Oom Herrie se kerrie: Nuweland

Nuweland-stadion (Argieffoto) Foto: whatsonincapetown

Die groot rugbynuus die afgelope Saterdag is natuurlik nie dat die Springbokke teen die bleekbene verloor het nie, maar dat dit dalk die laaste rugbytoets op hierdie besondere veld was.

Oom Herrie kan vaagweg ’n besoek meer as ’n halfeeu gelede aan Nuweland onthou. Die bure oorkant die straat in Stellenbosch het die kleine Herrie saamgeneem toe Natal teen die WiePie kom durf speel het. Wie die dag gewen het, kan oom Herrie nie onthou nie, net die gees en die oorvol suid-pawiljoen waar dinge so ietwat anders as in die res van die pawiljoen verloop het.

Pa Jan vertel vroeër het Nuweland se veld in plaas van noord na suid, van oos na wes geloop. Dié dag speel twee spanne, en die wind waai stormsterk van die een pawiljoen na die ander. Die heelagter van die span wat windop speel, loods ’n op-en-storm, maar die wind hou die bal terug, en die opponente se heelagter vang dit, en skop windaf. Daar bo gryp die wind die bal en waai, en waai die bal, los oor die pale, maar nog verder, oor die pawiljoen agter die pale en op die spoorlyne daaragter. Darem nie soos die krieketbal daar naby wat saam met die trein vort is, en eers in Vishoek gekry is nie.

By geleentheid gaan speel die Vrystaat teen die WiePie op Nuweland. Daar is nog trein gery, en met skraps geldjies, is ook net die 15-tal Kaap toe, want plaasvervangers kon in elk geval nie op die veld kom ná die wedstryd eers begin het nie. Op die trein maak die manne egter amok, en toe die spulletjie die volgende oggend op Nuweland se stasie van die trein klim, wil die een voorspeler se knie glad nie buig nie. Al plan was maar dat hy so soort van saam met die heelagter die laaste vesting beman, en Vrystaat kry liederlik aapstert. Destyds is nog met daai kortbroeke gespeel wat tot by die knieë gekom het. Ná die wedstryd roep een van die manne van die suid-pawiljoen af: “Haai kêppie, wa’ kry djulle daai voelbêk met die houtbeen?”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

humor ·

SA daar is nou baie belangriker sake op die agenda as Nuweland en rugby. Om n toets te verloor is n nietigheid. Dis tyd om te besef ons is in die proses om ons land en ons toekoms te verloor.

nico k ·

Baie oulike storie. Ek het nie gehoor dat Nuweland nie meer gebruik word nie. Waar gaan hulle nou speel?

Danie Viviers ·

Ek staaf Dr. Danie Craven se woorde :
,, Die einde van Amateur rugby gaan die ondergang van ons rugby wees !”
All Blacks : ,, Eedenpark”
Australie : ,, Canberra”
Skotland ; ,, Murrayfield ”
Wallis : ,, Cardiff ”
Engeland : ,,Twickenham ”
Maar met Suid Afrika se ,, Nuweland ” ruk hul nou die hart van die Springbok uit ! ! !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.