Oom Herrie se kerrie: Moenie Nigeriese medisyne vlak kyk nie

Argieffoto (Foto: mmmCCC, Pixabay)

Met dié dat prins Herrie nou die strop om die nek gekry het, sal dinge in die media seker mettertyd na normaal terugkeer. Iewers in die proses het Lord Oom Tom en Sir Dick agter gebly. Maar so van name gepraat, die afgelope drie jaar is oom Herrie darem al deur vragte medisynes en pille om ’n man ’n paar leeftye besig te hou.

Mev. Herrie hou nogal by met van die name, maar oom Herrie se kop haak gewoonlik aan die ongewone name. Of ongewone “produkte” se name. Soos marawan …

Dan is daar nog die generiese produkte wat ook hul eie naam het. Of deftige name met ’n doodgewone volksnaam, soos Sutherlandia wat in die handel en wandel as kankerbossie bekend staan. En stringe goedbedoelde mense het oom Herrie aangeraai om “marawan” (dagga) te gebruik.

Oom Herrie se een kanker (die ander is skynbaar in remissie) veroorsaak onder meer kouekoors, en so in die aanloop winter toe is dit nie ’n grap nie. Om dit teen te werk gebruik oom Herrie ’n generiese p@nado. Dit is baie billik.

In die medisynekas staan daar ook ander generiese middels. Want hulle werk en hulle is soms baie goedkoper as die ware Cyril (Jacob is mos laas afgesit, as oom Herrie die ding reg verstaan).

Nou die dag verspreek vroulief haar, en in plaas van “generiese” praat sy van die “Nigeriese” medisyne wat sy nou weer gaan aanskaf. Op slag word in ons huis van die Nigeriese middels gepraat, al word die gewone generiese bedoel. Oom Herrie dink nie in enige apteek in die omgewing sal enige regte Nigeriese middels verkwansel word nie. In plaas van die kouekoors verdryf, dink oom Herrie die Nigeriese p@nado sal die pilnemer al te lekker hoenderkop maak. In plaas van die ingewande kalmeer, sal die Nigeriese Pectrol*t% die pasiënt vreeslik laat knyp en hol.

Onder kankerlyers is daar ’n wye geloof dat hulle genees sal word as hulle hul liggame alkalies sou kry. Iets wat uit omtrent al wat hoek is hiervoor aanbeveel word, is die gebruik van suurlemoene. Met matriekbiologie kon oom Herrie daai ene nie kleinkry nie. Die onkoloog verduidelik dat die liggaam homself graag in balans probeer bring, en sal hy gou suur vervaardig om die baie alkali teen die werk. En boonop weet die wetenskaplikes van “Hoe verklaar jy dit?” nie waar die storie van suurlemoene wat alkalies is vandaan kom nie.

Maar die storie kleef soos ’n neet.

Onkoloë en ander dokters neig om sag op kankerlyers te wees, veral vir diegene waar daar geen of min hoop is nie dat erkende behandelings hulle gesond gaan maak. Dan laat hulle hul gewoonlik begaan met die groot verskeidenheid produkte wat ander aanbeveel. Wie weet, dalk op ʼn dag werk iets regtig.

Oom Herrie is oortuig dat die kankerbossie help. Trouens, Suid-Afrikaanse navorsing toon dit werk, maar ongelukkig nie vir Vigslyers (dalk) ook soos voorheen geglo is nie. (Lees hier). Mense wat deur kankerbehandeling uitgeteer is, kan byvoorbeeld hierby baat.

Oom Herrie vra weer … moenie wag as onraad vermoed word nie – laat kyk. Baie soorte kankers kan genees word as dit betyds ontdek word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

remondo ·

Stem saam laat kyk voor te laat is … sterkte met jou stryd…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.