Oom Herrie se kerrie: Predikante en hul dinge

Argieffoto (Foto: jh146, Pixabay)

Met die afsterwe van ’n familielid erf jong dominee Frans Ferreira ’n ou haelgeweer. Hy kry dit geroes en erg verwaarloos, en na ’n rukkie se kopkrap onthou hy van die diaken wat so knap met sy hande was.

So gebeur dit dat die diaken die ou geweer restoureer. Een Sondag, net voor kerk, kom meld die diaken aan dat hy klaar is met die haelgeweer, en dat dit in sy kattebak is. Ds. Ferreira is te nuuskierig om tot na die diens te wag, en saam gaan loer hulle. Wat die dominee sien, is ’n pragtige, glansende geweer. Tyd vir kyk is daar egter nie, en hy prop die geweer onder sy toga in, en lei die kerkraad die kerk in. Hy kan die gemeente nie gou genoeg aan ’n gesang help nie, en sak agter die preekstoel in om die blink skietding behoorlik te bekyk. Hy maak die ding oop, en weer toe, en korrel oral heen.

En toe trek hy die sneller. BOEM! Die kandelaarlig is flenters en die stukkies sif op die geskokte gemeente neer.

Die bleekgeskrikte dominee kom regop agter die preekstoel, skietding steeds in die hand. Hy sien hoe die gemeente gelyk by die deur probeer uitkom, en skrum dat die Spingbokke nie sou kon kers vashou nie.

Heel agter skrum ’n jong knapie saam met sy pa. Hy kyk ’n slag om en sien hoe die verdwaasde dominee die geweer oopmaak so asof om te kyk of dit dan werklik gelaai was.

Dis te veel vir die seuntjie: “Stoot pa!” gil hy, “…die d*nd*r laai al weer!”

Pa Jan het ook die wonderlikste domineestories uit sy wêreld, die Noordweste, vertel. Destyds was huisbesoek doen ’n gegewe, maar nie almal wis watter ontbering dit soms vir die dominee was nie. Want daai mense is gasvry, en naas die skaapboud, pampoen of wat ook al, kry die dominee koffie. Maak nie saak hoe warm nie, en in daai wêreld kon dit selfs voor aardverwarming goed warm word.

Maar die Noordweste se mense het oorspronklik baie afgesonder gewoon, en kombuisvoorraad was soms maar skraps. Koffie is dan van die witgatwortel gemaak, en tot vandag toe noem talle koffie steeds “gat”.

Met regte koffie meer geredelik beskikbaar, is meestal na koffie oorgeslaan, maar steeds sterk aangemaak. “As mens die teelepel regop in die koppie laat staan, dan kantel hy so sta-a-arag om” het die een dominee beduie na hy ʼn beroep elders heen ontvang het. En omdat dit skaapwêreld is, is bies (melk) so skaars soos hoendertande.

En doen nou ʼn paar huisbesoeke per dag…

Ds. van der Merwe het dan ook natgesweet in sy pak by ’n opstal, sy soveelste van die dag, opgedaag. Die weduwee Malan was baie bly om die dominee te sien, en skaars het sy gegroet, toe sê sy: “Ai, en dominees is seker lekker dors van die ry. Ek skink gou vir ons elk ’n heerlike kommetjie gat.”  Die dominee se kiewe trek skoon saam, meer hy sê niks.

Dis toe sommer ’n behoorlike “kommetjie” waarin die koffie is. Die tante onthou sy het lekker “beskuide” gebak, en die dominee sien sy kans. Skaars is die tante uit die voorhuis uit, maak die dominee die venster oop, en skiet die koffie uit.

En daar staan die dominee met net die oortjie in die hand!

Toe die tante terugkom, beduie die dominee verleë van die verskriklike groot brommer, en hy beduie met ʼn groot spasie tussen die duim en wysvinger, wat in sy koffie kom loop val het.

“Ag dis niks,” sê die tante. “Dominees het seker groot geskrik. Ek maak gou ʼn lekker sterk kommetjie gat.”

In Kimberley was dit dié dag doop. Die dopeling se ouboet, ’n knapie met ’n borselkop, moet heel voor in die kerk sit.

Die vorige dag was daar ’n troue in die kerk, en ’n groot ruiker staan voor die preekstoel. Maar die ruiker trek bye, en nie lank nie piets een die knaap reg bo-op sy kop.

“Eina!” gil hy kliphard. “Kyk hoe byt so ‘n f***n mot my!”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons soek nog meer storietjies van Heman Toerien wat so lekker lees na al die moord en doodslagnuus wat ons daagliks kry. Dankie.

Theo Visser ·

Dankie Herman,jy maak my dag elke keer as ek iets van jou lees .

Boek asseblief ·

Herman, bewaar asseblief vir ons en die nageslag hierdie stories in boekformaat.

Meraai ·

Baie dankie Oom Herman . Dit was nou die regte kerrie vir hierdie koue dag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.