Oom Herrie se kerrie: Hoe ry die trein!

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Kyk, treinry het sy nadele gehad, veral as ’n mens die melktrein op ’n lang roete “geslaan” het. Maar min dinge was ook so lekker soos treinry.

So kan oom Herrie menige keer onthou dat ’n groep kinders te voet strandlangs is van Kleinbrak af Hartenbos toe, en daar gerinkink het voor ons op die stasie vir die volgende trein gewag het. En nooit lank gewag nie. Soms wel met ’n goederetrein gery – so saam met die kondukteur in sy “dog box”.

Hieraan dink oom Herrie toe sus Martlie foto’s van ’n groot veldbrand by Kleinbrak stuur. Geen huis afgebrand nie, maar van die huise is swart gebrand en baie ander is vol roet.
En daai stuk veld loop oor die spoorlyn. Oom Herrie het gewonder wat die treine gemaak het as daar so ’n brand weerskante van die spoor woed? En dit was grote vlamme. Dit weet oom Herrie eerstehands want as kind het oom Herrie meermale daar gaan brandslaan. By geleentheid verkas die jonge Herrie so vinnig van die huis af, hy besef nie hy het sy deftige strooiskoene aan nie. Iewers, met ’n trapslag in diep as, voel oom Herrie maar daai voet raak warm. So voor oom Herrie se oë word die skoen van ligbruin so donkerbruin, maar slaan darem nie aan die brand nie. Maar die skoene was gou daarna daarmee heen.

Maar terug na die treinry en die “dog box”.

Vroeër jare was dit nog praktyk dat ’n familie ʼn lyk met die trein na sy finale aardse bestemming stuur. Die kis is dan agter by die kondukteur ingepak, wat darem gewoonlik so ’n soort syvertrek gehad het. Sommige families het ’n familielid as begeleier saamgestuur.

Een nag los een kondukteur ’n ander by ’n stasie af. Met die oorgee lig hy die nuwe kondukteur in daar is ’n kis langsaan, maar hy vergeet om te sê van die begeleier. Dis koud, en die kondukteur maak die venster toe. Om nog verder koue te verdryf, skink hy vir hom koffie uit die fles. So ingedagte is hy dat hy nie agterkom die deur agter hom het oopgegaan en die begeleier het ingekom nie. Ook hy is sleg verkluim, en beleefd vra hy ook ’n kommetjie gat.

Die arme kondukteur skrik hom in ’n ander bloedgroep in, en spring deur die toe venster die donker nag in, venster flenters. Eers by die volgende stasie kon die verkluimde begeleier by die lokomotief gaan rapporteer van die kondukteur wat nou al ’n hele ruk makeer. Die lokomotief word afgehaak, en ry letterlik op sy spore terug om die vermiste kondukteur te gaan soek. Gelukkig kry hulle hom, sommer sleg beseer. Voor in die warm lokomotief lawe hulle sommer die koue ook uit hom uit.

En hierdie storie is die reine waarheid – self by ’n afgetrede masjinis gehoor wat modeltreintjies gebou het om die nostalgie te verdryf.

Ons ken almal die formele uitdrukking van “fluit, fluit die bult uit”. Maar die herkoms van die effe minder bekende weergawe van “Sk*t, sk*t die bult uit” is nie algemene kennis nie. Dié kom, so word beweer, uit die Anglo-Boereoorlog toe die boere aanvanklik eers ghries teen ’n opdraande op die spoor gesmeer het. Terwyl die trein so staan en gly, het die Boere dan hulself aan die inhoud gehelp. Naderhand het die Engelse, wat taamlik eksepsie geneem het, vreeslik plan gemaak met pantsertreine en soldate en so aan. Selfs blokhuise gebou en vreeslike doringdraad gespan.

Maar voor dinge so drasties geraak het, het die Boere ook skraps geraak aan ghries. Dis toe dat hulle nat beesmis begin gebruik het.

En so hoor die voorbok Boer waar hy langs die uitgrawing vir die spoorlyn skuilhou, iemand roep van die trein af toe die trein die beesmis tref, “We are going to skate tonight.” Dié Boer maak nie so mooi van die Rooi Taal uit nie, en meen die man verwys na die nat beesmis met sy “skate”. En vandaar die “Sk*t, sk*t die bult uit.”

Oor hierdie weergawe kan oom Herrie nie so mooi vir die waarheid instaan nie. Wel van die tante van Hennenman wat met die trein vir familie gaan kuier het. Met die terugkom ry haar man met die perdekar dorp toe (wat toe nog as die stasie bekend gestaan het). Toe die trein by Hennenman stilhou, staan die tante op, sit haar tasse gereed, trek ’n borsel deur haar hare, en begin haar hoed prakseer. En daar ry die trein weer!

By Whites is sy van die trein af, tasse en al, en wag vir ’n trein terug Hennenman toe. Maar op Hennenman sit sy haar tasse reg, trek die borsel deur haar hare, en begin haar hoed prakseer… en daar gaan die trein. Op die perron sit haar man wat te bang is om sy voete op ’n trein-gedoente te sit, ’n hewige keel op, maar die masjinis en stoker hoor niks. By ’n graansuier ʼn ent weg Kroonstad se kant toe kry die tante afgeklim, en die stasiemeester reël met Kroonstad dat die volgende trein weet hy moet ’n tante oplaai. So gemaak.

Die keer is die tante ook meer gereed vir die afklimslag, maar uiteindelik sleep die oom haar van die trein af toe hy ’n hand kon bykry. Wie die tasse afgehaal het weet oom Herrie nie. En daar gaat die trein. Die bose oom, wat nie besef dit is nou al die hoeveelste trein waarmee die tante gekom het nie, storm vuiste in die lug saam met die trein, en gil vir die masjinis: “Engelsman, ek sal jou nog kry!”

Laastens, by Bethlehem was ’n baie gewilde huisdokter. Destyds nog plaasbesoeke by pasiënte gaan doen ook. Maar hy het ook nie vreeslik geduld gehad nie, en toe ’n tante met wie hy al lank spook om haar aansienlike oorgewig af te skud, duidelik nog swaarder by hom inwaggel is sy geduld op. Hy laai haar in sy kar, en ry met haar stasie toe waar hy haar op die perronskaal loop weeg. Dit was die laaste keer dat die tante dié huisdokter besoek het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

humor ·

In ons weermagdae was ons troepe bevoorreg om uit SWA Bloem of Tempie toe te ry. Grates beddegoed en 3 etes per dag met regte silwer eetgerei. En kon daai kokke uithaal en die heerlikste etes voorsit.

Ella ·

Kinderdae het ons ‘n paar keer na die destydse Suidwes met die trein gery. ‘n Lang, warm rit, maar tog ook baie pret. Skool-sporttoere is ook per trein afgelê…jolig is nie die woord nie! Niks was so lekker soos die oggendkoffie en etes in die eetkamer nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.