die lewe

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Gister het ek weer ’n ongelooflike dag beleef. Joan het danksy Jandré se judo op die bestuur van ’n besonderse judoklub gekom. Baie van die lede is kinderhuiskinders, en hulle is wonderlik met Jandré. Maar dis net so besonders om hierdie kinders te ontmoet, en ek staan verstom oor die grootmense wat hulle besig is om te word.

Sondag het ons by ’n teetuin gaan eet wat een van die kinderhuis-satelliethuise aangebied het. Dis vir fondsinsameling, ja, maar die kinders wat deelgeneem het, het kans gekry om te leer van kelner wees, en te help met kosmaak en so aan. En ’n paar rand vir hulself te verdien.

Pragtige kinders, besef ek weer. Die blondekop seuntjie wat ons ontvang, se maniere is perfek. Toe ons later die middag loop, gaan wens ek die knapie geluk, en word weer getref deur sy ordentlikheid en perfekte maniere. Sy oë is vol gevoelvolle poele wat vertel van baie, baie hartseer …

“Verlede jaar was hy die enigste kind van daardie huis wat agtergebly het – al die ander kon na ʼn familie toe gaan,” sê Joan, en my hart wil stukkend skeur. Gelukkig is daar nou ‘n gesin wat hulle oor hom ontferm.

Wetgewing verbied ’n mens om name te noem of die kinders te identifiseer. En as ’n mens weet wat aangaan, verstaan jy baie goed.

Soos die meisie wat die betrokke week nog getuig het in die verhoor van hul ouers, en dit wat as die gruwelhuis bekend geword het. Dieselfde naweek wen sy nog ‘n goue medalje op ’n nasionale judotoernooi. ’n Week tevore het sy en haar boeties op ’n atletiekbyeenkoms elk ’n goue medalje gewen.

En ‘n mens dink – ai, as hulle omstandighede anders was dat almal saam met hulle kon deel in die vreugdes van die medaljes.

Ja, geldjies sal altyd knyp. Baie onlangs is berig oor hoe die oorkoepelende welsynsorganisasies die provinsie se welsynsdepartement weer hof te wil vat. Wanneer die betalings opdroog, kan personeel nie betaal word nie, en kossies moet gerek word tot dit bleek is. ‘n Mens hoor dinge, soos dat etlike miljoene rande gesteel is, of dat kameraad Eisj dit na ‘n ander rekening laat oorplaas het.

En toe gebeur die wonderlike. Die kinderhuiskinders (met hulp) kry die geldjies ingesamel sodat hulle na ’n toernooi kan gaan. Van die ander provinsies spring in, en uiteindelik kan ook van ander klubs se kinders en volwassenes saamgaan wat andersins net sou moes tuisbly.

En nou het die ete wat hulle aangebied het, weer ’n paar randjies bymekaar gebring. En, o ja, daai kos was onverbeterlik. Maar die provinsiale proewe lê voor, en daar is kinders, pragtige kinders met tonne talent, wat net sal moet uitsit omdat daardie geldjie eenvoudig nie daar is nie.

Die klub het ook baie skielik baie groot geword. Judoklere is maar ‘n probleem, en elke skenking van sulke klere is meer as welkom. Net omdat jy ‘n kinderhuiskind is, wil jy darem nie tydens ‘n toernooi in die verleentheid kom met ‘n ou broek wat skeur nie.

Ons is baie geseënd,” sê sensei Aldo. Maar dis die Here wat gesorg het dat Aldo en vroulief Dedrei se paaie met dié kinders sou kruis.

Vanoggend moes ek weer laat bloed trek. So met die aantrekslag sien ek weer my eie lyf, veral die bolyf. “Die arms teer nou so weg, een van die dae sal hulle nie meer die naald in die arm kan steek nie,” sê ek vir vroulief Joan. “Hulle sal die arm in die naald moet insteek.”

Ja, op elke manier het ’n mens die reg op vreugde, veral die kindertjies vir wie ’n lewe nog voorlê, en sommiges selfs as klein kindjie reeds meer swaar ken as ‘n ander …

Die oproep het pas gekom. Hulle soek oom Herrie vir ʼn bloedoortapping in die hospitaal. NOU!

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ondersteun ·

Kinders moet ook koderingsvaardighede leer, die wat kan, dit kan vir hulle n baie welkome inkomste genereer. Baie sterkte Oom Harry, ons dink aan jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.