Oom Herrie se kerrie: SA verklaar oorlog teen VSA

Argieffoto (Foto; flockine, Pixabay)

Pres. Hickup Zupta is verveeld, en daarom bepeins hy sake. Daai buffelmannetjie het sy sake vir ’n opvolger lelik kom omkrap. Hy, Zupta, het eendag juis so ’n groot gek van homself gemaak toe die buffelmannetjie met sy pet met buffelhorings by ’n Groot Ses-vergadering opgedaag het. Zupta het hom vreeslik bekyk, en oplaas gevra hoe hy, die buffelmannetjie, die pet oor sy horings aan- en afkry.

Hy self is eintlik nou net ’n flou makou. Die buffelmannetjie is nou die president van die African Malice Congress (AMC).

Wat moet en kan hy wat Zupta is, nou eintlik doen. Hy peins dus oor die magte wat die grondwet aan hom gee, maar hy het al elkeen misbruik. Dan onthou hy, daar is een wat hy nog nie ingespan het nie. Hy kan oorlog verklaar.

Maar teen wie?

Dan tref dit hom – hy soek mos nie die weste nie. Hy kan mos die leier van die weste aandurf, en dan so sommer vir die buffelmannetjie wat volgens sy “intelligensieverslae” ’n Westerse spioen is, ’n lekker hou in die wind toedien. Binne die Nkandla-woning sit hy reguit af telefoon toe. Hy draai die slingertjie, en wag. “Sentrale,” kom ’n vaak stem aan die ander kant.

“Sit my dadelik deur na pres. Trump van Amerika.”
“Wie?” kom die stem nou effe wakkerder.
“Pres. Trump van die VSA man.”
“Net ’n oomblik.” En dan ’n oomblik later: “Dit lui.”

Dis ’n baie vaak stem aan die anderkant wat antwoord: “Withuis hier, goeienaand.”
“Ek wil met pres. Trump praat,” sê Zupta ongeduldig.
“Weet jy dis twee-uur in die nag hier?” kom die vaak stem van die ander kant.
“Kyk, ek is pres. Zupta en ek wil met pres. Trump praat.”
“Net ’n oomblik.”
“Pres. Trump hier? Waarheen moet ons nou weer soldate stuur?” wil hy deur die slaap weet.
“Goeie môre. Dis pres. Hickup Zupta van Suid-Afrika wat praat. Ek wil net laat weet ek verklaar oorlog teen die VSA.”
“President wie van waar sê jy?”
“Hickup Zupta van Suid-Afrika.”
“Waar de ongeluk is dit?” wil Trump weet.
“In die suide van Afrika, die grootste kontinent ter wêreld – groter as al die ander kontinente saam,” sê Hickup.

Trump moet nou nie kom lol met te veel vrae oor geografie nie – van geografie weet Zupa minder as die ekonomie. Van die ekonomie weet hy darem hoe om dit te melk.

“Goed, goed, maar hoeveel vliegtuie het julle?”
“Wel, saam met die vliegtuie wat die SAL op skuld huur meen ek ons kan so 25 in die lug kry,” sê Zupta.
“Wel, ons het 2 500 vliegtuie – bomwerpers, vegvliegtuie, als,” sê Trump.
“Hoeveel skepe het julle?” wil Trump weet.
“Seker so dertig, als en als ingesluit,” sê Zupta trots.
“Wel, ons het meer as ’n duisend,” sê Trump.
“En hoeveel soldate het julle?” vra Trump nou al erg geïrriteerd.
“Ek meen ons kan so 25 000 man onder die wapen sit,” antwoord Zupta.
“Wel, ons het 20 miljoen man in ʼn japtrap slaggereed.”
“O gonna, dit klink lelik,” sê Zupta. Kan jy net ’n oomblikkie aanhou?”

Zupta bel sy minister van korrektiewe dienste op sy selfoon. “Comrade Tralies, sê my man, waar hou ons 20 miljoen krygsgevangenes aan?”

Voorspoed vir die Nuwejaar.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

En ons wou vanmiddag op die Vaalrivier gaan roei het met oupa Jan se blikgedoente met die ou houtspane… beitjie nostalgie so op Kersdag en nou word ons boot opgekommandeer om proviant te vervoer vir die eerste infanterie op Impihoogte …. hik… se weer…. wanneer wil die Zupies vertrek… o… jik… reg so generaal…. koebaai generaal…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.