Oom Herrie se kerrie: Uit die mond van die suigeling…

Argieffoto (Foto: Pezibear, Pixabay)

Die man het deurnag deur die Karoo bestuur, en toe die sonnetjie opkom, begin hy hom in die ry met sy batteryskeermes skeer. ’n Verkeersbeampte langs die pad kan weens die skemerte nie mooi sien nie, en dag die man praat oor sy selfoon.

Met loeiende sirenes het hy die motoris van die pad af, en wil net begin skryf. Die man beduie, skeermes steeds in die hand, dat hy besig was om te skeer.

Die verkeerskonstabel is nog ʼn groentjie, en krap kop. Hoe kan ’n selfoonpratery nou gevaarliker wees as om in die ry te skeer, veral as die truspieëltjie nog windskeef staan soos die man kort-kort sy vordering betrag het?

Hy klim op die radio, en vra hoe nou? Die manne aan die anderkant is nie lus vir tegnikaliteite nie, en sê hy moet die man waarsku oor beide hande nie op die stuurwiel was nie, en hy moet sy skeerwerk los vir die volgende stilhou.

Soos party mense nou maar maak as hulle baie verlig is, praat die man ook pure nonsens: “Nee man, by daai stop steek ek ʼn stywe dop.”

Die man se vrou, wat intussen wakker geword het, vergemaklik nie eintlik sake nie. “Moenie jou aan my man steur nie, generaal, hy praat altyd nonsens as hy ʼn paar doppe te veel in het.”

Met dié word die vierjarige seuntjie agter in die kar ook wakker. Hy loer oor na wat aangaan, en sien die uniform. Vir hom is alle uniforms nog polisie-uniforms, en hy gaan hartroerend aan die huil: “Ek het mos gesê ons gaan nie ver met die gesteelde kar kom nie.”

As klein kindjie het oom Herrie self ’n woordeskat gehad wat nie te versmaai was nie. Baie huise is om die Herries se huis gebou, en die bouers het baie woorde gebruik wat baie leersaam was. Maar naderhand was die bouery verby, en die jonge Herrie se ouers het nie lelike woorde geduld nie.

Maar daar was sekere ander woorde waarmee oom Herrie om die een of ander rede moeite had. Die Herries se ryding was ʼn DKW-stasiewa. Dié het oom Herrie ʼn “kasiewa” genoem. Ma sou probeer en sê: “Sê stasie.” “Stasie.” “Nou sê stasiewa.” “Kasiewa.”

’n “Walsvis” het darem gou ’n “walvis” geword.

Intussen het oom Herrie self pa geword, en ’n paar interessante ondervindings beleef. Ons jongste is outisties, en het maar bitter min spraak. Van TV-kyk het hy heelwat Engels onder die knie gekry. Eendag beduie hy van ’n “obisan”, maar dom pa en ma kan nie agterkom waaroor dit handel nie. Later gaan haal hy ’n prentjieboek, en dit blyk die “obisan” is ’n “officer” – ’n polisiebeampte.

Keintyd had hy dit ook by geleentheid oor ’n “twakie”. Ook hier was dom pa en ma in die duister. Hy gryp ’n kramdrukker en weggooipapier, en dit klik-klik net woes. Nie lank nie, blyk dit sy “twakie” is eintlik ’n drakie. Hy was nie ’n klein bietjie trots op dié “twakie” nie. Een aand ruk hy Twakie uitmekaar, en weer klik, klik dit soos die kramdrukker werk. En nie lank nie, sit ’n nuwe Twakie kiertsregop langs hom, net ’n ent groter as die kleinman. Sy ouma het Twakie later afgerokkel.

Ter wille van verstaanbare redes, gaan oom Herrie nie die identiteit van nog ’n bekkige kleinding verklap nie. Die kleinman se groot vrees in die lewe was die “pikkenwyne”. Snags moes die ganglig bly brand “want die pikkenwyne…”

Toe kuiermense na die stamboom van sy basterbrak vra, verduidelik hy die hond is eintlik ʼn “kruisiging”.

Hy sit by geleentheid in grootmensgeselskap aan tafel, en die grootmense probeer weens die onderwerp oor sy kop praat. Hulle het dit oor die dertienjariges wat by die Waterfront so kompetisie vir die goggas van die nag bied. “Ja,” val kleinman in, “’n mens noem hulle steekvlieë”.

’n Ander kleinman is woelig in die kerk. Omdat sy pa die dominee is, sit hy saam met mev. Dominee heel voor in die kerk. Keinman oorspeel naderhand sy geluk, en ma spring op, en met kleinman aan die hand mik sy vir die deur. Kleinman sien hier kom groot moeilikheid, en hy gryp die naaste bank vas. Ma ruk hom los, maar hy kry die volgende bank beet, waar ma hom weer losruk. So vorder ma en kleinman al spartelend tot by die laaste bank, en toe ma hom daar losruk, en vir die deur mik, weet kleinman nou is dit tyd vir noodmaatreëls. Met ’n huilstem skree hy luid die kerk in: “Bid vir my!”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Se maar net ·

Ag tog die dinge waarmee kinders vorendag kom. Heel goed vertel oom Herrie. Hou so aan.

Japie en Bettie Möller ·

Dankie vir die grappies, Herman, ons het dit baie geniet!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.