Oom Herrie se kerrie: Die wonder van dennepitte vir ’n kind (en grootmens)

Argieffoto (Foto: Arcaion, Pixabay)

Langs die Herries se huis in Stellenbosch het ’n groot kroonden gestaan. Dis nou die soort wat nie ’n spitspunt het soos die “gewone” den nie (die kersboom).

En dié enkele boom het die jongklomp ontsettend baie plesier verskaf, want kroondenne oor die algemeen dra ’n vreeslike lekker lekkerny – dennepitte. Dié pitte sit in die dennebolle gepak, en in die Herries se erf was amper ’n soort fabriek waar die kleingoed dié neute binne-in die dennepitte uitgehaal het.

En daai uithaal, boeta, was ’n kuns. Die dop maak amper sestig persent van die pit se gewig uit – dus, die dop was dik en houtagtig. Word die pit te sag met die slaanding bygekom, is die pit steeds heel. Slaan te hard, dan is die neut binne-in ook platgemoker en nie werklik die moeite werd om te probeer eet nie.

Die neut-gedeelte is maar klein, en as die entrepreneurskap die kleingoed pak, was dit ’n ontsettende harde werk om ’n sakkie vol genoeg gemaak te kry om te gaan verkoop. As oom Herrie reg onthou, het ons so vyf sent ’n sakkie gekry, maar vyf sent destyds het darem vyf stroke drop opgelewer.

Maar meestal is dit self verorber. Soms is ekspedisies die bos ingestuur om kroondenne op te soek en te kyk wat intussen daar geval het. Dennebolle wat nog in die boom gesit het, is gereeld met ketties geklits, maar dit het selde gemaak dat hulle afgeval het.

Soms het die broeksakke gebult, en was daar so ’n swart rand om die sakke en die hande ook maar swart – ’n lekker ryp dennepit gee so ’n swart stof af, maar die pit is amper spierwit.

Van die Herries weg is uit Stellenbosch het dennepitte eintlik net ’n herinnering gebly.

Maar toe lees oom Herrie van die mummie van ’n Siberiese prinses wat 2 000 jaar gelede die hiernamaals in is. Al eetgoed wat sy op die reis vergun is, was ’n sakkie dennepitte, of soos hulle in Engels sê, “pine nuts”. En net hierna lees oom Herrie ’n jaarverslag van die Wêreld-neute-assosiasie. En jou werklik, dennepitte en makadamias is die twee neutsoorte waarvan die produksie die afgelope jaar die meeste wêreldwyd toegeneem het.

En toe oom Herrie dit gaan Google, blyk dit dat dit’n gewilde bestanddeel in ’n baie ryk verskeidenheid resepte is. Daar is tot ’n resep vir dennepitte en kool, maar word veral met pesto geassosieer.

En dit blyk dis nie sommer ’n hierjy neut nie. Dis baie ryk aan ’n hele span vitamines, en ’n “magnesiumreus”. Trouens, dit word naas amandels as die mees voedingryke neut beskou. Dit word onder gesondheidsdisse geklassifiseer. Daar is verskeie genusse dennepitte wat geëet kan word, sommige lekkerder as ander. Daar is byvoorbeeld Siberiese dennepitte, terwyl Koreaanse dennepitte dikwels hoog aangeskryf word. In die VSA het verskeie deelstate hul “eie” spesies.

En al is dennepitte ryk aan vette, is hulle ook bekend dat hulle mense help om gewig te verloor. Smaak my oom Herrie moes kleintyd ’n kritiese massa hiervan verorber het en sukkel tot vandag toe om gewig op te tel.

Van al die wonderlike eienskappe wis die jongklomp niks. Ons het net geweet dis lekker, en ook baie belangrik, gratis. In gebiede waar eekhorings voorkom, word die pitte se doppe soms baie ver van die boom aangetref. Ander knaagdiere lê ook tand in.

Vandag, so lees oom Herrie, is dennepitte duur. Dis omdat omtrent die hele proses met die hand gedoen moet word, en soos oom Herrie verduidelik het, dis ’n kuns om daai pit net hard genoeg te slaan. Dit help ook om ’n mens se vingers onder die mokerding uit te hou. In Suid-Afrika, so lyk dit is dit die maklikste bekombaar as mens dit oor die internet bestel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Maroelapit ·

Daardie gesukkel om die neut uit te kry en die pit presies hard genoeg te slaan, geld ook vir maroela neute. Maroelaneute is baie sag en heerlik, maar tog word dit nie gekommersialiseer nie, ek verstaan nie hoekom nie.

Anita ·

Die probleem met maroelas, is dat die meeste mense dit groen ‘afpluk’ vir die verkoop, maar dit word nooit regtig geel nie. So die meeste mense eet dit een keer en nooit weer nie. Dink nie baie mense weet van die neute nie. (En ja, dit is ‘n reuse gesukkel om dit uit die pit te kry). So paar jaar terug het ek van mense in Botswana gehoor wat maroela pulp droog en sover ek onthou, het hulle die neute ook uitgehaal.

Paul ·

Die neute word alreeds kommersiëel verwerk vir die olie wat daaruit gepars kan word. Kosmetiese middels word daarmee gemaak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.