Oom Herrie se kerrie: Politiekery voor Kersfees

Bakleiery in Uganda-parlement (September 2017)

In die reël is oom Herrie iemand wat wyd hou van die politiek, maar die afgelope horlosievrye leierskapverkiesing van die ANC herinner oom Herrie so aan die goeie ou dae toe politiek nog ’n erg emosiebelaaide ding was.

Nou is dit mos ’n stryd om den brode – die een wat wen leef gemaklik – die een wat verloor is gewoonlik werkloos en krepeer verder.

So roep ’n RSG-luisteraar met nostalgie in herinnering hoe die Natte en Sappe mekaar die Vrydagaand toegetakel, en stoele op mekaar flenters geslaan het. Die Saterdagaand hou hulle saam ’n tiekieaand om geldjies bymekaar te maak om die stukkende stoele mee te vervang.

Van oom Herrie se “politieke” herinneringe is al tevore opgeteken.

Op Calvinia kom by geleentheid ’n spreker aan wat moes kom voorbrand maak vir ’n ja-stem in die referendum oor ’n republiek (binne die Statebond).

Toe dit vraetyd is, vloog ’n mannetjie op en vra driftig: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?”

Die spreker verduidelik omslagtig, maar toe hy klaar is, is die mannetjie weer op sy voete: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?”

Na die proses ’n paar keer herhaal is, is die groot tante wat reg agter die mannetjie sit dik vir die twak. Sy druk die mannetjie hardhandig terug op sy stoel – so hard die stoel is daarmee heen. “Sit str***, ek sal jou beskerm,” sis die tante.

Terwyl by Calvinia. Die aand het die Natte ’n vergadering in die stadsaal, en die Sappe in die skoolsaal. Ter agtergrond, die verdeling was so sterk dat die Smelters se kinders met pouses sokker teen die Gesuiwerdes s’n gespeel het.

Die Natte se spreker is temerig en vervelig, en nie lank nie, vlieg ’n man op en skree: “Ek sê, ons los die vergadering en gaan d****r die Sappe.” Die spreker verduidelik dis nie hoe demokrasie werk nie, maar nie lank nie is daar weer ’n voorstel van die vloer af om die Sappe te gaan regsien.

Na die hoeveelste onderbreking is die temerige spreker dik vir die storie. Hy stamp met sy voet op die verhoog, en skree: “Dink jy nou vir een oomblik jy sal ’n SAP reg ged****r kry?”

“Wat! Ek was ’n SAP en hoe het ek reggekom? Ek is reg ged****r!” Ek sê ons los hierdie vergadering en gaan d****r die Sappe!” Dit was die einde van die vergadering.

En ja, op Ladybrand is die stadsaal se besondere voordeur heel uit die kosyne baklei. Op Brandfort was selfs ’n SAP-gemeente en ’n NAT-gemeente.

Oom Herrie het darem self ’n ietsie van dié soort “politiek” beleef. Destyds het die HNP tot stand gekom, en oral is verkiesingstoesprake gehou, ook in Stellenbosch waar die jonge Herrie op skool was. ’n Paar fris onnies (hulle het baie oefening gekry) het gereeld van die vergaderings gaan opbreek. Volop vrot eiers (spesiaal “ryp” gemaak vir die geleentheid) en tamaties is na die verhoog geslinger.

Natuurlik kan dit nie meer nie. Dit kan te maklik in ’n rasse-insident uitloop en wyd uitkring, hoewel daar onlangs in die Oos-Kaap ook ’n “stoele-oorlog” was. Dié keer, so lyk dit, was die mense broser as die stoele.

Van broos gepraat, en sokker speel teen mekaar.

Oom Herrie was by geleentheid betrokke daarby om rugby onder bruin kinders in die Vrystaat te bevorder. Naby die Gariepdam word by ’n groterige bruin skool aangedoen. Die naaste wat hulle aan ’n rugbyveld het, is ’n skoongeskraapte stuk land, met twee takstrukture weerskante wat as doelhokke moes dien. Die dag moes dit egter as rugbyveld dien.

Niemand kon daai kinders van ’n gebrek aan entoesiasme beskuldig nie. Hulle spéél, wat ook beteken hul duik mekaar. Kort-kort slaan ’n stofwolk uit. Gou is dit duidelik dit kan nie so aangaan nie – daar is vreeslik baie bloed, en ’n hele paar ma’s gaan die aand stuipe kry as hulle sien hoe lyk hul kroos se klere. Die spel word terstond opgeskort. Daar is nie ’n enkele klagte oor ’n besering of iets nie.

Wat oom Herrie laat besef het daar moet net beter geriewe geskep word en meer puik spelers sal na vore tree. Heelhuids.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Ja, oom Herrie, hoekom reg voor Kersfees, vra ons ook. Mos ‘n tyd van goedheid en guns, dan nie? Nou gaan ‘n paar se slope leeg wees… en kersvader waarsku al vir eeue dat stoute kinders spyt gaan wees.

Theo ·

Oom Herrie,dis was Winburg met die Nat en die Sap gemeentes .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.