Oom Herrie se kerrie: ʼn (Kort) seisoen van rolstoelry

Argieffoto (Foto: MabelAmber, Pixabay)

Iemand wat dink dat iemand anders wat in ’n rolstoel ry het dit lekker, moet ’n slag self ’n paar dae noodgedwonge van ’n rolstoel gebruik maak. Dit het oom Herrie pas oorgekom.

Maar eers gaan haal oom Herrie die storie taamlik ver. Oom Wimmie was oupa Nic (skoonpa) se ouer broer. Nooit getrou nie en het op die aangrensende grond as oupa Nic geboer. Oom Herrie weet dis taalkundig verkeerd, maar kan nie anders as oom Wimmie as ’n “goeiste” mens, as trappe van vergelyking vir goed, te beskryf nie. Nee, oom Wimmie was sekerlik nie die beste mens, soos beste boer, beste geselskap of so nie, maar sy hart het net goedheid gepomp. Soos oom Herrie dit het, moes hy selfs grond vir weiding huur omdat sy eie grond te veel vee van die werkers, plakkers en selfs die plaasskooltjie se skoolhoof (selfs na haar aftrede) geroofdra het.

En dis juis oom Wimmie wat die eerste in ons nabye familie word wat deur ’n plaasaanval getref is. Hy is by sy opstal oorval, met ’n mes gesteek en in die koue met ’n draad vasgebind gelaat. In die vroeë oggendure kon hy homself loswoel en met ’n trekker (sy bakkie is geroof) na oupa Nic-hulle ry. Hier het hy ’n hele ruk gebly voor hy kans gesien het om weer huis toe te gaan.

En toe kry hy beroerte, op die randjie van ’n 40 meter afgrond op die plaaspad. Die beroerte was vermoedelik ’n nagevolg van die plaasaanval. En so is oom Wimmie na ’n sentrum, en was hy rolstoelgekluister. Selfs met oupa Nic se begrafnis moes die kombi waarin hy met rolstoel en al gelaai was, so getrek word dat hy die verrigtinge self kon volg. Die hartverskeurendheid in sy oë was iets baie erg om te sien.

En toe kry oom Herrie self sy kort seisoen van rolstoelry. ’n Kombinasie van twee breukoperasies wat gelyk uitgevoer is, en ’n besonder harde uitwerking op lendelam bene van chemo-behandeling, het oom Herrie se bene so te sê kragteloos gelaat. En toe breek die seisoen aan. Oudste trou in die Paarl waar hy plaasbestuurder is, en ma Johanna, wat self jare in ’n rolstoel was in ʼn inrigting in Hermanus weens demensie, sterf net ná sy 90 (en oumagrootjie) geword het. Die dokters hier span saam om oom Herrie reisvaardig te maak – bloedoortapping, chemo, operasies, weer bloedoortapping en toe lughawe toe, waar die eerste rolstoelry wag. En nee, hulle het nie meer daai matsjien wat ʼn mens ophys nie. Jy word met ’n spesiale stoel soos ’n draagbaar opgedra. Oom Herrie het verkies, om met iemand wat weerskante help, die trappe van die vliegtuig self te bestyg.

In Kaapstad is daar nie trappe nie, maar sulke lang wurms wat die passasiers regstreeks van die vliegtuig na die lughawegebou neem. In die wurm kry ek my tweede rolstoelrit, en lang, lange gange later is ons by die punt waar ons bagasie kry. Toe weer verder waar ons vir oudste en sy verloofde, wat nog moes werk, moes wag. Daar verlaat die rolstoel ons. En die toilette is ver. Twee kruk-uitstappies daarheen het oom Herrie van alle reserwe-energie gestroop en toe maar geknyp.

Op pad Paarl toe is oom Herrie by die naaste vulstasie aan. Die eienaar sien oom Herrie met die krukke aankom, en draf vooruit, na die spesiale gerief vir mense met gestremdhede (die deur met die rolstoel op). Maar dié is beset en oom Herrie hou verby na die “gewone”. Die ander deur gaan oop en ’n ongestremde stap uit, en word flink deur die eienaar uitgetrap.

By die huis wag die rolstoel wat vir die ekskursies gehuur is. Die volgende oggend – die groot dag – moet oom Herrie en ouboet die gehuurde pakke gaan afhaal.

Nou enigeen wat gedink het die Paarl se sypaadjies is lekker glad en gelyk het dit nog nie met ’n rolstoel aangedurf nie. Nie ná twee breukoperasies wat opgewonde raak oor elke hobbeltjie en duikie nie. Ouboet dryf. Hy het darem soort van ondervinding. As student het hy gereeld ’n afgetrede vriendin van mev. Herrie, en ’n afgetrede suster wat die gemeente aan hom toebetrou het, dokter toe geneem. Beide kon slegs met groot moeite loop, en die gange by die hospitaal is baie lank. Die een het sonder teenstribbeling in ’n rolstoel geklim, en dan is lekker in die lang gang ge-Kayalami. Die ou dame het skoon gejil van die plesier.

Maar die ander, so stadig soos ’n slak, was gans te veel van ’n lydie en het verseg om in die rolstoel te klim. Dit het ouboet die mure uitgedryf. In die Paarl gaan dit met die stamperige sypaadjies nie so maklik nie. Tot by ’n kruising waar ’n “duikweggie” rolstoele van die sypaadjie tot in die straat neem. Lekker spoed vat teen die afdraande, en die oorkant uitstorm. Anderkant is nog ’n duikweggie om die rolstoel tot op daardie sypaadjie te neem. Ouboet storm weer, en oom Herrie sien HKGK. Mooi in die middel is die twee sementlae wat die twee helftes verbind, seker ’n goeie vier sentimeter waar die een laer as die ander is. En die rolstoel het nie ’n veiligheidsgordel nie. Oom Herrie klou verbete, maar toe daai klein voorwieletjies die walletjie tref, stop die stoel botstil, en oom Herrie sit skuins heel voor. So amper gerol op daai sypaadjie. Die terugtog, met die gehuurde pakke op die skoot, verloop heelwat gladder.

Die middag by die huweliksplek, blyk dit vir elke item is ’n ander plek reggemaak, ver uitmekaar. Nou is dit ons jongste, ook 1,85 meter in sy sokkies, en so sterk soos ʼn bees, se werk om sy pa van plek tot plek te stoot. Maar die eens lower grasperke is nou sandputte met sulke draderige ranke wat nog die skyn van grasperk probeer wek. Dis bitterlik droog in die Kaap. En daai rolstoel gaan steek kort-kort vas. Dan werk oom Herrie maar die wiele met die hande, en gereeld spin die spulletjie behoorlik in die sand, maar roer, aikôna. Dan is dit ʼn Samaritaan of twee wat kom hand bysit. Maar uiteindelik is ons by die plek waar die troue self plaasvind.

En voor oom Herrie klink of hy kla, dit was ʼn pragtige seremonie, met ds. Willem Dykema, Hervormde predikant van Bloemfontein en jare lange vriend van ons oudste, wat onverbeterlik optree. Toe is dit weer langpad na die plek waar die huweliksregister onderteken word. Die laaste ent moes oom Herrie noodwendig weens trappies, met die krukke aflê. Toe wil die fotograaf ’n foto van die ouers en grootouers neem wat hande opmekaar sit, en oom Herrie kry so skaam vir sy vuil hand van wielstoot wat ook op die bondeltjie kom.

Toe foto’s en nogmaals foto’s, en toe weer die ent na waar die huweliksonthaal plaasvind. Die keer gebruik oom Herrie die krukke soos roeispane. Oom Herrie was in sy jonger dae ’n bedrewe roeier, en dit gaan heel flink, al is oom Herrie se arms nou sou dun, by die hospitaal druk hulle nie meer die naald in die arm nie, maar die arm in die naald in. Mense lag, maar dit gaan flink. Hoe goed dit vir die breukoperasies was, weet oom Herrie nog nie.

Nie lank nie, word weer teruggeroei, want die fotograaf wil nog foto’s neem. En toe weer terug na die onthaalsaal. En toe is oom Herrie moeg hoor.

Die volgende dag in Onrus by ma Johanna se gedenkdiens, gaan dit darem beter. En die dag daarna by Kaapstad-lughawe ook so, maar met vreeslike nors personeel. Tuis, in Bloemfontein, sommer flink, en eindig die kort seisoen van rolstoelry.

Maar die lesse was legio – soos ’n ander hoek om die wêreld te bekyk. Om die gevoel van afhanklikheid te kan aanvaar en dankbaar te wees. Mense wat naderstaan en help om jou regop te kry as jy moet kamer verlaat.

En veral mense wat verstaan as jou emosies oor die “hulpeloosheid” in jou te veel word.

En hoede af vir diegene wat die situasie so oorkom dat hulle selfs sport beoefen.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Susan ·

Lekker lag met ‘n traan lees so vroeg op n Maandag en ja ek wens alle mense word gedwing om ‘n tydperk in ‘n rolstoel deur te bring. Mense het geen idee wat dit beteken nie! Hoop dit gaan nou al beter met oom Herrie !!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.