Oom Herrie se kerrie: Krap agter die oor

Argieffoto (Foto: Pezibear, Pixabay)

Elke keer wat oom Herrie ’n hond sien wat hom behaaglik krap, dan speel gemengde gevoelens in hom af. Ja, dis instink om ’n hond van vlooie (en veral bosluise) te bevry, maar in die proses word daai arme hond ook baie heerlike krapsessies ontneem.

’n Hond is behoorlik besnaar om te kan krap. Krap jy vir Woef op die regte plek, gaan daai agterpoot onwillekeurig aan die krap.

Dis nou saligheid.

En as die hond nog agter die oor krap, soveel te lekkerder. Dis so ’n sielsalige droomverlore kyk wat uit daai oë kom. Selfs katte ken die kuns, maar dan moet die naels darem ver genoeg ingetrek wees.

In Afrikaans is “kopkrap” meer hipoteties bedoel. Trouens, oom Herrie dink dis seker taamlik ongepoets om in die geselskap te sit en kopkrap, so asof die breinselle mooi in beroering gebring word. As oom Herrie byvoorbeeld skryf die ringkoppe van die beheerraad gaan koppe bymekaar sit en kop krap oor ’n paar kwessies, is dit net daai bietjie meer beskrywend as om te sê hulle gaan oor sake besin. Al word nie een kop regtig gekrap nie.

Maar Suid-Afrikaners is nie al wat spreekwoordelik kopkrap nie. Die Nederlanders ook, maar meer spesifiek … reg geraai… agter die ore. ’n Ondersoek het pas aan die lig gebring dat, vir die eerste keer in ’n dekade, die meerderheid Nederlanders optimisties is. Die Sociaal en Cultureel Planbureau weet nie mooi wat dit so skielik veroorsaak het nie. En wat gaan doen die ringkoppe?

“SCP-onderzoeker Paul Dekker krabt zich erover achter de oren,” skryf Trouw.

Dis natuurlik ’n heel ander storie as ʼn mens iewers elders ’n raadsvergadering moet gaan bywoon, maar net slaapplek in ’n nie-te-wafferse-nie hotelletjie kry. Die volgende dag, in daai vergadering, word nie net agter die ore, of op die kop gekrap nie, want die bedvlooie is besig om ’n mens oral op te vreet. Gelukkig hoor ’n mens nou regtig selde van dié moeilikheid.

Sondag het die bekende Tim du Plessis op Netwerk 24 nog ’n variasie aangeraak, naamlik om iemand agter die oor te kielie. Dit kom daarop neer, as oom Herrie dit reg verstaan, dat as dit gereeld gedoen word, dit rassisme kan genees.

Dit laat oom Herrie dink aan jare gelede, in standerd 4 (nou graad ses) toe die onnie vraestelle nagesien het, en die klas veronderstel was om hersiening te doen. Dis met ’n rondkykslag dat die jonge Herrie sien hoe Spuitjie vir Wolfie met ʼn veertjie agter die oor kielie. Wolfie skrik só dat hy op slag sy bank omkeer, en sy oop inkpot teen Ollie se bors vasskiet. Ollie was vir die snaaksigheid besig om ’n halwe sigaret wat hy op die skoolterrein opgetel en met sy vergrootglas in die sonnetjie gemaak brand het, te teug. Dus skrik Ollie dubbel. Saatjie, ’n groot maar half ongure knaap, kry ’n hou in die rug. Instinktief kom die groot vuis omgeswaai, maar Wintie wat agter hom gesit het, het dit sien kom en gekoes. Toe maak Wintie dit vir die deur, voor die verdwaasde onnie se neus verby, met Saatjie agterna. Maar Saatjie se voet haak aan ’n skooltas, en almal kon hoor hoe sy arm breek toe hy die vloer tref.

Dis so min of meer die hooftrekke. Die skoolhoof word ontbied, maar die onnie raai aan dat daar liefs nie slae uitgedeel word nie.

“Meneer ken mos die storie van Jerigo se mure?”
“Ag ja,” sug die skoolhoof.
“Wel, ek dink ons gaan net so min hier die skuldige opgespoor kry. Buitendien, Ollie moet uit daai klere kom en self skoon kom. Gelukkig is sy ouers taamlik welaf, maar ongelukkig is sy pa ’n prokureur.”

Saatjie is intussen deur ’n onnie hospitaal toe geneem. Minstens vier inkpotte is omgekeer, en dit gaan nie maklik wees om die klas skoon te kry nie.

“En klink my ’n veertjie het als begin,” sug die onnie.

Lyk vir oom Herrie om kielie agter die oor, as kuur vir rassisme te gebruik, het darem die voorbehoud dat die een wat so bederf gaan word, vooraf moet weet dit gaan gebeur.

Dink net hoe sou dit in die parlement gaan as ’n DA-LP goedbedoeld vir die duttende Julias agter die oor moet kielie?

Met ma Johanna se afsterwe, kom boet Nico op ’n brief onder haar goed af wat oom Herrie vyftig jaar gelede vir ouma Meyer geskryf het. Die skrif verklap dit was die kleine Herrie se handewerk, maar oom Herrie onthou van die brief niks nie. En die inhoud help ook nie: “Dit gaan goed by die skool, en ek kry vir omtrent alles volpunte.”

Sies, maar so ʼn Herrie kon darem glad lieg. Sommer vroeg-vroeg ’n trek vir die politiek ontwikkel.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre Diederichs ·

Herman se artikel oor Duiwelspiek se naam wat moet verander het betrekking. Die piek (kop) was skynbaar twee name genoem in die verlede , naamlik Windberg en dan die Hollandse Duivenkop. Dis simbolies kragtig want wind en gees is dieselfde woord in Hebreeus, naamlik ruach. Die duif is simbolies aan die Heilige Gees. Die Heilige Gees (Ruach Elohim of Ruach Ha”Kodesh) het dan ook die Jode besoek in die woestyn in die vorm van ‘n sterk wind. Die wolke wat gereeld op die piek (kop) vorm is soos ‘n kombersie , en laat my dink aan GOD se teenwoordigheid (Shekinah -the place where God dwells). Leeukop is Jesus (the leeu van Juda) en Tafelberg is die tafel waar GOD die feesmaal voorberei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.