Oom Herrie se kerrie: Tande op spoed in kerk

Argieffoto (Foto: Pezibear, Pixabay)

Oom Herrie beland nou die dag in ’n geselskap waar die een vrou vertel van haar pa en sy valstande. Dié het hy gekry toe hy met die fiets geval, en sy bo-kaak die randsteen getref het. En met die plaatjie is hy die lewe in.

Maar op ’n dag is hy brom-brom motorhuis toe, en kort voor lank lawaai die hoeksnyer. Hy kom glimlaggend terug – die valstande se hakies het hom seergemaak, en hy het pas van hulle ontslae geraak.

Lekker gebit, maar die nadeel is die tande sit nou nie meer so mooi vas in die mond nie.

Sondag is die gesin kerk toe, en aangesien hulle laterig opdaag, kry hulle amper voor in die kerk sitplek. Die paar rye voor hulle is ook spoedig vol kerkgangers.

Die kerkdiens is nog nie lank aan die gang nie, toe nies die pa, en daar gaat die tande! Dis ’n houtvloer, en seepglad gepolitoer, dus gly daai tande of dit by die Alpe se vinnigste ski-oord ski. Maar daai tande het nog deur die lug getrek, toe is kleinsus al op vol spoed agter die tande aan, al deur die kerkgangers in die voorste gestoeltes se bene deur.

Die tande kom amper heel voor tot stilstand, en kleinsus gryp dit, en kruip onderdeur die laaste bank of twee. Tussen ʼn tante se bene deur kom sy heel voor uit, vlieg op en draai windmaker na haar gesin: “Ek het hom!” en sy hou die tande triomfantlik in die lug.

Pa druk sy tande so ongemerk moontlik terug in die mond, en hy is van die skaam rooi tot agter die ore. Ma sukkel om haar lag te hou. Maar die gemeentelede wat die petalje gesien het, lag dawerend.

Jare gelede vertel oom Herrie se ma van die Transvaler wat in Houtbaai ’n geleentheid op een van die vissersbote probeer kry. Na ’n hele ruk het hy die kaptein omgepraat, en ten spyte van die waarskuwings oor seesiek en ’n lang dag op see is die man saam. Skaars agter die eerste golwe begin die man die visse voer, en die kaptein weet dit gaan ʼn ekstra, baie lang dag wees.

Met al wat seesiekpil aan boord naderhand ingejaag, is die Transvaler darem so dat hy by van die vissermanne kan gaan sit en stories luister. Dit blyk hy is ’n skrywer van naam, en samel stof in vir ’n nuwe boek. Die manne praat, en hy maak aantekeninge.

Maar nie lank nie, begin die pilletjies heel voortydig uitwerk. En met so ’n oorhangslag, daar gaat sy tande ook. Hy gryp nog desperaat, maar die tande is net ʼn oomblik onder die water sigbaar voor dit die donker dieptes insink. Die haasbekman is erg bekaf, al deel hy nou ’n soortgelyke gebit met die helfte van die bemanning, wat openlik lekker haasbek vir hom sit en lag.

Nie lank nie, haak een van die vissermanne, Frans, ’n lekker snoek. Hy besluit om die Vaalpens (wat nou eintlik by sy hele gelaat pas) ’n poets te bak. Hy sny die vis oop, en druk sy eie vals gebit in die vis se maag. Dié het hy gekry danksy ’n kliniek wat die plaaslike universiteit by geleentheid aangebied het.

Hy pluk die tande uit die vis se maag, en skree terselfdertyd: “Kyk wat het ek gekry!” Die Vaalpens kry skoon kleur, en draf nader. Inderhaas spoel hy die tande af, en druk dit in sy mond. ’n Oomblik later is die tande weer uit. “Nee, dis nie myne nie,” en hy gooi hy die tande oorboord.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Albaster ·

Verbode lag in die kerk is die lekkerste lag, wat ek nie kan beheer nie.

Ella ·

Baie dankie Herman vir die heerlike stukkie “binnepret”!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.