Oom Herrie se kerrie: Dis Kerstyd!

Argieffoto (Foto: Free-Photos)

Kerstyd bring altoos by Herrie ’n warm gevoel om die hart – al van kleins af. Boonop verjaar oom Herrie net vier dae voor Kersfees. Nou die dag besef die uwe eers dat as die ou Christenpioniers wat van die heidene Christene probeer maak het deur hul groot dag, die son-ewening, te kaap, die regte dag beetgehad het, was oom Herrie ’n Kersbaba.

Die enigste nadeel van so naby Kersfees verjaar, is dat heelwat mense sommer die verjaarsdag- en Kersgeskenk in een kombineer. Boonop was dit naby genoeg aan die skoolopening, en is die geleentheid om skoolklere en -skoene vir die nuwe skooljaar te koop darem net te aantreklik.

Maar nou “kla” oom Herrie behoorlik met die sjokoladekoek onder die arm. Dit was idilliese tye, so kleintyd. Gewoonlik langs die see, met familie. Ouma en tannie SC wat blikke en blikke vol koekies gebak het, en kanne en kanne vol gemmerbier gemaak het. En oom Japie wat hom die een of ander tyd in die geselskap sou verskoon, en met ʼn gesonde stuk beesbiltong sou terugkom. Dié het hy dan tydsaam met sy knipmes gesny, en uitgedeel. Kyk, teen die tyd wat dit weer oom Herrie se beurt was, het sy mond al erg gewater. Sjoe, en hoe water oom Herrie se mond nou meer as 50 jaar later.

Die kleine Herrie het by geleentheid groot konsternasie veroorsaak. Op ’n winkelstoep in Mosselbaai het hy vir Kersvader gesien, en gevra en gevra om soontoe geneem te word want daar was ’n belangrike laat-bestelling. Maar niemand luister nie, en vergesel van oom Rons-hulle se skippertjie Zoeloe vat die kleine Herrie die pad. Onbewus van die drama by die kothuis, en so blyk dit agterna, die hele Bakke-omgewing. Soekgeselskappe, grondskree, bote ter see, noem maar op. Nog lank voor oom Herrie by Kersvader kon uitkom, was hy “opgepik”.

By Kleinbrak, waarheen pa-Jan-hulle later versit het, was dit ewe-eens hemels. Soggens vir oom Smutsie met nat seesand ’n preekstoel gaan help bou, en daar teenaan ’n staanplek vir tannie Ada se traporreltjie. Tot vandag nog sing die note van “U het die brood gebreek, eens by die meer,” hier na aan Kerstyd nog in oom Herrie se ore.

Behalwe een jaar. Toe was daar ’n gaatjie iewers in die orreltjie se lugweë. Dan klink dit omtrent so: “U het die oef gebreek, eens by die oef…”

In die strooidakkerkie is ’n Kersspel geoefen. Een jaar was oom Herrie een van die wyse manne en moes ’n paar woorde onder die knie kry. Dat oom Herrie nie nou meer kan onthou wat die woorde was nie, is nie snaaks nie. Oom Herrie het daai aand ook reeds bitter min van die woorde onthou. Allerlei strandhanddoeke is ingespan om die spelers Midde-Oosters in die Bybelse tyd op te tooi.

Oom Herrie se oudste is vroeër vanjaar getroud en ons eie Kersfees sal sonder hom wees. Gelukkig woon sy skoonouers naby die Paarl. Hier tuis, is dit vanjaar net oom Herrie en mev. Herrie. En Kersvader. Ons jongste het al ’n paar jaar Kersvader én ontvanger van geskenke gespeel. Hiervoor het hy ’n Kersvader-hooftooisel gehad. Vanjaar het hy egter ’n volledige Kersvader-pak met lang baard kompleet.

Vanjaar se Kersfees gaan egter gedemp wees. Die kersboompies (ja, daar is twee) is in dieselfde vertrek, die sitkamer, as waarin Mita ons huishulp so erg aangerand is tydens ’n onlangse huisrooftog dat sy dood is. Sy het haar lewe opgeoffer om oom Herrie en ons outistiese jongste s’n te red. Dit was oom Herrie se grootste Kersgeskenk ooit, uitgesonderd natuurlik die groot prys wat Jesus self betaal het.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.