Oom Herrie se kerrie: Studentemoleste in die ‘ou dae’

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

As oom Herrie aan studentemoleste “uit die ou dae” dink, dink hy aan die stories wat die ouer geslag met soveel nostalgie kon vertel. Stories, wat as oom Herrie se geslag dit sou probeer, in alle waarskynlikheid tronksake sou afgee.

Maar, so ontdek oom Herrie nou die aand … oom Herrie-hulle se stories is nou ook al in die argiewe van “ou studentestories”. Oom Jan, wat op Wellington onderwys geswot het, vertel nou die aand sy stories met vreeslike nostalgie. Hy beskryf hul rygoed van destyds, en ander nutsgoed, en skielik besef oom Herrie “oom Jan” is ’n klompie jare jonger as wat hy wat oom Herrie is.

Oom Herrie het sy eie dosis studentekattekwaad weg, maar, so klink dit, nie ’n “pêtsie” op wat oom Jan en sy maters aangevang het nie.

Skynbaar het “oom Jan” sy hand met die skoner geslag oorspeel. Een aand nooi ’n dame hom om koffie by haar koshuis te kom drink. Hulle kuier eers in die sitkamer, en toe word dit “koffietyd”. ’n Hele klomp dames kom die sitkamer in, en voor “oom Jan” hom kon kry, is hy geteer en -veer. Darem nie met regte teer nie, en smaak my darem ook nie regte vere nie. Maar taaigoed en wolke meel doen die ding. Maar hulle is nie klaar met hom nie, hulle dra hom vasberade na die standbeeld van dr. Andrew Murray met die idee om hom daaraan te gaan vasmaak.

Gelukkig vir hom, op pad, gaan die prosessie by ’n koshuismaat verby, en so in die verbygaan vra “oom Jan” hulp. Die knaap is nie links nie, en maak hom skaars. Kort daarna daag daar ’n konvooi van bakkies op met genoeg koshuismaats om die ontsetting uit te voer. Die dames word op die bakkies gehelp, en almal ry vort – almal behalwe die ontsette “oom Jan” want hy is te vuil. Hy moet in sy onaansienlike voorkoms voetslaan koshuis toe.

By die koshuis is behoorlik wraak geneem op die dames.

Die naaste wat oom Herrie seker aan teer en veer gekom het, was toe van Pa-Jan se verpleegkundestudente die vraestel van ’n komende anatomieuitkenningstoets by oom Herrie probeer kry het. Naderhand pluk oom Herrie sy matriek-biologieboek, en aardrykskundestensels en tikmasjientjie uit, en stel ’n “meesterlike vraestel” op. Dié word in die verpleegsterstehuis se tiekieboks gelos.

Moeilikheid, Boere, groot moeilikheid…

Maar oudste en sy verloofde kuier die afgelope langnaweek by die Herries. Dis die eerste keer sedert hy ’n jaar gelede ’n plaasbestuurderspos buite die Paarl gekry het, dat ons hulle sien, en die kuier is groot en lekker.

Oudste sorteer sy universiteitsboeke oor wat moes saamgaan (met die SAL), en wat na welsyn kan gaan. Hy haal ’n boek uit, so dik soos ’n HAT, wat volgens die prysplakker R5 in Suid-Afrika gekos het, en R7,00 in die buiteland. Oom Herrie is nogal verbaas – hy loop af en toe van sy eie ou universiteitsboeke by met ’n prys van R12 of so, maar ouboet was sommer nou die dag op universiteit. Maar dan kom die opheldering, dis ’n boek van oom Wimmie wat hy by sy ouma gekry het.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.