Oom Herrie se kerrie: Geswets in die hof

Argieffoto

Oom Herrie lees in die sosiale media dat gryskop omies die kop in ongeloof skud oor hoe veral jong vroue van wie die vernis al effe afkom, in ’n bekende moordverhoor swets. Is dit ’n nuwe mode, of het ons ’n voortsetting van sekere opvattings dat dit nou eintlik ’n gevorderde sosiale status weerspieël?

Wat oom Herrie laat dink aan ’n bekende rubriekskrywer wat jare gelede ’n damesgroep toespreek. Vir die rubriekskrywer het die term “dame” ’n bepaalde betekenis. Hy dryf die spot met die wat dink dis so “fênsie” om met ’n lang sigaret tussen rooi lippe en agter dik grimering te wees. Hy is nog aan’t verwys na die taalgebruik van hierdie kômmin vroue toe een agter in die saal opvlieg en vir hom skree: “Jy praat nie so van ons nie! Ons is &%*^ ladies!”

Natuurlik was daar in die ou dae vroue wat ook geswets het. Ouma het juis ’n vreeslike deftige vriendin gehad wat elke nou en dan ’n bal onderdeur geboul het, selfs Boontoe. Maar dit so gesofistikeerd gedoen het dat sy nêrens ’n uitgeworpene geword het nie. Wel die onderwerp van vreeslike geskinder as sy nie by was nie.

Maar dis natuurlik nie net vroue wat swets nie. Oom Herrie het jare gelede ’n hofsaak as hofverslaggewer bygewoon. Die landdros in die saak was op sy sedigste ’n platjie en soms skreeusnaaks. Die feite van die saak is dat ’n bekende Selous Scout se broer, wat self Rhodesiese kleure in bofbal en boks verwerf het, een nag in ’n hotel in Bloemfontein se hoofstraat tuisgegaan het. Die volgende oggend wou hy sy kar naby die hotel se voordeur trek om sy bagasie in te laai, maar wettige parkeerplek was daar nie. Na hy drie keer om die blok gery het, parkeer hy agter ’n geel streep.

Met sy terugkeer met die bagasie is daar twee boetebessies aan diens. Hy wil ry, maar die een boetebessie bly staan voor die kar, en uiteindelik is sy omgery, maar nie beseer nie.

Hy verskyn vir aanranding met die opset om ernstig te beseer, en crimen injuria. Hy ontken dat hy daai vieslikhede vir haar gesê het, maar dat hy vir haar “buck up” gesê het, glo ’n algemene uitdrukking in die Rhodesiese weermag. Al wat haar kollega weet, is dat die boetebessie wat hieroor gekla het, vir haar maat gevra het hoe spel ’n mens daai lelike woorde. Nou met die getuienis en die landdros se opsomming, het dit maar taamlik na ’n skolliewêreld in plaas van waardige hof geklink.

Oom Herrie moet darem self sê dat dit darem vreeslik hartseer is om tydens ’n rugbywedstryd te hoor hoe studentemeisies mekaar met die swetsery probeer oortref en so duidelik meen hulle maak die grootste indruk op die kêrels. Natuurlik aangehelp deur ’n voggie of wat.

Nou is daar iets wat ernstiger as ’n geswets opgeneem word. Die k-woord. Nou die dag sit een van mev. Herrie se kliënte en wag om gehelp te word, en oom Herrie self werk in die vertrek langsaan. Die man is ontsteld oor plaasaanvalle en die diewe wat skape se bene afkap. Maar toe trek hy los met die k’s en die m’e, oor en oor, asof iemand belangstel om dit te hoor. Ou Mieta is by oom Herrie in die vertrek besig om te werk, en hoor alles. Dis toe dat oom Herrie opstaan en hom gaan aanspreek.

En dis nie die eerste keer dat hy so aangegaan het nie. Trouens, hy was al in die hof hieroor. Ons vorige huishulp het dit tevore aangehoor, en was smoorkwaad. Die man was nog nie weer hier sedert oom Herrie op sy stertvere getrap het nie, en al is hy ʼn goeie kliënt, is dit waarskynlik beter dat hy wegbly.

Dit is eenvoudig dom om dié woordeskat in te span. Maar party mense verkies om die vrot appels te wees wat ’n ganse, landswye boereprotes teen plaasaanvalle, se waarde kan dwarsboom deur die ministers met skietgoed te voorsien.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.