Oom Herrie se kerrie: Hospitaalhumor

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Selde, indien ooit, het oom Herrie in ongeveer een dag soveel humor beleef as die afgelope naweek in die hospitaal. Oom Herrie het skoon soos ’n nat vadoek gevoel.

Eintlik moes oom Herrie die vorige naweek vir ʼn bloedoortapping al in die hospitaal gewees het, maar oudste Nic en sy verloofde, Leandri, het die langnaweek kom kuier en die langnaweek boonop ’n bietjie gerek. Nic is plaasbestuurder op ’n vrugteplaas buite die Paarl, en ons het hulle meer as ’n jaar laas gesien. Die verlange was groot.

Oom Herrie het grasie gevra tot ná die langnaweek, en toe is die hospitaal volgeboek tot die Vrydag, en dis volgens ooggetuies ʼn baie bleek oom Herrie wat die Vrydagoggend gaan inklok het. Sommiges was minder diskreet, en het reguit gesê die oom het maar sleg gelyk.

Oom Herrie beland in ʼn saal saam met vier ander manne. Drie van die ander lyk of hulle op ’n sumostoei-uitstappie is, en twee van hulle is weens diabetes-verwante moeilikheid in die hospitaal. Net oom Herrie en ’n bejaarde boer in die oorkantste hoek, sal nie ’n skaal laat weghol nie. Die boer is egter vroeg ontslaan, en oom Herrie kuier verder saam met oom Faan Pieters van Welkom, Piet Africa en Rudi Valentine van Bloemfontein. (Nie heeltemal hul regte name nie.)

Hulle is al van die Dinsdag af in, en hul huistoegaan is telkemale weens komplikasies of verdere ondersoeke in die wiele gery. Maar soggens, so blyk dit, trek hulle om iemand se bed saam en op ’n rotasiebasis gaan een voor in gebed. Maar dit beteken werklike Christelike blymoedigheid, en vir elke stukkie goeie nuus word die Here geprys.

En as daar so lekker gekuier word en grappe gemaak word, word daar eintlik raadsvergadering gehou. Só word die personeel en ander besoekers ingelig. Die personeel speel saam.

Dis eintlik ʼn huis-hospitaal hoewel dit darem ’n hele klompie beddens het. Maar sekere insidente is vir oom Herrie ondenkbaar in ’n ander hospitaal. Soos die Saterdagoggend vieruur was Piet skynbaar deur die slaap ongeskik met twee nagdienspersoneellede. Oom Herrie weet nie wat gebeur het nie, want dit was droomlandtyd. ’n Ruk later, toe die dagpersoneel aan diens kom, gaan “groet” die twee nagdienspersoneellede vir Piet. Hulle betrek hom weer aan die slaap, boor met die vinger in sy oor, gee hom ligte klappies oor sy kaal bolyf, en so aan. Die ander “raadslede” wil hulle breeklag, en Piet lag self goedig want hy weet dit was na verdienste (en in ’n goeie gees bedoel).

Die afgelope twee jaar en ’n bietjie, was oom Herrie baie dikwels in die hospitaal. ’n Paar keer in die onkologiesaal ook, en dan saam met die onkologiepasiënte wat te siek was om die naweek huis toe te gaan. En behalwe vir die heel eerste opname, kan oom Herrie nie ’n enkele keer onthou wat hy nie deur die ander pasiënte se opgewektheid en blymoedigheid getref is nie. Ook pasiënte wat baie sieker as oom Herrie was, en waarvan ’n paar intussen reeds vir hoër diens opgeroep is.

Die feit dat oom Herrie nou perdesalf inspan om sy voete wat erg deur die chemo geraak is weer aan die gang te kry, het heelwat reaksie van die “raad” en personeel ontlok. “Solank, prrrrr, dit hiehô werk, solank sal oom Herrie dit gebruik prrrr,” verweer oom Herrie.

Saterdagoggend na die bloedoortapping, vertel al wat leef hoe goed oom Herrie nou lyk. Tot rooi wangetjies ook.

Maar oom Herrie blom want hy gaan terug huis toe – na Mev. Herrie wat ’n steunpilaar sonder weerga is, na Jandré en Nala en Leila toe. En was hulle bly om oom Herrie weer tuis te sien!

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ella ·

Herman, baie dankie dat jy al jou ervarings met ons deel. Dis ‘n groot genade dat jou mede-“inwoners” jou opbeur, en jy vir hulle. Weet dat almal vir jou (en julle) bid – vriende asook onbekendes! Mag jy Krag ontvang vir elke dag.

Theo Visser ·

Dankie oom Herrie vir jou verhaaltjies wat altyd ‘n hoogtepunt is .Ons dank ons Vader dat jy weer uit en tuis .Sterkte

John ·

Daar is werelde op aarde wat net deur die dapperste onder ons bereis mag word om daar die skaars vrugte van egte menslike begrip van die naaste se pyn en verdriet te beleef. En om dit neer te pen… met ‘n doring gedoop in… iets amper soos perdesweet na ‘n groot aanslag… vra nogal…

Vaalseun ·

Dink aan jou in hierdie tyd, Herman. Sterkte en genade vir jou in jou lyding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.