Oom Herrie se kerrie: Jan Spesiaal

mes

Foto: Pixabay.com

Om ten beste te verduidelik wie Jan Spesiaal was kan ’n mens seker by een van sy talle hofverskynings begin.

“Nee edelagbare, ek het nie ’n bende nie en ek is nie lid van ’n bende nie. Ek is ’n onafhanklike kontrakteur; ek freelance.” Die verhoor is op versoek van die polisie in camera en hy vervolg: “Ek freelance primarily vir die polisie.”

“Met ander woorde, jy is ʼn polisie-informant?” wil die landdros weet.

“Dis reg edelagbare.”

Jan het inderdaad die vermoë gehad om genoegsaam in Rouvallei se bendes se goeie boekies te bly.

“U sien, edelagbare, ek het spesiale skills, en dan maak die een, dan die ander daarvan gebruik. Ek sit altyd ’n masker op dan kan niemand met sy hand op die Bybel sê dit was genuine ek wat betrokke was nie.”

Vir Jan Spesiaal was dit min of meer om’t ewe of hy binne of buite die tronk was. Hy is byvoorbeeld daarvan verdink dat hy die meesterbrein was dat die beskuldigdes vir ’n paar dae na mekaar stormdronk in die hof verskyn het.

Ná ’n grootskaalse ondersoek is vasgestel dat ’n sersant toegang tot ’n parsery se gegiste moes gekry het, en dié in die geut onder die hofselle se tralievensters laat afloop het. Toe verkoop hy strooitjies aan die gevangenes waarmee hulle hulle aan die moes kon behelp.

Sonder Jan as informant sou die polisie maar ’n opdraande stryd teen Rouville se bendes gevoer het. Maar bykans elke misdaad word na ’n ruk danksy Jan Spesiaal ontrafel en die skuldiges tronk toe gestuur. Af en toe “verklap” Jan Spesiaal homself, dat hy ook ’n rukkie gaan “sit” en sy “cover” nie geblaas word nie.

Maar in die proses het Jan se veroordelings so baie geword dat hy tot gewoontemisdadiger verklaar moes word. Vandaar die versoek van die polisie dat die saak in camera moet wees. ’n Week of wat se bed en verblyf was vir Jan een ding, maar langtermyngevangenisstraf ’n heel ander.

Maar die landdros is dié dag nukkerig en dit lyk al hoe meer of sy haar mes vir Jan Spesiaal in het en hy sy alie gaan sien. Jan self besef later dat die gewone regsargumente (waarmee hy baie goed vertroud was) nie gaan werk nie. Terstond begin hy die landdros as “edeldierbare” aanspreek, en jou werklik, hy begin haar sag maak.

Uiteindelik staan die verrigtinge einde se kant toe. “Beskuldigde,” sê die landdros. “Ek hoop nie om jou gou weer hier te sien nie.”

Jan, al goed gemaklik, vra: “Gaan u en u gesinnetjie dan so ’n bietjie wegbreek see toe?”

Jan is egter die een wat ’n rukkie uit sirkulasie gehaal word en selle toe geneem word.

Maar bendes neig om later informante onder die polisie te kry. Die volgende oggend lê Jan Spesiaal koud op sy kooigoed, met die hef van ’n mes wat nog uit sy borskas steek.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.