Oom Herrie se kerrie: Predikante en hul dinge (slot)

Argieffoto (Foto: VinnyCiro, Pixabay)


Lees die vorige rubrieke oor Predikante en hul dinge op Maroela Media. – Red

In oom Herrie se derde jaar op universiteit, ontmoet hy ’n merkwaardige persoon – emeritus dominee Jacob de Vos. Hy het saam met ons saans kom aardrykskunde draf, maar was klaarblyklik met sy aftrede met omvattende studies besig. Hy het ook nie by stoutwees in die klas agtergebly nie.

’n Paar jaar later ontmoet oom Herrie vir neef Abrie de Vos, die dominee se seun by sy tweede vrou, ta’ Mollie. Net so merkwaardig – ma en seun, en ook nog op ’n manier familie van oom Herrie.

Neef Abrie was in ’n ongeluk, en het geen sig in een oog nie, en omtrent niks in sy ander nie. Hy was propvol stories uit sy pa se kleurryke lewe as predikant in verskillende dele van die land, maar kan dit nie self opteken nie.

Die eerste storie is in oom Herrie se e-boek, Die reine waarheid en ander liegstories opgeneem, en daar is dus allerlei kopieregdinge wat oom Herrie bind. Die storie, effe verkort, het ook in Huisgenoot verskyn, en is ’n paar keer oor Radio Rosestad voorgelees. Ek weergee dus maar die storie so “onafhanklik” en verkort as moontlik.

Doer in die westelike Bosveld was daar een keer per jaar groot kerk gehou. Dis Nagmaal, maar ook sommer Boerematriek wat afgehandel word, en die Sondag voor Nagmaal word die jongelinge wat hul Boerematriek suksesvol afgelê het sommer aangeneem en voorgestel ook. Vir dié geleentheid kom die mense van oral van hul plase met allerlei rygoed, en span langs die rivier uit waar vir ’n paar dae uitgekamp word. Die plaasbrakke kom saam.

Die Sondag met die diens sit die brakke in ’n sirkel om die kerk, en wag vir hul mense om uit te kom. Maar kyk, dis ’n bonte verskeidenheid. Tot hulle iewers ’n haas opgejaag kry, en toe is dit chaos soos die honde al blaffend en keffend die haas al om die kerk jaag. Die haas kierang egter. Net soos ’n hond te naby kom, gooi hy sy stert vir regs draai, en sodra die hond kortpad vat in daai koers, die maters al blaffend agterna, vlieg die haas links om, weer al langs die kerk se muur af. Die geflouste honde gaan draai doer by die sinkreservoir, en is woedend. Dan skraap hulle die haas weer met oorgawe. Net ta’ Bets se vet boeldokhond draf agterna, en kort-kort haal die prosessie van agter af hom in. So met die verbygaan sal die brak dan ook ’n “oef-oef” uitgesteun kry.

Maar die haas raak moeg, en toe hy weer sy draai vat om teen die volgende kerkmuur af te hol, draai hy kort en draf die kerk se gangetjie tussen die banke af. Uitgeput gaan sit hy langs die katkisant wat heel op die punt voor die preekstoel staan.

Ds. Jacob vra dat die koster die onstigtelike haas verwyder, maar toe die koster buk om die haas op te tel, spring dié teen sy bors vas. Die koster so uit soos ʼn kers! Die haas is toe onder die banke in, en ’n mens kon sy vordering mooi sien soos lidmate op die banke spring.

By ’n ander geleentheid is ds. Jacob predikant in die Moordenaarskaroo. Nou, as iemand dink die Moordenaarskaroo is vaal en oninteressant, moet hy weer mooi dink, en self gaan kyk. Amper so interessant en idillies stil as die naasliggende Tankwa-Karoo.

Die gemeente beroep ʼn jong predikant en ou ds. Jacob besluit die nuweling moet ook soos ander inkommers in die tradisies van dié deel van die wêreld ingewy word. Hy berei ’n bloedbul voor.

Die bloedbul is ’n beespens, wat met allerlei groenteskille en goed wat lekker kan gis opgestop word. Na dit ʼn ruk in die son was, en goed gegis het, word dit versigtig in die aga mooi bruin gebak, en dis dié wat aan die nuweling voorgesit word, en gevra word dat hy dit vir die mense sny. Die bloedbul lyk net soos ʼn mooi stuk vleis wat pragtig bruingebrand uit die oond kom.

Die nuwe dominee gryp dan ook die lang mes, en wil net begin sny, toe die onwelriekende stroom uitspuit en hom teen die bors tref.

Op die Boeremark vertel ’n omie en tante wat uit die Noord-Kaap kom die storie van die bokram van Brandvlei.

Volgens oorlewering het die Oranjerivier baie jare gelede, dalk miljoene jare gelede, by Prieska verder suid geloop in plaas van om noord te swaai. Dit het toe in die omgewing van Calvinia sy draai gaan maak, en van daar weswaarts tot dit in die loop van die latere Sakrivier beland het, en noordwaarts geloop het tot hy by sy bestaande loop aangesluit het. Maar toe loop vloei ’n komp magma by Prieska uit, en blok die ou loop met ’n koppie. Intussen was daar in die omgewing van die ou loop ook aardkorsopheffing, en omdat die rivier (Sakrivier) toe te min gevloei het, het hy nie so saam met die opheffing vir hom ’n pad al dieper in die aardkors kon uitkerf nie. Die gevolg is die Sakrivier sak nie, hy loop soort van opdraande. En as hy die slag afkom (of is dit opkom?) dan is dit net water – Brandvlei, Grootvloer, Verneukpan en ander groot panne en vleie.

Toe, onlangs, skenk ’n omie ’n bokram en bokooi aan die kerk op Brandvlei. Met die hande in die hare laat die gemeente toe die twee bokke maar op die kerkterrein wei.

Die betrokke Sondag let die dominee van die preekstoel af op hoe iets interessants aan die ontwikkel is. Die koster sit op sy losstaande stoel van waar hy ’n ogie oor die voordeur kan hou, maar ook maklik die klok kan bykom. Die ou man is vreeslik besig om vis te vang. Maar in die deur het die bokram kom stelling inneem en die knikkende koster bemerk. En, sien die dominee, elke keer as die koster se kop knik, knik die bok syne ook. Ook nie lank nie, toe die koster weer knik, storm die bok, en stamp die verdwaasde koster skoon van sy stoel af.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

humor ·

Met so n ietsie oordrewenheid wat die volle waarheid laat sneuwel kry ek tog darem so n glimlaggie reg.

Hannah ·

LANGENHOVEN het gese: “As jy doeltreffend wil lieg..moenie die waarheid verdraai nie…hou hom net effens skuis!”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.