Oom Herrie se kerrie: Dis verkiesing

Argieffoto (Foto: U. Leone /Pixabay)

Gistermiddag kry oom Herrie ’n oproep van iemand by die Onafhanklike Verkiesingskommissie. “Ons is oor vyf minute daar!” seg die man.

Ja, die langste vyf minute, maar skielik hou ’n polisievoertuig op die sypaadjie stil, en kort daarna is daar nog ’n voertuig voor die hek. Een van die twee voertuie moes taamlik gelaai gewees het want daar stap genoeg mense die huis in om ʼn minibus-taxi amper vol te maak. Hulle kom oom Herrie se twee spesiale stemme opneem.

Al gaan dit nou ná vier jaar al baie beter met die stryd teen kanker, is daar nie ’n manier wat ek daai lang tye in die ry by die stembus kon gaan staan nie.

Oom Herrie kon in die rolstoel saam met vroulief Joan in die tou gaan “staan” het en gewoonlik kom haal die amptenare die rolstoelmense uit die tou en gaan druk hulle en hul geselskap heel voor in, maar die sluitingsdatum vir aansoeke vir spesiale stemme het verstryk voor selfs die Noorweërs se langtermyn-weervoorspelling kon bykom om te sien of dit nie dalkies gaan reën nie. En natreën is die een ding wat ek nie kan bekostig nie. Net bietjie minder as ʼn jaar gelede was ek lank in die hospitaal met griep en longontsteking, en het ek ʼn paar keer amper-amper die kispak aangetrek. Volgens die dokter was hulle net gelukkig om my deur te haal. Smaak my ek het dubbele longontsteking in al twee longe gehad. Die kanker vernietig ʼn mens se weerstandigheid.

Nie lank ná die OVK-mense weg is nie, sien ek op die Noormanne se weervoorspelling daar word reën vir ʼn groot deel van die land op verkiesingsdag voorspel. Maar my hart is swaar oor vroulief wat nou alleen die elemente moet gaan trotseer.

Van taamlik kleins af was dit vir die kleine Herrie al vreeslik lekker om na die verkiesingsuitslae te luister. Daai toeeet, toeeet en dan: “Hier volg die uitslag…” So tipies soos braaivleis en tombola. Ja, daai ding kom van vroeg af al…

Nie almal het daai tyd al oor ’n radio beskik nie, en dié wat “daai ding” had, was na die verkiesing teen wil en dank gasheer vir ’n hele klomp bure en ander wat ook oor sy “draadlose toestel” soos Langenhoven dit genoem het, of sommer draadloos, na die uitslae kom luister het.

Terwyl omtrent die helfte van die gaste in die sitkamer by die draadloos gesit het, het die ander helfte die vleis op die kole opgepas. Hulle roteer so geleidelik.

Dit was ook die dae van Natte teen Sappe, of Smelters teen Gesuiwerdes. Ja, daai politiek was ernstig, so ernstig dat Winburg naderhand ’n NG-gemeente vir die Sappe, en nog een vir die Natte gehad het. By Ladybrand was die geveg so groot dat die besondere deure van die stadsaal, wat beredder is toe ’n gebou gesloop is, skoon uit die kosyn uitgebaklei is. Al ooit gewonder hoekom daai opslaan-houtstoele, wat so in ritse aanmekaar vervaardig is, so flenters is? Dit het die heerlikste slaangoed vir fris jong boete uitgemaak.

Hoeveel van die saam-uitslae-luister op gevegte uitgeloop het, weet oom Herrie nie. Dit moes vreeslik vir die een lotjie wees om te hoor hoe die ander juig as daar ’n uitslag afgelees word. ʼn Ruk later is die rolle omgekeer, en vir die verloorders moes dit voel of daar dolke in hul harte gedruk word. Met nog ’n sluk of wat vuurwater onder die blad moes die versoeking vir bolle rol soms baie groot wees.

Die enigste geveg waarvan oom Herrie weet, is toe een wie se party ’n paar keer aan die verloorkant was, homself verloor het en met die volgende uitslag die draadlose toestel met die vuis bygedam het. Skoon van kortgolf tot geen golf. Die huisbaas se vrou moes naderhand met die handsamkok kom orde kry, want anders was die huisraad alles daarmee heen.

Oom Servaas, wie se kop in die pad van ʼn swaaiende bierbottel beland het, moes gaan steke kry. Oom Dries, wat die vinnigste ryding het, kan hom nie hospitaal toe vat nie, want sy lippe staan so dik geswel dat hy g’n nooit vir die nursie by ongevalle sal kan beduie wat gebeur het nie. ’n Hele paar manne word “gesalf” daar waar die sambok bygekom het. En die oorsaak van die moles stap rond en soek iemand wat hom sal help om ’n skerp afgebreekte stuk draadloos uit sy hand te verwyder.

Dit was glo die goeie ou dae.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jerry

Dit was beslis die goeie ou dae Herman, deesdae is die skoen ongelukkig aan die ander voet. Wat ookal die rede daarvoor, is seker ook maar debatteerbaar, selfs uit n teologiese oogpunt.

Andreas

Herman, pragtig! Dit laat my nou aan ‘n kennis van ons dink, dis nou in die jare 1980. Hy was ‘n Springbok ondersteuner wat skrik vir niks, hy het met groot wedstryde mense uitgenooi om toetse by hom op TV te kom beloer, maar hy het ook ‘n té lang asem en baie braaihout gehad wat vir sy gaste nie altyd ten goede was nie. Hierdie was ‘n lang hou, soos ‘n lenige slot gebou, dieselfde lengte, hy kon snoeker speel, EN sy spesialiteit was kopwippe, veral as hy van die teveel opgewondenheid ingehad het, géén brieke nie. So sit… Lees meer »