Oom Herrie se kerrie: Trompie-speel in die kerkraad

Die Minister van Nasionale Opvoeding, J.P. van der Spuy besoek die Departement van Anatomie en prof. Toerien verduidelik aspekte van embriologiese ontwikkeling. Foto: Anatomy Journal of Africa via Wikimedia

“Trrrrr!”

Dis ’n lang en vermoeiende (kodetaal vir vervelige) kerkraadsvergadering. ’n Kerkraadslid het in sy verveeldheid die doppie van sy pen se pennetjie tussen sy tande vasgebyt, en dit laat vibreer. Die klank trek deur die hele kerkraad. ’n Paar broeders Kerkraad kyk gesteurd in die rigting van die “musikant” maar gaan andersins ongesteurd met die vergadering voort.
Dit was die dae voor vroue kerkraadslede.

“Trrrrr!” Die “musikant het sy “instrument” nou amper onder die knie, en die geluid is heelwat luider as flussies.

“TRRRRR!” Hy het dit nou vervolmaak.

Dis toe dat Pa-Jan, normaalweg ’n gelykmatige mens soos min, en iemand wat nie sommer kwaad geprovokeer word nie, opvlieg: “Op ’n punt van orde, eerwaarde voorsitter, is dit toelaatbaar dat iemand in die kerkraadsvergadering trompie speel?”

Die kerkraadslede breek hulle soos hulle lag oor die manier waarop Pa-Jan, van alle mense, die irritasie kortgeknip het. Die “trompie”-speler is egter duidelik smoorkwaad.

Die afgelope Saterdag was dit presies veertig jaar dat Pa-Jan na sy Hemelse Vader is. Hy het in die vliegtuig op die John F. Kennedy-lughawe inmekaar gesak en gesterf. Hy was maar 51 jaar oud, en was in daardie stadium president van die Wêreld-Anatomiese Verenging en op pad om kongresse in New York en Japan by te woon. Hy het kort tevore die Havengaprys vir Biologie by die SA Akademie ontvang.

ʼn Merkwaardige mens.

Oom Herrie was maar skaars mondig toe Pa-Jan oorlede is. Broer Nico en suster Martlie was nog jonger. In daardie kort jare moes ons Pa-Jan met die wêreld deel. ’n Lewe van twee doktorsgrade, as hoof van die departement van Anatomie by Kovsies, as iemand wat kort-kort kongresse gaan bywoon het, as iemand wat gereeld besoekers uit die buiteland ontvang het…

Die afgelope veertig jaar was Pa-Jan egter ons, en Ma-Johanna se eie. Die afgelope dekade is Ma egter weens demensie ook nie meer met ons nie. Pa se as agter die krematorium het te blootgestel geraak aan vandalisme en misdaad, en die kissie het ’n plek in oom Herrie se klerekas kom kry. Die kissie het egter begin disintegreer en ons outistiese jongste, het ’n keramiekvaas gemaak. Dié het verlede jaar ’n finale rusplek langs die paadjie gekry wat Pa-Jan van ons strandhuis na die see gemaak het.

Die afgelope veertig jaar wat ons Pa vir ons self gehad het, het geleentheid gebied om ’n rykheid van herinneringe te koester. Pa was ’n gebore Namakwalander, en tot sy dood, as daar ’n kring laggende mans gestaan het, kon mens maar weet Pa-Jan was in die middel ’n tipiese Namakwalandse storie aan’t vertelle. Wat oom Herrie kon onthou, is in die e-boek, Die Reine Waarheid en ander Liegstories opgeneem.

Maar Pa was nie ligsinnig nie. Saans aan tafel het hy tallose kere sy gesin tydens Boekevat aan die sing probeer kry. Veral na oom Herrie se stem gebreek het, was dit egter ’n moeitevolle taak, want sing was afgesien van Pa se talent, nou nie juis een van ons ander se sterk punt nie. Van diskant tot falsetto.

Ouma Lita, Pa se ma, was ’n bekende musikus en ’n hartslag van oom Piet le Roux se Boere-orkes. Pa se suster en broer het ook in die orkes gespeel, maar Pa het nooit ’n instrument (behalwe dalk ’n trompie) leer speel nie. Maar as daar ’n kerkkoor was, het Pa daarin gesing. Ook ander kore, soos Pieter vd Westhuizen se bekende kore wat die verskillende passies jaar na jaar in Stellenbosch uitgevoer het.

Pa was geen wintie nie – inteendeel. Sy eintlik ryding was ’n 1957-Volla. Jare lank het die ratte geskreeu na ’n verkeerde diagnose gemaak is. Toe die selfbewuste jong Herrie rybewys kry, het hy die karretjie altoos afgeskakel as hy die ryding in eerste rat gesit het, juis om die geskree soos ’n maer vark te voorkom. Oplaas neem Pa dit na ’n ander herstelwinkel, en teen 50c verkort hulle die koppelaarkabel.

Maar toe val een van die uitlaatpype een naweek af. Die karretjie klink soos ’n Porsche, en ons jonges kerjakker met die “Porsche” – KJA toe en waar alles heen. Te wintie. Maar daai Maandagoggend, toe die herstelplek oopmaak, wag Pa-Jan al lankal voor die deur. Hy ry g’n met ’n wintie-ding nie.

By geleentheid woon Pa-Jan ’n kongres in Pretoria by, en hy neem sy hele gesin saam en ons oornag in die Burgerspark-hotel. Maar toe die Volla gebêre moet word, weier die portier om met daai karretjie te ry. Pa moes maar mooitjies self die ryding gaan bêre.

Een dag het Pa-Jan iets vir die jonge Herrie gesê wat na spog kon klink as mens Pa nie geken het nie. Hy was vreeslik lief vir klassieke musiek, en het gesê na net drie note van enige stuk klassieke musiek, sal hy dit en die komponis herken. Maar vir die jonge Herrie was dit bloot ’n geval waar Pa-Jan ’n feit in privaatheid gestel het. Pa se liefde vir klassieke musiek sou hom egter ook by geleentheid ’n streep trek. Hy stuur ’n versoek in na die radio. By die SAUK raak die pos deurmekaar, en eendag, tydens Siembamba, word die stuk vir “maatjie Jannie Toerien” gespeel.

En so gekyk, was veertig jaar om Pa eintlik alleen vir ons te gehad het, bietjie min vir wat hy in ’n kort leeftyd na ons kant laat kom het.

Pa se sterfherinnering het op dieselfde dag gekom as wat oom Herrie hoopvol die laaste dosis van sy twaalf maande chemo-kursus gedrink het. En voor dit was daar ander behandelings. Is die eindstreep behaal? Maar dit blyk dat die eindstreep net ’n mylpaal geword het… nog geen sprake van remissie nie. Maar die goeie nuus is dat die dokter ook meen vergeleke met hoe oom Herrie se toestand twee jaar gelede was, oom Herrie besonder begenadig is en ryke begunstiging van die Here ontvang het. Die situasie is dat die kombinasie van die twee kankers wat die oom gekry het, uniek is, en nie in ’n goeie toestand was toe die kankers ontdek is nie… Behandeling was dus kompleks.

Pa-Jan se inskrywing op die Afrikaanse Wikipedia kan hier gelees word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Pragtig verwoord Herman. Baie sterkte vir jou op die pad. Mag die hoop en geloof nie verflou nie.

Johan ·

Herman, sterkte vir jou. Ongelukkig is dit nou maar so dat op jou ouderdom word mens mos nie meer gesond nie, jy word net beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.