Oom Herrie se kerrie: Fakture net waar jy kyk

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Vroulief is nou die dag dik van die lag. Sy het ’n rubriek van Annelie Botes gelees, en hoe die eienares van ’n kwekery wild boos vir haar man was oor hy vir haar ’n faktuur gestuur het vir ’n werkie wat hy vir haar gedoen het.

Vir ’n dag gee dit toe lekker binnepret in die Herries se huishouding af. Maak een koffie, sal hy of sy sê die faktuur is op pad. Was een die skottelgoed (Bloemfontein was dae sonder water en skottelgoedwas het ook ’n watertjie in die hande kry behels) dan is dit ook só.

Maar toe begin oom Herrie wonder. As daar in huishoudings nou regtig vir mekaar fakture gestuur moet word, wie gaan aan die kortste ent trek? Oom Herrie gaan loshande binne ’n dag kniediep in die rooi wees.

So drie jaar terug sou dit nie so vinnig gegaan het nie. Oom Herrie het byvoorbeeld gewoonlik aandete gemaak, en soms middagete ook. Jare gelede, as vrygesel, het oom Herrie geleer om só kos te maak dat as klaar geëet is, daar net een vuil bak is. Alles is daarin (gelyk) gaargemaak, en uit geëet ook. Alles moontlik danksy ’n mikrogolfoond wat nou al amper veertig jaar sonder probleme werk. Ja, sy draaiblad werk al jare nie, en sy liggie het gegroet, en hy weeg vreeslik swaar, maar hy werk nog.

Twee en ’n half jaar gelede het dinge egter verander. Oom Herrie is met twee kankers gediagnoseer, en chemo en hormooninspuitings het dadelik gevolg. Nie lank nie, kon oom Herrie nie meer lank genoeg op sy voete staan om kos te maak nie, en vroulief het dit by haar eie sakebedrywighede en huislike verantwoordelikhede ingepas. Sy het altyd ons jongste, Jandré, na sy kuns- en keramiekklasse geneem, terwyl oom Herrie hom saans na die judoklasse geneem het. Nie lank na sy die judo-verantwoordelikhede oorgeneem het nie, is sy kniediep betrokke, en was verlede kwartaal klaskaptein. Die klub bestaan meestal uit kinderhuiskinders en sy leef en beleef dinge saam met dié kinders.

Soms moet sy oom Herrie dokters toe aanry, en het dan ook gereeld ingesit om te hoor wat die bevindings is. Dit beteken vir oom Herrie ontsettend baie.

Was die rolle omgekeerd, twyfel oom Herrie of hy naastenby so sou kon bykom as vroulief. Selfs dan, dink oom Herrie sou hy met die fakture bitter gou kniediep in die rooi wees.

En van rooi gepraat. Dis minder as ’n maand van Kersfees af. Dan kom Kersvader, in die gedaante van ons jongste, geskenke uitdeel. Maar, so sien oom Herrie, daar is nou nog ’n rooi – baie mense wat hulle met Swart Vrydag te buite gegaan het. Op TV beduie een dat hy ’n yskas, ’n wasmasjien en ’n mikrogolf en nog goed gekoop het. Dit klink nie of hy al by Kersinkopies uitgekom het nie, dus gaan seker nog dieper in die rooi gesak word voor Nuwejaar aanbreek. Oom Herrie hoor juis sekere winkels het al ’n week of wat gelede hul Kersliggies en -versierings begin opsit.

Moes dit dus nie eintlik Rooi Vrydag wees, as almal in die rooi is nie?

Of is swart maar ’n beter beskrywing want almal is in die ê… sop?

Oom Herrie verneem die Ontvanger gaan groot geld maak dié vakansie – en nie net in die Kaap nie. Hy het nou daai masjien van hom wat bloed uit ’n klip tap, gemodifiseer tot klein masjientjies wat water uit ’n klip tap. So kan elke huishouding vir genoeg watter vir eie gebruik sorg.

Maar Omgewingsake dreig om klippe tot bedreigde spesie te verklaar …

Intussen, laat ons klaarkry met Krismis, en gereed begin maak vir ’n ware Christusfees.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ella ·

Herman, groot applous vir mevrou Herrie! Sy is meer werd as die spreekwoordelike korale. Black Friday was eintlik bedoel dat winkeliers se bankstaat uit die rooi kon kom, en in die swart (m.a.w. daar was geld in die bank!). Maar na dese is die kopers nou, soos jy tereg sê, in die rooi!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.