Oom Herrie se kerrie: Mindae-trein

Argieffoto (Foto: Fotoworkshop4You, Pixabay)

Kanonier Frans Bodendijk is meer as net ligweg geïrriteerd. ’n Mens kan al die mindae-trein tik-a-tik by Walvisbaai se stasie hoor intrek, en nou moet ’n troep hoor van die moontlikheid dat die diensplig nog drie maande verleng kan word…

Maar dis nie al nie. Van die nuus gekom het van tirs wat lus het vir oor die grens kom, en selfs Suidwes se binneland wil indring vir sabotasie, moes die dienspligtiges wat nou al behoorlik ou manne was, weer in teen-insurgensie-oorlogvoering opgeskerp word.

Hiervoor word die Kusebrivier wat ondergronds deur die Namib beur, se breë loop ingespan. Hier is bome en gras, ideaal vir troepe om deur die sanderige loop te beur en hul R1’s saam te dra wat natuurlik met loskruitpatrone gelaai is. Hiermee word op die “vyand” losgebrand.

Maar dis baie moeite vir ’n ouman, wat al sy dingetjies begin pak het vir die vier dae en vier nagte op die trein terug huis toe. Pa en ma wat amper ’n jaar laas gesien is, en natuurlik sy troepie-doepie-meisie wat so pligsgetrou geskryf het.

Frans is nog meer suur toe hy met die “stronk” in sy een hand, en die R1 in die ander, ’n “plasie” moes gaan vang. So ’n ent van die tydelike basis, en half teen ’n skuinste, stroop hy sy oorpak af en gaan hurk. Hy haat dit om in die veld “plasies” te vang.

Hy sit nog so en luister na die tik-a-tak van die mindae-trein, toe klap daar ’n skoot so ’n ent van hom af. Sy hoed word van sy kop afgepluk, en hy voel ’n branderigheid deur sy kort troepiehare slaan. Frans het altyd gewonder – sal hy ’n paniekaanval kry as die regte skote om hom klap, of sal hy kophou? Tot sy verbasing is daar geen vrees nie, net ’n vreeslike slegte bui teenoor die tirs wat sy dinge so deurmekaar kom krap. Frans skiet die oorpak aan. Van agter die bos waar die skote nou die een na die ander kom, hoor hy ’n gegrinnik, en hy is nog kwater. Maar dan is hy op vol vaart, R1 op die heup en hy laat wiel boslaanskiet-styl op die bos. Hy is ’n yster met boslaanskiet. Maar hy het vergeet dis loskruitpatrone, en hy wurg om nie nou ʼn paslike woordjie te uiter nie. Netnou veroorsaak dit nog ʼn drie maande doer weg van die huis af.

Hy duik in ’n vlakkerige slootjie. Teen dié tyd word daar vanuit verskillende rigtings op hom geskiet, en die vlakkerige slootjie gaan nie keer nie. Hy druk op sy bo-sak, en glimlag. Daar is drie plastiese koeëls wat hy self gemaak het in. ’n Mens maak dit van die “blanks”, en omtrent al die troepe het vir hulle ’n paar gemaak. Saans, so saam in die slaaploods op Rooikop so 20 kilometer en ’n aks die woestyn in, lê die oumanne dan in die bed en skiet teiken na goed, of skiet sommer ’n gaatjie deur die sinkdak. Dit reën mos nie hier in die woestyn nie.

Blitsig laai Frans sy geweer met die drie plastiese koeëls. Gelukkig onthou hy om die gasprop op die blitsbreker af te haal. Dan spring hy op en haal uit vir ’n hoërige sandwal. So in die hardloop laat loop hy ’n plastiese koeël in die rigting van die bossie van waar hy uitgelag is. Met genoegdoening hoor hy ’n pynlike gekreun daarvandaan kom. Dan trek hy met ʼn agterstevoor Fosbury-flop oor die sandwal. Agter hom is ’n harde slag en die sand in die holte waar hy gelê het maak sambreel. So, die bliks**s het ’n bazooka!

Frans se maats kom holderstebolder nader gehardloop uit die tydelike basis uit. “Wat gaan aan?” roep die voorste.

“Dis die tirs! Hulle is klaar hier!”

“S*&^%!” laat hoor die bombardier. “Nou het ons nie eens ammunisie nie.”

“Hoeveel van julle boys het plastiese koeëls hier?” vra Frans. So onder die troepe diep hulle ’n stuk of 15 plastiese koeëls op. Intussen begin die radioman oor die radio roep vir versterkings. Danksy die teenwoordigheid van ’n TA-mannetjie wat vir die kanonne hul koördinate uitwerk, kan hul presiese ligging gegee word.

Raait, ek het iemand van daardie bos en daardie bos sien skiet, en ek dink die ou met die bazooka is agter daardie bos,” sê Frans.

Dan klap die skote, en dis die keer ’n paar minder tirs wat terugskiet. Die bazookaman was skynbaar op die punt om ’n vuurpyl af te vuur, toe hy deur ’n plastiese koeël teen die wang getref word. Dis oombliklik net bloed en hy brul van die pyn, en die bazooka skiet die vuurpyl loodreg die lug in.

Die troepe val terug na hul tydelike basis wat beter beskerm is, en wag om aangeval te word, of vir versterkings van Rooikop af.

En dit is ’n indrukwekkende prentjie. Dis Elande en gepantserde troepedraers wat by die basis uitstroom, gevolg deur ’n paar gewone troepedraers. Van Rooikop se lughawe kom ’n aantal helikopters aangevlieg. So in die ry word regte ammunisie uitgedeel.

Kort voor lank is die tirs aangekeer. “Watse wonde is dit wat hulle het?” wil die mediese ordonnans weet. Die troepe trek net hul skouers op.

’n Paar dae later kom die nuus dat bepaal was dat dit net ’n soort verkenningseenheid is wat uitgestuur is, en dat die vergrote bedreiging op die grens nog nie gerealiseer het nie. Soos gebruiklik word die troepe mooi laat verstaan dat die voorval nooit plaasgevind het nie. Dit moet ’n groot geheim bly.

En die mindae-trein kan die troepe huis toe bring. So met die duine aan die een kant, en die see aan die ander, kan sommer gelyk van woestyn en see afskeid geneem word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Theo Visser ·

Pragtige storie uit die army dae .Goed vertel,voel of mens deel daarvan was.Dankie Herman

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.