Oom Herrie se kerrie: (Sommige) politici ken ook humor

Spock, ‘n fiktiewe karakter uit “Star Trek”

Met dié dat die SAL so in tamatiestraat is, dink oom Herrie aan ’n vervloë tyd toe daar nog ruim etes vir passasiers uitgedeel is. Natuurlik is daar diegene wat hul eie smake op ander wil afdwing en kla oor die “gemors” wat opgedis word. Maar toe daar begin bespaar word, stroom die klagtes in. Wat die destydse minister van vervoer, Hendrik Schoeman, laat reageer het: “Wil julle vlieg of wil julle vreet?”

Die einste minister was self ʼn groot boer, en in ’n stadium minister van landbou. Hy vertel van middernagtelike oproepe, onder ander van een wat kla oor die mielieprys.
Hendrik het so ’n ruk geluister, en toe gereageer met ’n: “Gaan k**!”
“Nee, dis reg, so moet my minister met my praat,” reageer die boer en lui af.

CJ Langenhoven het na die LP’s as “die helfte is ʼn klomp bobbejane” verwys. Hy moes dit terugtrek, en doen dit toe met “die helfte van die lede is nie bobbejane nie.” Vandag sou hy nie daarmee weggekom het nie. Hy sou deur die menseregtekommissie en ’n duisternis ander liggame ge-“Sparrow” geword het. Oom Herrie dink nie eens sy parlementêre privilegie sou hom gehelp het nie.

Ook in die buiteland kan ’n politikus hom vasloop. ’n Walliese politikus skryf aan die Britse regering oor ’n rits beweerde VVV-waarnemings in sy area, en of die regering die befondsing van navorsing hieroor sou oorweeg? Hy kry ’n brief terug wat lui: “Jang vIDa je due luq … ach ghotvam’e’ QI’yaH devolve qaS.”

Nee, dis nie die regering wat so oulik is om die man in Wallies te antwoord nie, maar in Klingon. Dit beteken in breë trekke dat die minister sal aandag skenk, maar dat dit nie eintlik deel van die minister se portefeulje uitmaak nie.

Nou wil oom Herrie dadelik sê, hy wil nie graag sy hand op die Bybel sit oor die waarheid van dié storie nie. Of oor die korrektheid van die Klingon nie.

Oom Herrie is meer bekommerd oor die invloed van Klingon op Suid-Afrika. Terwyl amptelike korrespondensie gewoonlik in gangbare Engels geskied, is daar ook ’n taamlike aantal briewe en ander korrespondensie wat vermoedelik ’n streep Klingon weg het, want oom Herrie verstaan daarvan net mooi niks nie.

En na soveel jare wat met die SAUK gekarring word om tog ook ’n bietjie Afrikaans tydens krieketuitsendings te gebruik, word daar nou dele in ’n taal, vermoedelik nie Klingon nie, uitgesaai, maar Afrikaans ontbreek nog heeltemal.

Dan sien oom Herrie van die mense kla vreeslik oor die rugbykapteins wat in hul Afrikaanse onderhoude al hoe meer Engelse woorde ingooi. Oom Herrie wil darem die beseerde Bok-kaptein, Warren Whiteley, komplimenteer vir die mooi Afrikaans en Engels wat hy in onderhoude gebruik. TV- en radio-onderhoude met Afrikaanse kunstenaars klink vir oom Herrie ook al te veel of dit na Klingon begin neig.

Qapla’! (Totsiens)

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

?…. en dan is Afrikaans onlangs ook nog as die mooiste en mees melodieuse spreektaal in die ganske wereld aangewys… Is dit nou uit skone jaloesie dat ons so geboelie word? Wil nou so lyk en ons dog altyd dis oor ons…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.