Oom Herrie se kerrie: Tiksters verdien medaljes

Argieffoto (Foto: rawpixel, Pixabay)

Maandag was internasionale tikstersdag. Van ons ouer garde onthou ’n moeilike tyd. Dit was toe eers woordverwerkers en toe rekenaars ’n aanslag op die tikstersberoep begin doen het.

Vroulief, in haar onderneming, doen heelwat tikwerk – eintlik as guns want haar onderneming spesialiseer in fotostate, bindwerk, laminering, stuur van e-posse en so aan. Maar daar is (nog) mense wat ’n tikwerkie gedoen moet kry, en nie oor ’n ding beskik om dit mee te doen nie.

Wat oom Herrie natuurlik onderstebo boul is hoeveel vroue vir sekretaresseposte aansoek doen, en hul CV’s laat tik. Soos een gesê het terwyl sy na die rekenaar wys: “Ek kom nie naby daai ding nie.”

By die werk mag oom Herrie destyds geen tikwerk self doen nie, en daarom kon oom Herrie se subdirektoraat aanvanklik nie ’n rekenaar kry nie, en toe dit onafwendbaar word, een met ’n drukker wat nie vir tikwerk gebruik kan word nie.

Dus moes oom Herrie sy tikwerk in die Uit-mandjie plaas, van waar dit met ’n ompad na die tikpoel is, en weer terug. Dan spelfoute regmaak, en dit weer instuur, net om dit oorgetik met nuwe spelfoute te kry. Mettertyd was daar genoeg rekenaars en woordverwerkers in die tikpoel, en hoef dit nie meer oorgetik te word nie. Maar tuis het oom Herrie sy privaat goed sommer self op die ou IBM sonder hardeskyf getik, en laat waai.

Ja, selfs toe oom Herrie bydraes namens die administrateur vir Kodesa moes opstel, moes dit deurnag by die huis gedoen word sodat dit die volgende dag kon “ry” Kempton Park toe. Waar, smaak dit oom Herrie, dit net so in ’n snippermandjie gegooi is.

Toe oom Herrie ’n aantal jare later vir Statistieke Suid-Afrika ’n kontrak losslaan, was daar nie meer iets soos ’n tikster nie. Elke amptenaar het sy rekenaar en hy doen sy eie tikwerk, en die tikwerk word op die fotostaatmasjien uitgedruk. En buitendien is die meeste korrespondensie per e-pos gedoen – papierloos.

En al doen oom Herrie daagliks heelwat tikwerk, is dit altyd met die twee wysvingers. Oom Herrie kan ook nie blind tik nie.

Maar daar moet steeds medaljes uitgedeel word aan mense wat blind kan tik, en vir ander tikwerk doen. Weet julle hoeveel twak moet ’n tikster opvreet van iemand wat iets laat tik, en oor die tikster se skouer hang? En hoeveel spelfoute moet die tikster regmaak wat die kliënt verkeerd gespel het – en dan nog oor kom stry.

Maar dis ’n era wat (met uitsonderings) verby is.

“Wat moet ’n mens doen om ʼn paar adamsvye vir ’n mens self te beredder?” vra ’n stadsjapie op Facebook. Die Herries se eerste druif van die jaar was pas ryp, en behalwe vir ’n paar half groen korrels het die res net so vir die voëls gegaan. Van die twee vyebome is lanklaas iets geoes.

’n Groot verskil van die tyd toe oom Herrie skottels vol vrugte vir die kinderhuis op Reddersburg kon aanry, en verlede jaar was dat die Herries nou al ’n paar jaar lank nie ʼn kat het nie. Die kat was min of meer heeldag op diens al het hy met sy wit bas op ʼn prieel gelê en dut. Die ander verskil is die verskriklike droogtes en kosskaarste. En natuurlik, as die bure nie meer vrugte spuit nie, kan jy in ’n stad spuit dat dit klap. Jy gaan min of meer niks oes nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

[email protected] ·

Pragtige nostalgiese stuk! Ek wonder nou hoeveel Suid-Afrikaners sal enigsins ‘n tikmasjien kan ontwerk en vervaardig? Die uitvinder van GladWrap verdien ‘n medalje en die Nobelprys!

Konsultant ·

As dit nie vir woordverwerkingsagteware was nie sou ek n totaal ander beroep gekies het.

Flip ·

Toe ek die mondelinge eksamen vir my skripsie gedoen het was die eerste vrae: “Wie het jou skripsie getik?” en “Sal sy vir my tikwerk doen?”

Goeie tiksters was in my tyd hoog aangeslaan.

In die departement waar ek gewerk het was die tikpoel, later die woordverwerkersentrum, nog later die data-invoersentrum en later niks, seker die mees toegewyde, produktiewe en gerespekteerde afdeling. Dit kon ook nie anders nie want die hooftikster het niks minder as perfeksie aanvaar nie.

Soos goeie joernaliste doen, moet ek my persoonlike belang verklaar. My Ma was ‘n tikster, ‘n baie goeie een. Jammer, professor, sy doen dit nie meer nie. Sy het my leer tik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.