Oom Herrie se kerrie: Is ons ge-‘drop’?

Argieffoto

Oom Herrie praat nou van die subspesie waartoe hy self behoort – die liefhebbers van drop, bekend as die droppeteurs.

Nou ja, dis seker nie vreemd dat so baie Afrikaners lief vir drop is nie. Ons Nederlandse voorouers is die voorste drop-eters in die wêreld, en eet gemiddeld so 2 kilogram per jaar. Ook die Skandinawiërs en Duitsers is lief vir die lekkerte.

Die klein Herries, toe nog in Stellenbosch woonagtig, het nie sakgeld gekry nie, en daai lang, plat stukke drop teen eers ’n pennie, en later ’n sent stuk, kon maar net gekyk word. Maar daar is plan gemaak. Die sementblad van ’n stormwaterinlaat op die sypaadjie het ’n gawe kafee afgegee. Onder die maats wat wel wat sakgeld gekry het, is só ʼn straatkafee in ʼn japtrap ingerig. Tussen Dalsig, waar ons gewoon het, en die dorp waar lekkergoed andersins aangeskaf kon word, was die berugte Dalsigbult. Die bult het as genoegsame motivering vir die “waardetoevoeging” gedien sodat dit soms moeilik gegaan het om met verkope voor te bly van kinders (met geld) wat die bult ontsien het om lekkergoed ’n rapsie goedkoper in die dorp te gaan aanskaf.

Sodra die winsie groot genoeg was, is die winste verdeel en drop aangeskaf. Swart bekkies was volop.

Toe trek die Herries Bloemfontein toe, en drop was net nie te vinde nie. Tot op ’n dag, sien oom Herrie ’n klasmaat drop eet.
“Waar kry jy die drop?
“Die wat?”
“Dit wat jy besig is om te eet.”
“O, die licorice?”

Drop is seker die Engelse naam vir licorice, besluit die groep wat ook nog nie van drop gehoor het nie.

In elk geval, met die naam licorice toegerus kon oom Herrie weer drop bekom.

’n Paar jaar later beland oom Herrie, van alle dinge (en moet asseblief nie lag nie), op ’n kulturele uitruilskema in Nederland. Eindelose katedrale en opvoerings, baie pret – en drop. Ja-nee, geen twyfel nie, drop is die regte woord. En die Nederlanders het zoute drop, en vir wie dit te mak is, dubbel zoute drop, en ’n reuse verskeidenheid ander variasies.

En skielik rapporteer Mev. Herrie sy kan glad nie meer drop in Bloemfontein in die hande kry nie. Iemand bevestig dat Bloemfontein ’n drop-skaarsste beleef. Maar dit bly so, en om licorice te soek, help ook niks.

So twee weke gelede bring ons oudste en sy verloofde ’n groterige pak drop van die Kaap af saam. Ook ’n ander soort lekker met drop gegeur. So gerantsoeneer soos moontlik, maar die onttrekkingsimptome was al te erg.

Maar dis nou op.

Dis toe dat oom Herrie gaan oplees, ook sommer om vas te stel of daar dalk iewers ’n misoes was of iets wat die droppeteurs van die Rosestad ge-“drop” het. ’n Oorsaak spring egter nie in die oog nie. Wat oom Herrie wel wys word, is dat drop van die wortel van die Glycyrrhiza glabra gemaak word, wat inheems aan Eurasië en Noord-Afrika was, maar nou omtrent wêreldwyd gekweek word. Van oudsher is dit as medisyne vir ’n klomp goed gebruik, maar elke jaar, so lyk dit, word nog gesondheidsvoordele daarvan ontdek.

Seker dié dat drop lankal nie meer ’n goedkoop lekkerny is nie.

Maar … dit kan ook ʼn klomp slegte gevolge hê as ’n mens te veel daarvan eet, soos hoë bloeddruk na bewering. Maar dit is glo weer goed vir ’n maagseer, en volgens aansprake het wetenskaplike ’n pulp daarvan gemaak wat op kankersere geplak kan word, en heel doeltreffend is. Lang lyste van gesondheidsvoordele is op die internet.

Maar oom Herrie wil liefs niks bevestig nie.

Vir oom Herrie gaan dit oor die smaak, en so ’n ongemakkie na bloedoortappings wat drop sommer gou fieks. En oom Herrie het juis ʼn week ná Oudste se besoek weer ʼn bloedoortapping gehad. Maar voor oom Herrie se maag nog kon dink hy is vas toe is hy al weer los.

Maar nou is ons ge-“drop”.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Oom Herrie moet ook oplees oor die nadele soos die skade aan die byniere, soos die’ wat te veel kortisone aanrig en die mens se natuurlike weerstand permanent beskadig. Die swart gif is natuurlik ook baie verslawend, byna soos sigarette, omdat dit ‘n natuurlike hormoon se werking oorvat en ons sodoende flous… Alles op aarde is baie slim hetsy slinks.. selfs klippe… kyk hoe lyk ‘n mens nadat een jou teen die kop sou tref.

Koos1 ·

Jip Herman, ek is ook ‘n sucker vir drop, maar egte Hollanse drop. Hier in my stad (Pretoria) kan jy dit vrylik bekom, maar jou beursie moet maar dikkerig wees (400g vir R55), en nou begin my kinders (tans 12 en 8) ook die lekkerny waardeer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.