Oom Herrie se kerrie: Van halfpennies tot talente

Argieffoto (Foto: nattanan23, Pixabay)

Die Cheetahs se grootste gevaar in die Pro14-reeks, aldus berigte, sou ene Halfpenny wees. Nou ja, klein bedrae en selfs breuke, het oom Herrie lankal geleer is nie iets wat ’n mens kan vlak kyk nie. Kyk net hoe het Naspers geblom met ’n stewige hand op die Chinese firma Tencent. En wie sal nou Tiekie van die sirkus ooit vergeet?

Maar ’n halwe pennie, vir diegene wat oud genoeg is om te onthou, kon in ’n stadium vir ’n man twee Wilson-toffies lewer. Maar ’n man moes ’n yslike klomp tuinwerk doen en nog die kar was voor hy ’n halfpennie ryker geword het. En stringe drop het ook danksy ’n halfpennie van hande verwissel.

In matriek het ons manne, wat ná skool agtergebly het vir skyfskietoefening, ons trommeldik aan slaptjips met sout en asyn geëet wat ons ouers ’n hele tien sent uit die sak gejaag het.

Dan sê die Bybel ons moet ons talente benut. Baie predikante en selfs Bybelvertalings verkies om die woord “muntstukke” te gebruik, want talente kan nogal ’n probleem oplewer.

Deur die loop van die Bybelse geskiedenis het ’n talent twee inhoudelike betekenisse gehad, maar nou ook nie vreeslik baie verskil nie. Punt is, ’n talent was ’n yslike lot silwer en selfs goud. In Kronieke lees ons dat die Ammoniete hul strydwaens teen 33,7 ton silwer gehuur het – ’n aanduiding dat talente nie vlak gekyk moes word nie. In Babilonië was ’n talent net onder die 50 kg.

Ná die koms van die Romeine was die talent steeds ʼn enorme bedrag, en een gelykstaande aan 6 000 denarii. ’n Denarius (’n Griekse geldeenheid) was die normale bedrag wat aan ’n werker betaal is.

Nou kom die heer in die gelykenis se woede oor die kneg wat die paar talente wat aan hom toevertrou is, in perspektief. Dit was ’n enorme bedrag geld wat hy vir veilige bewaring gaan begraaf het. Deur dit eerder rente te laat verdien, kon daar al ’n aardige bedraggie geld by gewees het.

So ons dink ons het nie eintlik talente nie? Dus ook nie talente om ten bate van die Here in te span nie? Wat dan daarvan om in ons binnekamer te bid vir ’n saak? Of ʼn vriend wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het te gaan bystaan, of bloot gereeld by te gaan kuier. Eintlik het ons groot rykdom om te deel.

Ja, as ons ’n slag met ’n positiewe ingesteldheid gaan sit en konsentreer, gaan ons ontdek hoeveel talente ons het, en soos ons hulle inspan tot eer van die Here, hoeveel daar dalk nog iewers verskuil is.

Geen wonder baie predikante hou maar liefs by muntstukke nie. Sjoe, dink net hoe sou mense met vele talente moes kruiwastoot om talente, een-een van een plek na ʼn volgende te kan stoot.

Maar ons met minder talente, onthou maar dat die besit van talente wel ’n groot geskenk van die Here is, maar die eintlike geheim is die doeltreffende aanwending daarvan – al is dit nou ook die spreekwoordelike halfpennie wat met liefde aangewend word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kaufman ·

Baie inspirerend, ons het almal iets om te bied en die wereld ‘n beter plek te maak, al ks dit net die wereld van ons buurman, nefie, ou tannie in die kerk of waarookal jy kan bou.

Cornelia ·

U self deel soveel tonne talente in menige huis en hart met u moedige gees en humorryke gedagtewisseling oor u eie lyding wat u met sagte nuanses en uiters komiese vertelling oordra. Baie dankie vir u eie voorbeeld van kruiwaens wat oorlaai is met Tiekies, Pennies en Bybelse talente. U volharding in geloof is inspirerend en kosbaar.

bloues ·

Oom Herrie. Hier vat jy die waarheid en die les te leer in net ‘n paar paragrawe netjies en mooi vas. Iets wat predikante soms tot ‘n uur lank besig hou op die preekstoel.
Mooi so, ek hou daarvan. Sommer Baie

Ella ·

Herman, jou talent om dinge so uniek te verwoord, is kosbaar! Dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.