Oom Herrie se kerrie: Om te vlieg of nie

Argieffoto (Foto: mintchipdesigns, Pixabay)

Oom Herrie lees van die vlug wat weens reën vertraag is, en die bemanning en ander passasiers toe “beloon” word deur ’n vrou wat skielik in kraam gegaan het. Benoude tye.

Dit laat oom Herrie toe skoon nostalgies raak oor sy eie vliegervarings. Met die ’88-vloede het oom Herrie en sy baas Kaapstad toe gevlieg vir ’n vergadering. Met die terugkom, is die vliegtuig weens die deurdringende reën op die aanloopbaan gestrand. Die passasiers wat in Kimberley moes afklim, is af, en ons wag vir die nuwe passasiers wat eers gaan kom as die water op die aanloopbaan gesak het. Oom Herrie se baas wil ’n dampie gaan maak, maar word geweier om af te kim. Hy het egter ’n paar doppe in (hy het juis met daai Kaapstad-vergadering ’n interdepartementele klag oor die kwaai doppery teen hom gekry), en hy raak in ’n diskoers met die lugwaardin betrokke. Net voor hy afgesit word, laat weet die vlieënier die water op die aanloopbaan is laag genoeg dat ons kan opstyg.

Min of meer kan oom Herrie sê dat as dit vlerke gehad het, het oom Herrie al daarin gevlieg. ’n Paar keer sonder vlerke ook, soos in ’n weermaghelikopter, en een keer op ’n veldmotorfiets. Al wat oom Herrie daarvan wil sê is ’n veldmotorfiets vlieg nie sleg nie, maar land dikwels soos sy dinges, en dan is dit afgerond met ’n besoek aan noodgevalle.

Nie dat ’n ander vliegmasjien altoos soos ’n droom loop land nie. By geleentheid is oom Herrie en sy baas van Bloemfontein via Johannesburg na ’n vergadering in Durban. Met die gaan-sitslag weet oom Herrie daar het fout gekom. Die enjin hier vlak naas oom Herrie het ’n vreeslike vlam uitgespoeg, en kort daarna sien oom Herrie ’n rits brandweerlorries, ambulanse en ander noodvoertuie jaag met flitsende ligte al op die aanloopbaan agter die vliegtuig aan. Voorwiel vasgehaak, verduidelik die kaptein. Op pad na die lughawegebou is ons skrams by daai enjin verby wat so vlam gespoeg het, en hy is maar goed swartgebrand. Hoe dit met die vasgehaakte voorwiel verband hou, weet oom Herrie nie.

By die hotel kry ons ons kollegas van ander provinsies waar hulle op die stoep ’n wyntjie drink. Ons sluit aan, maar na ’n paar slukke verskoon oom Herrie se baas hom om sy vrou te gaan bel. Skaars weg, “psst, psst” hy vir oom Herrie. Hy soek nóú daai klein botteltjies vuurwater wat hy tydens die vlug gekoop het, en soos gewoonlik in oom Herrie se aktetas gebêre moes word. Seker maar goed geskrik.

En die volgende dag vlieg ons met daai einste vliegtuig Johannesburg toe.

Nog ’n keer vlieg oom Herrie Kaapstad toe. Die vlug gaan destyds oor Kimberley, en daar is woeste turbulensie. Toe ons die aanloopbaan tref, tref ons dit met mening. Die passasiers is nog besig om tot verhaal te kom, toe roep iemand uit: “Moenie wharrie nie, hy het Dunlops op!” Verlig bars die passasiers uit van die lag.

Nog ’n Kimberley-vlug lewer baie turbulensie op, en oom Herrie verneem by die lugwaardin of die vlug Kaap toe darem teerpad langs sal wees. Met die opstyg stel die kaptein die passasiers gerus – die vlug sal nou veel gladder wees, want dis nou teerpad. Bygesê, dit was darem in die dae voor as ’n mens iemand sou vra wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad, die regte antwoord sou wees “teerpaaie”.

In die Grand Canyon moet oom Herrie, as synde al passasier wat Engels verstaan, voor by die vlieënier sit. Nie lank nie, is daar fout met die vliegtuig. ’n Metertjie voor op die paneelbord begin skielik na links sak, na die kant wat rooi gemerk is. Die vlieënier druk ’n hefboom tussen ons effe vorentoe en die meter beweeg weer weg van die rooi. Maar nie lank nie, doen ’n ander metertjie dieselfde, en die vlieënier druk weer nog ’n hefboom na vore. Ook daai metertjie gaan na vore. Maar toe begin die twee metertjies dit aanmekaar doen, en die vlieënier vra oom Herrie om te help met die hefbome, want die canyon maak kwaai draaie, en hy het beide hande daarvoor nodig. Ons land veilig, en oom Herrie is papnat (van die sweet).

Die volgende dag vlieg ons met daai selfde vliegtuig terug na Las Vegas, en die vlieënier is te bly om oom Herrie te sien, wat weer terstond genooi word om langs hom te sit.

Kleintyd woon die Herries in Stellenbosch en ouma van Bloemfontein kom kuier. Sy word op DF Malanlughawe gaan haal, en toe was dinge nog baie oper as nou. Voor die gebou sien die kleine Herrie sy ouma aangestap kom, en trek weg om haar te gaan groet – binne-in die arms van ’n polisieman in. Hy tel die skreeuende Herrie hoog op om buite die bereik van die kleinman se vuishoue te bly. Maar nog voor die kleine Herrie mooi aangekeer kon word, is ouma wat die petalje gesien het by en sy raas: “Laat los my kleinkind!” Herrie word terstond vrygelaat. ’n Paar dae later vlieg Herrie saam met ouma met die Viscount terug Bloemfontein toe – deesdae die Fischershaven – die eerste van baie vliegervarings.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Engela ·

Ai, ek onthou daai dae van die “oop” lughawe in die Kaap. Ons het baie Sondae sommer vir die uitstappie lughawe toe gery om te gaan kyk hoe die vliegtuie land en opstyg (natuurlik met baie groter tussenposes as nou!). Dan staan jy sommer op die stukkie gras voor die lughawegebou met net ‘n ou lae muurtjie tussen jou en die aanloopbaan. Lekker ou herinneringe!

John ·

Oom Herrie vertel nie die volle verhaal nie… daai botteltjies in sy tas… was dit syne, sy baas s’n of die vlieenier s’n… en wie het bestuur?

Herman Toerien ·

Hallo John. Dit was belis nie myne nie – ek kan whiskey glad nie in my lyf kry nie. Wat my laat dink aan my oorlede oom, destyds van Stelenbosch. Hy besoek ‘n wynkelder, en sien hoe een van die werkers met sy beker ‘n skep uit die gistende afvalskille en pitte en goed neem, en dit net so insluk. Dit maak eintlik ssss soos dit in die keel afgaan. “Sjoe,” sê my oom, jy drink darem sterk gied.” “Ja meneer, en drink alles, tot petrol ook maar dan moet dit net BP wees.”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.